Hof sê eers later oor wynverkope

(Argieffoto: pixabay)

Vinpro se tussentydse aansoek om die verbod op wynverkope in die Wes-Kaap te laat ophef, sal nou eers aanstaande maand aangehoor word.

Die organisasie verteenwoordig byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en ander betrokkenes in die bedryf.

Vinpro het die dringende aansoek op 29 Junie ingedien, kort nadat pres. Cyril Ramaphosa ʼn hernieude en algehele verbod op die verkoop en vervoer van alkohol aangekondig het. Dit is Suid-Afrika se vyfde verbodsbepaling op drankverkope sedert die Covid-19-pandemie verlede jaar uitgebreek het.

Die beperkings het die bedryf op sy knieë gedwing.

Vinpro sê die regters wat die aansoek sou aanhoor het vroeër vandeesweek aangedui dat hulle nie in ʼn posisie gaan wees om die aansoek, wat vir Woensdag op die hofrol geplaas is, aan te hoor nie. Die regters is reeds aangewys om Vinpro se hoofaansoek, wat vir 23 tot 26 Augustus op die rol geplaas is, aan te hoor.

Geen ander regters was beskikbaar nie.

Die organisasie sê sy regspan het die regter-president dadelik op ʼn dringende grondslag genader sodat die tussentydse aansoek voor ʼn nuwe regter en op ʼn ander datum aangehoor kan word.

“Ons is uiters teleurgesteld deur die verloop van gebeure en is tans in dringende konsultasie met ons regspan oor die pad vorentoe,” het Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, Dinsdagaand gesê.

SAB het verlede week aangekondig dat hy “geen ander alternatief” het as om hom tot die hof te wend oor die nuwe verbod nie. Die maatskappy sê sy besluit om die hof te nader word gedoen om beleidsekerheid te kry en groter deursigtigheid in die toekomstige besluitnemingsproses oor die toekomstige volhoubaarheid van die onderneming en sy waardeketting te kry.

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika en die Biervereniging van Suid-Afrika het boonop hul steun aan dié saak toegesê.

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba), wat verskeie groot vervaardigers soos Distell, Heineken, Diageo, Pernod Ricard en DGB verteenwoordig, het Maandag die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gevra vir die uitstel van ʼn betaling van minstens R1,5 miljard se aksynsbelasting.

Salba sê die jongste verbod het hom geen ander keuse gelaat as om vir die uitstel te vra nie. Die organisasie vra ook dat, indien die regering besluit om die 14 dae lange verbod weer te verleng, die uitstel geld vir die hele tydperk tot die verbod opgehef word.

Sinbani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die bedryf gaan na raming R6,1 miljard verloor – ʼn verlies wat direk aan die verbod op verkope toegeskryf word. Dit is sowat 4,1% van geskatte verkope vir vanjaar. Die moontlike regstreekse verlies aan BBP gaan na verwagting R3,8 miljard beloop.

Aksynsbelasting op drank word by die produksiepunt gehef, wat beteken die bedryf moet die belasting betaal op voorraad wat in pakhuise staan, maar weens die verbod nie verkoop mag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Joggie ·

Soos die Ingelse sou sê: “Justice delayed is justice denied!”

marius ·

Aanstaande maand ? Hou op om die see te probeer leegskep met ‘n tee siffie . Hierdie mense het al lankal saam besluit dat geen regs proses ‘n impak gaan maak op hulle besluite nie . In afrika is daar net een regstelsel wat werk , en dit is die van die oerwoud . Punt .

Robert ·

Lyk my die regsbank is nou ook uitgekoop deur the NWO cabal.

Dirk Mostert ·

Nie so gou “dat jy dit sal agterkom nie”. (Bosveldhotel)

Tanniepetoors ·

Dis omdat daar so baie regsgeleerdes soos Dali Mpofu is, wat oor en oor dieselfde redenasie herhaal en die howe se tyd en hul kliënte se geld mors, wat die howe so oorvol is.

Andries ·

Rama bel die hoofregter en vra wie betaal sy salaris. Die Hoof bel weer sy onderlinge en vra wie betaal hul salaris. Waka en die proses word so lank as moontlik uitgestel. Korrupsie tot op die hoogste vlak.

Stofdonkie ·

Hulle moet die belasting betalings sommer weerhou tot hulle sake aangehoor is. Ek glo hulle kan die betalings intussen maar in ‘n prokureur se trustrekening gaan bêre eerder as om dit vir sars te gee. Slaan hulle waar dit seer maak, as al die wynboere en handelshuise net saamstaan en hulle belasting betalings weerhou gaan die regering vinnig luister as hulle op hulle knieë is en oo nie kan salarisse verdien nie

Kokerboom ·

Kan iemand ASB aan die kader regering die basiese beginsels van Ekonomie verduidelik!!!!

Henri ·

IN VINO VERITAS

Ek neem aan iemand in die regerende party ken ‘n bietjie Latyn en probeer só die waarheid oor al die korrupsie keer.

Dirk Mostert ·

Ons regstelsel se woordeboek bevat nie die woord “dringend” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.