Nie minder nie as 563 politieke partye is tans amptelik in Suid-Afrika geregistreer en het dus die reg om aan verkiesings deel te neem.
Dit blyk uit die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se jaarverslag wat pas by die parlement ingedien is.
Dit lyk ook nie asof Suid-Afrikaners se geneigdheid of behoefte om nuwe politieke partye te stig, aan die afneem is nie. Die afgelope jaar is 26 nuwe partye suksesvol geregistreer en nog 22 is tans in die proses om geregistreer te word.
Dit beteken nie noodwendig dat daar honderde partye volgende jaar op die stembrief gaan wees nie, want om aan die verkiesing deel te neem, moet partye bykomend en spesifiek vir die verkiesing ook registreer en ʼn relatief klein registrasiefooi betaal.
Daar is lande waar die stembrief ʼn hele boekie vol partye bevat, maar dit was ons tot dusver in Suid-Afrika gespaar. Tans is daar 13 partye wat in die parlement verteenwoordig word en geen Suid-Afrikaanse stembrief was al ooit meer as ʼn bladsy lank nie.
Boonop stem die meeste Suid-Afrikaners maar vir die hoofpartye – in 2014 is byna 92% van die stemme uitgebring vir die ANC, DA of EFF. Net ses politieke partye – die ANC, DA, EFF, IVP, NFP en UDM – kon in 2016 elk meer as 1% van die stemme landwyd trek.
Boonop is daar baie van die geregistreerde partye wat net in ʼn bepaalde munisipaliteit funksioneer, soos belastingbetalersverenigings en burgerlike organisasies.
Registrasie om op volgende jaar se nasionale en nege provinsiale stembriewe te verskyn het nog nie geopen nie en die OVK het nog nie ʼn afsnydatum vir registrasies bepaal nie.
Daar is tans sowat 26 miljoen geregistreerde kiesers in die land.
Die verwagting is dat volgende jaar se verkiesing iewers tussen April en Augustus sal plaasvind. Die datum word bepaal deur pres. Cyril Ramaphosa in konsultasie met die OVK.
Goed om te weet dat die reenboog nasie so pragtig verenig is ….
Ek hoop die VF+ klap die jaar daai 1%.
Is jy werkloos? Stig n politieke party. ha-ha
Tientalle politieke partye is ook toevallig die kenmerk van derde wêreld lande, as jy die stembrief voor jou gesig hou hang dit op jou voete…