Hoftyd gemors terwyl amptenare ledig rondsit – DA

Die Pretoria-landdroshof. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Hofpersoneel wat ledig rondsit of lank voor die einde van die amptelike werksdag huis toe gaan, is ʼn skreiende vermorsing van die hof se tyd, het die DA Maandag gesê.

Volgens Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en grondwetlike ontwikkeling, was talle kantore en hofsale leeg toe sy en Janho Engelbrecht, adjunk-woordvoerder oor dié sake, Vrydag ʼn oorsigbesoek by die Pretoriase landdros- en hooggeregshof afgelê het.

“Die fokus van die besoek was om die infrastruktuur van die hofstelsel en hoe die publiek met die regstelsel omgaan te evalueer en dan aanbevelings aan die minister van justisie te maak oor hoe dinge verbeter kan word,” het Breytenbach gesê.

Toe sy en Engelbrecht egter Vrydag om 10:30 by die landdroshof aankom, was omtrent net die skei- en onderhoudshowe glo nog besig.

“Hofpersoneel – ten minste dié wat ons kon opspoor – het aan ons verduidelik dat hulle op Vrydae 30 minute vroeg, om 8:30, begin en hul dag om 10:00 afsluit. Dit het gelyk of die meeste van die hofsale van die Pretoria-landdroshof dan vir die res van die dag leeg is. Vir die rekord is normale landdroshofure Maandae tot Vrydae, 09:00 tot 15:00, sonder uitsondering.”

Breytenbach sê die hooggeregshof in Pretoria was nie veel beter nie, met baie hofsale wat ook leeg gestaan ​​het.

“Dit is ʼn skreiende vermorsing van hoftyd in die lig van toenemende vertragings en agterstande in talle strafregtelike en siviele sake wat nog hangend is. Litigante wag soms maande, ander vir jare aaneen om hul sake af te handel.

“Hierdie leë howe kan maklik gebruik word om agterstande in te haal as daar net ʼn wil was om dit te doen.”

Volgens Breytenbach was die meeste van die hof se integrale openbare en prosedurele dienskantore, insluitend dié van die burgerlike belastingklerk, appèlontvangs, die kinderhofklerke en die onderhoudsklerk, almal leeg en toegesluit.

“Die vraag is waar op aarde is al die personeel?

“Boonop het geen van die toilette in die gebou toiletpapier nie, behalwe een toilet by die landdroshof. Baie is bloot as ‘buite werking’ gemerk. Vullis het in swart sakke in die gange gestaan en gevaarlike skoonmaakmiddels is in openbare ruimtes gelaat. In een kantoor was hofdossiere in totale wanorde, met geen sigbare liasseerstelsel nie. Ons kan net bespiegel hoe die lêers wat agter geslote deure is gestoor word,” het Breytenbach bygevoeg.

Sy meen die DA is daartoe verbind om te verseker dat elke hof in die land optimaal funksioneer en om openbare vertroue in die regstelsel te herstel.

“Die DA glo dat die howe begrotingsoutonomie moet hê, wat hulle in staat stel om die nodige infrastruktuurverbeterings aan te bring.”

Sy sê daar moet ook onmiddellik met die stelsel van kaderontplooiing weggedoen word om te verseker dat personeel – wat ʼn baie belangrike taak ten opsigte van die publiek het – op meriete aangestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Papsak ·

Dit is nou regtig n skreiende skande van die howe laat dale leeg staan nou maak dit sin hoekom ander sake ook sloer daar is niemand in of by howe nie pateties !!!!?

Marous ·

En hulle kry elke maand hul vol salarisse , medies , pensioen en behuisings voordele ! Wat ‘n skreinde skande !

Christine ·

Dit gaan oral so asook by die Dept van gesondheid en by lisensie kantore ek het dit persoonlik onder vind

Truth2bfree ·

Dankie DA, om die waarheid te ontbloot. Dit is al hoe dinge sal verander.

Cherokee ·

So, jý het hoop dat dit sal verander wanneer dit ‘ontbloot’ word.

Lettie ·

Dankie vir die besoek veral op ‘n Vrydag. Ons waardeer DA se diens.

Heila Isabella ·

Dit is nie net in die howe nie alle staats departemente en hospitale is hopeloos geen trots in hul werk of dienslewering nie

Debbie ·

Dit gaan te lekker by die hof want daar is geen supervisor of bestuurder wat oog hou nie. My seun wag al by die 2 jaar vir n egskeidings datum. Ek kan dit nie glo nie. Hy het 3x al n datum gekry en hof toe gegaan. Daar sit hy vir n paar ure, dan kom iemand daar aan en sê gaan huis toe die magistraat het nie kom werk nie of daar is loadshedding of die magistraat voel siek. Lekker nê. Maar dit kos hom elke keer om af te vat by die werk sonder betaling en vervoer van die Kaap na Vrystaat.

Martie ·

In alle staatsdepartemente gaan dit so, nie net Vrydae nie, elke dag. By Tygerberg hospitaal waar ek self jare gewerk het en ons soos kinders opgepas was oor laat kom, vroeg loop of toilet toe gaan het ek nou verskeie kere gesien dat mense kom en gaan soos hulle wil. As jy iemand soek 3 uur in die middag se die pasiënte hulle is al weg. Lekker nè.

Onnie ·

Ek is glad nie verbaas nie. Solank as wat die ANC regeer sal dit nie verander nie.

Karina ·

Ek stem saam met julle almal. Maar julle het ook vergeet, ten minste ‘n halfuur+ word afgestaan omdat hulle ver van die huis af werk, moet moet eers gou koffie drink en brêkvis eet voor hulle kan begin werk. Dan is dit al amper tyd om weer huis toe te gaan. Lekkerrrrr om so te “werk”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.