‘Hospitale nie speelterrein vir kriminele’

Die Carolina-hospitaal is op 17 Junie deur gewapende mans geteiken (Foto: Verskaf)

“Hospitale is nie speelterrein vir kriminele nie.”

Só sê Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, ná ʼn aanval op ʼn kliniek Sondagoggend waartydens ʼn ambulansbestuurder beseer is en die ambulans gekaap is.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, het ʼn onbekende groep mans ʼn vuurwapen op ʼn sekuriteitswag by die ingang van die Pholansikazi-gemeenskapsgesondheidsentrum in Mbombela gerig.

“Die mans het drie skote op ʼn ambulansbestuurder afgevuur voordat hulle die ambulans gekaap het,” bevestig Mmusi. “Die bestuurder het ligte beserings opgedoen en het mediese behandeling ontvang.”

Die departement het ʼn sekuriteitstaakspan – wat hy gekontrakteer het – na die toneel ontbied, wat die gekaapte ambulans agterna gesit het. Die ambulans is sowat twee kilometer van die kliniek teruggekry.

Dié aanval volg ʼn week nadat ʼn groep gewapende mans op die Carolina-hospitaal toegeslaan en personeel beroof het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep mans het verlede Saterdag omstreeks 01:00 die hospitaal se personeel en pasiënte geterroriseer asook die mediese toerusting en meubels in die ongevalle-eenheid beskadig.

Volgens Mmusi is dié groep mans hospitaal toe geneem nadat ʼn geveg tussen die plaaslike taverne-eienaar en sy klante uitgebreek het. Die groep mans, wat deel was van ʼn bende, het na bewering die taverne-eienaar aangeval.

“Die polisie is na die taverne ontbied en ʼn skietgeveg het gevolg. Die beseerdes is daarna na die Carolina-hospitaal geneem. Die persoon wat die beseerdes hospitaal toe geneem het, het aan sy beserings bewyk, waarna die groep die hospitaal begin vandaliseer en die personeel aangeval en beroof het.”

Veiligheid en sekuriteit is ná hierdie voorval by die hospitaal opgeskerp.

Volgens Shongwe mag die barbaarse en hartelose gedrag teenoor gesondheidswerkers nie geduld word nie.

“Om net die voorvalle te veroordeel is nie genoeg is nie en die regering sal voortgaan om harder te werk om enige veiligheidsbedreigings by hierdie fasiliteite te identifiseer, met die oog daarop om voortdurend bedreigings uit te skakel,” sê Shongwe.

“Die departement sal voortgaan om met gekontrakteerde sekuriteitsdiensverskaffers en ander relevante belanghebbendes in gesprek te tree om beter maniere te vind om hospitale en klinieke te beskerm.”

Shongwe doen verder ʼn beroep op gemeenskappe om die regering by te staan in sy pogings om hierdie fasiliteite en praktisyns te beskerm. Hy sê hierdie instellings bestaan uitsluitlik om te verseker dat gemeenskappe toegang tot gesondheidsdienste het.

“Terwyl ons onverpoos werk om gesondheidsorgfasiliteite en personeel te beveilig, het ons ook gemeenskappe nodig om te help deur enige verdagte aktiwiteite of mense by die polisie aan te meld. Die aanvalle op hierdie fasiliteite en personeel is die ergste vorm van wetteloosheid. Daarom moet gemeenskappe saam met ons werk en kwaaddoeners ontbloot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Miena ·

Dit is jammer dat n plek van aansterking en gesondword deur boosdoeners geteiken word.

Trotse Boervrou ·

Dit is nou wanneer ‘n pragtige, goed versorgde land op ‘n skinkbord oorhandig word aan ‘n …..
Voltooi julle maar eerder my sin asb.

Di ·

Kriminele het die land oorgeneem en die korrupte Regering swyg soos die graf. Hulle te besig om al hulle korrupsie te probeer toesmeer en het GEEN idee hoe om ‘n land te regeer nie.

Linda ·

Alles word altyd na die tyd opgeskerp. hoekom nie voor die tyd nie.SAP slaap

Kokerboom ·

Die ANC het die boewe kultuur geskep en gekondoneer! Nou kan en wil hul dit nie beheer en verwag ‘n verkiesingswen!Iets wat hul gaan kry want hul het massas diep afhanklik van hul gemaak deur “grants” en beloftes!!!

Elmarie ·

Praat, praat, praat… Ons soek doen, doen, doen! Siek vir al die “veroordeling” en waarskuwings – DOEN IETS aan die spul!

Miskruier ·

Die NHI gaan al die probleme oplos, niemand sal meer hospitaal toe gaan nie.

Perdeby ·

Die kriminele is in beheer nie julle nie, so hulle kan speel waar hulle wil, want julle laat dit toe

marius ·

Die land is ‘n hool en daar sal niks verander nie. Kriminele heers. Dis die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.