Huise in Vishoek-brand verwoes

Jordan Sarkis en sy vrou het pas in hul huis ingetrek (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

Deur Steve Kretzmann vir GroundUp

ʼn 28-jarige man is in hegtenis geneem in verband met ʼn brand Sondag wat vier huise verwoes en grootskaalse skade aan minstens vier ander in Vishoek, Kaapstad, aangerig het.

Lt.kol. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê die man, wat in die omgewing van die brand opgespoor is, is in hegtenis geneem op aanklag van brandstigting. Hy sal binnekort in die landdroshof verskyn.

Inwoner Jordan Sarkis het Maandag in die puin gestaan van ʼn eenslaapkamer huis wat oor Valsbaai uitkyk. Hy en sy vrou het vier maande gelede dié huis gekoop. ʼn Versekeringsassessor het aantekeninge gemaak.

Sarkis se huis was die eerste huis wat geraak is deur die brand wat omstreeks 12:00 uitgebreek het, ure voor die verwagte reën uitgesak het.

Die 30-jarige Sarkis, wat ʼn mikro-finansies-familieonderneming bedryf, het in Desember die huis net bo Mainweg gekoop. Die huis is opgeknap voor die paartjie in Februarie getrou het. Hy en sy vrou het net ná hul wittebrood van Johannesburg na Vishoek verhuis.

“[Die brand] het so vinnig versprei,” het hy gesê. “Ons het net ons goed gegryp.”

Vier huise is Sondag verwoes in die brand in Vishoek, net onder Elsies Peak (Foto: Steve Kretzmann)

Alhoewel Sarkis se huis se mure nog staan, is ʼn houthuis in die fynbos tussen Mainweg en Echoweg heeltemal verwoes. Slegs metaal, verskroeide klere en boeke is tekens dat daar ʼn huis was. Die eienaar, wat nie versekering het nie, wou nie sy naam noem of kommentaar lewer nie.

Baksteenhuise teen die berg in Echoweg het grootskaalse skade opgedoen. Dave Beneke, wat die onderste deel van drie verdiepings verloor het, het sy dak met ʼn tuinslang staan en spuit toe die brand genader het. Toe sy hemp begin smelt het, het hy in die huis in gehardloop. Meeste inwoners is ontruim, maar hy het gesê die brandweer het opgedaag toe sy onderste verdieping begin brand het, en hy het geweet hy sal reg wees.

Hy het die brandbestryders geloof en gesê, ondanks die sowat R1 miljoen-skade aan sy eiendom, is hy gelukkig: “Ek leef nog.”

Dié klip- en grasdakhuis is verwoes in Sondag se brand (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

Rook het teen Maandagoggend nog steeds uit verkoolde stompe geborrel, ondanks reën deurnag.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer, het gesê Kaapstad se brand- en reddingsdiens is “Sondag net ná 12:00 in kennis gestel van ʼn brand in Glencairn, naby die hoofpad”.

Meer as 20 brandbestrydingshulpbronne, insluitend spanne van Tafelberg- nasionale park en Volunteer Wildfire Services, het gereageer op die brand wat deur stormsterkte wind aangevuur is.

Personeel het twee vroue uit hul huis ontruim “net toe dit ineengesak het”, het Carelse bygevoeg.

Een van die huise in Vishoek wat in Sondag se brand verwoes is (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

ʼn Betonmas, wat oorhoofse spoorlyne ondersteun, het ook in Vishoek omgewaai. Alle treine op die suidelike lyn is Maandag gekanselleer.

Zinobulali Mihi, woordvoerder van Metrorail, het in ʼn verklaring gesê herstelwerk kan nie plaasvind terwyl die sterk wind voortduur nie. Teen 13:00 is geen poging nog aangewend om die spantoring van die spoor te verskuif nie en geen Prasa-werkers was in sig nie toe GroundUp die perseel besoek het nie. Mihi het gesê Prasa-toerusting by Stellenbosch is ook Sondag deur die storm beskadig.

ʼn Betonmas het Sondag naby Vishoek-treinstasie omgewaai (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Helena ·

Wat besiel iemand om so sadisties op te te tree?
Ag ek is sooooo jammer vir Jul almal!!

Martie ·

Gaan jare duur om die mas van die spoorlyn te verwyder. Prasa is gedaan.
.

Frank ·

Tien teen een ‘n Bergie wat al 20 keer in die tronk was. En net die klere aan sy lyf besit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.