Hollywood: Voormalige Mej. VSA se memoires sien postuum die lig, Schumacher se horlosieversameling op veiling

Cheslie Kryst, voormalige Mej. VSA. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Mej. VSA se laaste wens

Die laaste wens van wyle voormalige Mej. VSA Cheslie Kryst was dat haar ma die memoires wat sy voor haar skielike dood in 2022 neergepen het, met die wêreld deel.

Dié wens is nou vervul met die publisering van By the Time You Read This: The Space between Cheslie’s Smile and Mental Illness – Her Story in Her Own Words, waarin die voormalige skoonheidskoningin, prokureur en televisiepersoonlikheid verklap dat sy weens haar stryd met depressie ʼn “onwrikbare gevoel dat ek nie behoort nie” saam met haar gedra het.

Cheslie (regs) en Zozibini Tunzi van Suid-Afrika. Hulle het ‘n woonstel gedeel nadat Tunzi as mej. Heelal aangewys is. (Foto: Instagram)

Maroela Media het vroeër berig dat sy oorlede is nadat sy in Januarie 2022 uit ʼn gebou van 60 verdiepings in New York getuimel het. Sy is op die toneel dood verklaar.

Kryst se ma, April Simpkins, het haar eie stem aan die einde van die boek bygevoeg en vertel hoe sy die verlies van haar dogter daagliks moet verwerk.

Alle opbrengste van die boek se verkope gaan aan die Cheslie C. Kryst-stigting, wat deur Simpkins gestig is en geestesgesondheidsprogramme vir die jeug en jong volwassenes ondersteun.

Kryst se dood het destyds die skoonheidswêreld geruk.

“Jy het alles vir so baie mense beteken. Jy het ʼn merk in hierdie wêreld gemaak en soveel lewens aangeraak. Ons vier jou lewe. Ek is so lief vir jou, jy is my ewige vriendin en vir altyd my Mej. VSA,” het Zozibini Tuni, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal, in ʼn roerende sosialemediaboodskap kort ná Kryst se dood geskryf.

Tydlose Schumacher-horlosies op veiling

Agt horlosies uit die versameling van die legendariese renjaer Michael Schumacher sal in Mei deur Christie’s-afslaers in Genève, Switserland, opgeveil word.

Onder dié horlosies is ʼn unieke F.P. Journe Vagabondage 1 Model van 2004 wat elk van Schumacher se F1-kampioenskapsoorwinnings herdenk. Die Scuderia Ferrari-spanhoof, Jean Todt, het dit destyds aan hom gegee.

Jean Todt en Michael Schumacher. Foto Filippo Monteforte/AFP.

Die pasgemaakte horlosie met platinumomhulsel bevat besonderse detail, insluitende die Ferrari-logo en Schumacher se kenmerkende helm.

Die horlosie is “waarskynlik die belangrikste Vagabondage F.P. Journe wat ooit gemaak is,” het Remi Guillemin, Christie se hoof van horlosies in Europa en die VSA, gesê.

Daar word verwag dat die versameling in totaal $4 miljoen (sowat R76 000 000) sal oplewer. Die geld sal glo gebruik word om Schumacher se behandeling te befonds.

Twee van Schumacher se spoghorlosies wat op veiling gaan. (Foto: Christie’s/Facebook)

Die 54-jarige het in 2013 ernstige hoofbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe en word sedert 2014 in ʼn herehuis in Switserland versorg.

Todt het destyds in die Britse media gesê hy is hartseer dat sy vriendskap met Schumacher nooit weer dieselfde sal wees nie. “Daar is net nie meer dieselfde kommunikasie as vantevore nie.”

Gewilde romantiese komedie nou 13 going on 20?

Bekendes van die 2004 trefferfliek 13 going on 30 het vandeesweek ʼn virtuele reünie gehou ter viering van die fliek se 20ste verjaarsdag.

“Twintig jaar! Ons is drie Babyboomers trotseer Zoom – want ons wil jou bedank,” het die fliek se hoofakteurs Jennifer Garner, Mark Ruffalo van Avengers-faam en Judy Greer in ʼn gesamentlike boodskap geskryf wat Dinsdag op Instagram geplaas is.

“Aan elke persoon wat saam met ons hierdie fliek liefgehad het: dankie. Ons sien jou, ons waardeer jou, en ons is lief vir jou!”

Garner vertolk die rol van tiener Jenna Rink, wat daarvan droom om volwasse te wees en, danksy ʼn bietjie towerkuns, die oggend ná haar 13de verjaarsdag wakker word as ʼn 30-jarige.

Die fliek het meer as $96 miljoen (sowat R1 825 miljoen) by die loket ingeoes en is destyds geprys vir sy nostalgie, humor en bemagtigende boodskap. Dit het deur die jare ʼn gunsteling onder liefhebbers van romantiese komedies gebly.

“Ek het nou die dag ʼn jong dogtertjie ontmoet ná een van die fliek se herdenkingsvertonings. Julle sal dit nie glo nie, haar ma het wraggies ‘Jenna’ genoem,” het Garner laggend tydens die Zoom-reünie vertel.

ʼn Distopiese Kalifornië? Nee, dis die Namib-woestyn daai!

Kykers van die Amazon Prime-reeks Fallout sal dalk iets bekends in dié reeks raaksien.

Fallout is gebaseer op ʼn gelyknamige videospeletjie en speel af in ʼn futuristiese tydperk ná ʼn fiktiewe wêreldoorlog.

Die verlate spookdorp Klomanskop in Namibië word in dié reeks gebruik om ʼn dorre, distopiese Kalifornië in die VSA te verteenwoordig.

Terwyl Fallout in New Jersey, New York en Utah verfilm is, het die produksie ook in 2022 na die Namib-duine gereis om langs Namibië se Skedelkus en Kolmanskop te verfilm.

“Dit was ʼn unieke ervaring vir ons. Ek het nog nooit iewers so afgeleë geskiet nie. Dit is ʼn ongelooflike mooi en vreemde plek,” het die reeks se regisseur, Jonathan Nolan, destyds aan Brittanje se Evening Standard-koerant gesê.

Ander internasionale rolprente soos Mad Max: Fury Road, The King is Alive en Dust Devil is ook daar verfilm.

Bronne: Entertainment Weekly, People, Harper’s Bazaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.