Honderde diere wees nog vóór Kersfees

(Foto: Helena Lopes/Pexels)

Dit is weer daardie gevreesde tyd van die jaar dat diereklinieke en diereskuilings in aanloop tot die feesseisoen oorval word met hawelose troeteldiere.

Diereskuilings het boonop deur die jaar ʼn toeloop gesien van mense wat hul diere agtergelaat en nooit weer opgeëis het nie.

Cilla Trexler, eienaar van Wollies Animal Project, ʼn dierewelsynsorganisasie in die noorde van Pretoria, sê hulle ontvang elke maand tientalle verlore katte. Die syfer het die eerste vier maande van die jaar die 100-merk verbygesteek. Tog is slegs ses katte vanjaar opgeëis.

Wat honde betref word sowat ’n derde wat inkom, eindelik opgeëis. Trexler sê dit is baie selde dat ’n verlore hond of kat deur hul eienaar opgeëis word.

Sy verwag boonop dat dié syfer in Desember die hoogte gaan inskiet.

“Die feestyd is vir die meeste mense ’n gelukkige tyd, maar vir ons is dit die moeilikste tyd van die jaar,” vertel Marcelle du Plessis, woordvoerder van Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap.

Dié dierekliniek is ʼn nie-winsgewende veeartsenykundige kliniek en kan slegs 15 honde huisves aangesien dit nie spesifiek as ’n skuiling dien nie. Tog moes die kliniek ná die eerste week van Desember reeds bontstaan om na 24 volwasse honde en tien jong hondjies om te sien.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Ons is reeds oor ons kapasiteit en moes mense begin wegwys,” sê Du Plessis.

Reinet Meyer, ʼn senior inspekteur by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, sê al meer eienaars kan vanjaar bloot nie meer bekostig om na hul troeteldiere om te sien nie.

Volgens Meyer is baie mense hul werk kwyt weens nagevolge van die Covid-19-pandemie of moes verhuis en is genoop om hul diere in die DBV se sorg te laat.

Meyer sê die Bloemfontein-tak dek ’n groot streek in die Vrystaat en het vanjaar gemiddeld tussen 400 tot 500 diere per maand ingeneem. Dié syfer styg egter oor Desembermaande tot tussen 700 en 800 troeteldiere.

Die troeteldiere word ná vyf dae by die DBV vir aanneming beskikbaar gestel indien hulle nie opgeëis word nie. Verlore diere word egter meer gereeld opgeëis. Sowat 80% van diere wat by dié tak ingehandig word nadat hulle op straat gekry is, se eienaars kom haal hulle weer.

Wat die Kerstyd betref, beleef personeel van die Mdzananda-dierekliniek dat die troeteldiereienaars in hul omgewing tussen November en Februarie na die Oos-Kaap stroom vir vakansie. Baie van die eienaars weet dan nie wat om met hul troeteldiere te maak nie en laai hulle bloot by die kliniek af.

“Sommige [diere] word selfs saans oor ons mure gegooi. Dit is beter dat hulle eerder by ons is as in die strate, maar aangesien ons nie ʼn groot skuiling is nie, plaas dit uiters baie druk op ons personeel, spasie en hulpbronne,” sê Du Plessis.

Trexler sê sommige eienaars van troeteldiere het nie die moed om aan te meld nie en laat bloot hul troeteldiere op die skuiling se perseel voordat hulle wegry.

Dan is daar ook eienaars wat nie oop kaarte speel nie en hulle as vreemdelinge voordoen wat kwansuis ’n hond of kat opgetel het en dit by die organisasie aflaai.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ook Wollies beleef reeds ’n toename in hawelose diere in die aanloop tot Kersfees.

Trexler sê dit is omdat baie eienaars dit nie vanjaar kan bekostig om hul diere na ’n hondeherberg te stuur terwyl hulle met vakansie gaan nie. Verskeie van dié diere word tans by die skuiling versorg met die hoop dat hulle eienaars hulle in Januarie weer kom oplaai.

Wollies is juis bekommerd oor die aantal verlore diere wat deur die jaar afgelaai word en nooit opgeëis word nie.

“Dit is hartverskeurend wanneer hulle mense hulle nie kom haal nie. Van hulle cope glad nie. Jy kan sommer sien hulle verlang na hul mense. Sommige verloor selfs gewig, só treur hulle oor hul eienaars. Hulle is ook geneig om siek te word omdat hulle immuunstelsel swak is en hulle verlang,” vertel Trexler.

Heidi May, algemene bestuurder by die Mdzananda-dierekliniek, sê die honde waarna hulle omsien is gewoonlik nie baie aantreklik nie. “Daar is baie Africanis- en bruin, korthaar honde maar nie die oulike en donsige klein rasse wat vinnig huise kry nie.”

Die kliniek ervaar ook dat honde wat swart van kleur is, ook nie maklik aangeneem word nie.

Dit kos dié kliniek sowat R1 500 om ʼn verlate troeteldier tydens sy of haar eerste maand by hulle te versorg aangesien hulle onder meer ingeënt en gesteriliseer moet word.

Wollies sukkel ook om kop bo water te hou midde die Covid-19-pandemie. Hoewel die skuiling deesdae meer besoeke en vrywilligers kry, ontvang hy minder skenkings en bydraes.

Vir albei organisasies en die honderde ander troeteldierskuilings in Suid-Afrika is die grootste nood om geld in te samel om die bedryfskoste te dek.

Klik op Wollies en Mdzananda se skakels indien jy ’n helpende hand wil bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.