Hof verwerp Christoff Becker se aansoek

'n Skermskoot uit die YouTube-video

‘n Skermskoot uit die YouTube-video

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-4, se dringende aansoek om weer op parool vrygelaat te word, van die hand gewys.

Regter Sulet Potteril het, nadat sy Becker en die departement van korrektiewe dienste (DKD) se argumente aangehoor het, gesê sy kan nie die aansoek as dringend beskou nie. “Die aansoek word van die rol geskrap,” het sy gesê.

Voor haar uitspraak het Gerrit Muller, Becker se regverteenwoordiger, aangevoer die saak is dringend omdat Becker se reg tot vryheid “willekeurig en ongeregverdig geskend is”. Hy het gesê twee lasbriewe vir Becker se herinhegtenisneming is in Februarie uitgereik en dat Becker onwettig aangehou word omdat hy sedertdien nog nie weer voor ʼn hof verskyn het nie.

Marumo Moerane, wat die aansoek namens die DKD teengestaan het, het gesê die departement is ontevrede waarom dit Becker so lank gevat het om die hof op ʼn dringende grondslag te nader. “Hy het selfs kort ná sy herinhegtenisneming ʼn oortreding begaan,” het Moerane gesê. Volgens hom is ʼn selfoon glo in Becker se sel opgespoor, wat in die gevangenis verbied word.

Becker en Frikkie Du Preez is weer op 16 Februarie in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal vrygestel is van waar hulle glo alkohol drink en ʼn selfoon in die Kgosi Mampuru-gevangenis (Pretoria Sentraal) gebruik. Die video is op YouTube gelaai.

Becker, Du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is vroeër in Februarie op parool vrygelaat nadat hulle in 2001 ʼn hawelose man in ʼn park in Pretoria doodgeslaan het.

Becker (27) het vroeër in hofdokumente aangevoer dat hy weens onsinnige redes weer in hegtenis geneem is. Lees meer hier. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.