Huise verwoes in Somerset-Wes-brand

(Foto: Drakenstein Farm Watch/Facebook)

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste, gekontrakteerde grondspanne en ondersteuningspersoneel van CapeNature en die Wynland-FPA, is Sondagmiddag steeds besig om die brand wat Woensdag op die Lourensford-landgoed ontstaan ​​het, te bestry.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die distriksmunisipaliteit, sê daar is tans agt brandbestrydingsvoertuie wat deur 16 brandbestryders beman is. Hulle word ​​deur 40 grondspanlede van die KWDM se gekontrakteerde dienste en ‘n verdere span van 10 grondspanlede van CapeNature bygestaan. Lugondersteuning is op die toneel en sal voortgaan solank weerstoestande en daglig dit toelaat.

“Die brandweerspanne het die grootste deel van die dag die brandlyn wat die plase bedreig aktief bestry. Grondspanne het daarin geslaag om verliese op die plase, Mt Fleur en Uva Mira te verhoed.  Daar is tans geen bedreiging aan eiendom nie,” het Otto gesê.

Die brandlyn word tans deur die wind weg van strukture en eiendomme gewaai, maar branddienste en grondspanne sal deur nag voortgaan met aktiewe brandbestrydingsaktiwiteite, totdat die reën verdere aktiwiteite verhoed.

Verskeie huise in Silverboomkloofweg in Spanish Farm, is Saterdagaand verwoes in die brand. Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê twee brandbestryders is ook Saterdag gehospitaliseer.

ʼn Brandbestrydingspan van Drakenstein Farm Watch het met hul spesiale 4×4-brandweerwaens Saterdagaand deurnag ook hand bygesit. Hulle is ontbied om ʼn privaat huiseienaar te help wat besorg was dat nog eiendomme in gedrang is. “Die DFW-span het seker gemaak dat die geskiedkundige grasdak-geboue in privaat besit teen die brand beskerm word,” het Daan van Leeuwen Boomkamp, algemene bevelvoerder van die DFW brand- en reddingspan, in ʼn verklaring gesê. “Die optrede was suksesvol vir die privaat kliënte, aangesien ons rondom kon sien hoe die vlamme nabygeleë luukse huise in puin lê.”

DFW sê die brandlyn was net te lank vir owerhede om alles te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.