Huisrooftog lei glo tot man se hartaanval

Argieffoto (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

ʼn Inwoner van Ladysmith in KwaZulu-Natal is aan ʼn hartaanval dood nadat hy tydens ʼn inbraak by sy huis aangerand is.

Volgens die polisie is die man 61 jaar oud. Sy naam is nie bekend nie.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die polisie ʼn saak van huisroof ondersoek.

Volgens Netshiunda was die man en sy familielede besig om te braai toe drie verdagtes die huis in Lucknowweg in Acaciaville betree het.

Hulle het die man met ʼn vuurwapen aangerand en die sleutels vir die kluis geëis.

“Die verdagtes het die familielede van hul selfone beroof asook ʼn onbekende bedrag geld.”

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê lede van dié nooddiens het Sondag kort ná 21:00 op die toneel aangekom waar ʼn familielid reeds besig was om noodhulp op die man toe te pas.

“Paramedici het met mond-tot-mond-asemhaling voortgegaan, maar ondanks alle pogings is die man kort daarna dood verklaar,” het sy gesê.

“Vier ander familielede is vir geringe beserings en skok op die toneel behandel.”

Die polisie sê ʼn nadoodse ondersoek sal die rigting van die ondersoek bepaal.

  • Hierdie berig is gewysig sedert publikasie. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jr ·

Skies bbe kolonel, miskien hoor ek verkeerd – ondersoek huisbraak? Wat van MOORD.

Danie ·

Kriminele sal nou wegkom met moord en geen saak klaer oorlede.

Marcello ·

Wat se nonsens is dit dat die Polisie ‘n saak van huisroof ondersoek, dit is poging tot moord, wat dan nou verander het in Moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.