Hulde gebring aan oudgenl. Constand Viljoen

Oudgenl. Constand Viljoen.

Pres. Cyril Ramaphosa, die VF Plus en die DA het hulde gebring aan genl. Constand Viljoen nadat hy Vrydag in die ouderdom van 86 jaar op sy plaas naby Ohrigstad oorlede is.

Viljoen was die voormalige hoof van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag en stigtersleier van die destydse Vryheidsfront.

Pres. Ramaphosa het sy medelye betuig met Viljoen se weduwee, Risti, en sy ander onmiddellike familie, sy vriende en kennisse.

Volgens Ramaphosa sal Viljoen onthou word vir sy invloed op konserwatiewe bewegings om hul planne vir militêre weerstand teen die demokratiese oorgang te laat vaar.

“Hy het vervreemding deur sy gemeenskap en jarelange ondersteuners gewaag deur konserwatiewe groeperinge te mobiliseer om deel te neem aan die politieke en grondwetlike onderhandelinge wat ons demokratiese bedeling opgelewer het.

“Sy oorgang van ’n militêre bevelvoerder na ’n stem in ons demokratiese parlement illustreer die inklusiewe, diverse en verdraagsame karakter van ons grondwetlike bedeling en politiek.”

John Steenhuisen, DA-leier, het ook sy medelye met Viljoen se geliefdes betuig. “Viljoen het ’n integrale rol gespeel in die ontlonting van die moontlike bedreiging van gewapende geweld voor die eerste demokratiese verkiesing van ons land in 1994 en het ook op die politieke terrein diep spore getrap as een van die medestigters van die Vryheidsfront.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê Viljoen het groot en diep spore gelaat in die geskiedenis van Suid-Afrika. “Hy sal altyd om twee redes onthou word: As ʼn uitmuntende soldaat en as ʼn politikus wat ʼn besondere rol gespeel het in die politieke oorgangstydperk vanaf 1994.”

Volgens Groenewald is Viljoen as soldaat wyd gerespekteer. “Hy was ʼn militêre leier wat geglo het ʼn generaal lei van voor en nie van agter nie. Hy het soms kritiek gekry daarvoor, maar hy het gewis die respek en waardering van sy soldate op grondvlak gehad vir daardie benadering.”

Sy prestasies as militaris is daar vir almal om van kennis te neem, meen Groenewald. “Dit is welbekend dat hy ʼn uiters suksesvolle generaal was in die weermag.

“As politikus het hy ʼn leidende rol gespeel vir die politieke oorgang en om te verseker dat daar stabiliteit was in Suid-Afrika gedurende daardie oorgangstydperk.”

Volgens Groenewald het Viljoen as politikus baie probeer om sy militêre benadering toe te pas. En is dit positief en negatief ervaar. “Positief omdat sy beplanning, sy strategie en uitvoering van politieke denke beslis baie waardevol was, maar soms het hy ook gesukkel weens sy rigiede militêre styl.

“Op persoonlike vlak het ek soms vir hom gesê dat almal in die weermag onmiddellik moet reageer en op aandag spring wanneer ʼn generaal ʼn opdrag gee. In die politiek kan jy ongelukkig nie ʼn bevel gee nie, jy kan net ʼn versoek rig.”

Vir genl. Viljoen was Afrikaner-eenheid baie belangrik en in die politiek het hy so probeer optree om Afrikaner-eenheid te bevorder, al was dit nie altyd maklik nie. “Daar was diegene, veral vanuit Afrikaner-geledere, wat hom oor sy benadering gekritiseer het, en dit was nie altyd geregverdig nie.

“As gesinsmens was sy familie vir hom baie belangrik en hy het altyd soos ʼn ware heer opgetree teenoor alle mense met wie hy in aanraking was.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jan ·

Hy en sy roer abraham het maar lekker agter di skerms saam met anc gekonkel…

Gawie ·

Jan, dis maklik om klippe te gooi as jy agter jou rekenaar wegkruip. Bring eerder die bewyse, dan luister ons dalk na wat jy te sê het.

JC Venter ·

Generaal, rus sag. Dankie dat jy op ons pad gekom het, maar ek moet bieg, ek het net die DA en die VF Plus se huldeblyke gelees.

JC Venter ·

Dankie Mnr Ramaphosa vir jou huldeblyk aan een van dié grotes in die land. Maar dan het jy die geleentheid om binne twee dae weer ‘n huldeblyk te bring en dit is aan Jan van Riebeeck wat op 6 April 1652 in Tafelbaai voet aan wal gesit het en die eerste kolonie in die Kaap gestig het. En dan het jy weer ‘n geleentheid om einde vanjaar aan nog ‘n groot held in die Afrikaner se geskiedenis hulde te bring, en dit is op 16 Desember aan Piet Retief.

Michael 1 ·

Hy was n leier vir regte Afrikaners en ek sou enige dag saam met hom na n oorlog toe gaan ,n sterk leier,die laaste een wat ons gehad het ,en nou is ons leierloos.

Kobus ·

Wat ‘n militaris en ‘n soldaat.Altyd voor en met goeie voorbeeld.Was bevoorreg om eenkeer pad met hom te kruis.Nie ‘n goeie politikus nie………..hoekom nie? Hy was ‘n voorstander van etiek en het uitstekende waardes gehad.
Saluut!

Belisarius ·

Saluut Generaal. Jy en jou tydgenote het in ‘n tyd toe die Koue Oorlog politieke beweging gevries het, die destydse Kommunistiese Wolf vir twee geslagte van die deur af gehou. Die feit dat dit nie vandag erken word nie, sê meer van die wolfagtige politieke grondslae van die huidige heersers as van die waarheid. As die ANC van 1960 die land destyds oorgeneem het, het SA daardie tyd al die pad van al die ander Marxistiese mislukkings geloop.

Gawie ·

Ek het as dienspilgtige in 81 gereeld geryloop tussen Bloemfontein en Pretoria vir naweekpas met my ‘Ry Veilig’ band oor die skouer. Iewers tussen Johannesburg en Pretoria het my laaste geleentheid my afgelaai. Daar stop ‘n Mercedes en ‘n man laai my op – baie vriendelik. Totdat ek sien hy het uniform aan en vreeslik baie spykers op sy skouers (vir ‘n troepie was enigiets meer as ‘n sterretjie op ‘n uniform se skouer ‘n teken van baie belangrikheid). Met my troepiekennis van range begin ek die spykers tel, en kom agter hierdie is ‘n generalerige man, en nie sommer enige generaal nie, hy is dié generaal! Ek kon sy naamplaatjie beloer, en wraggies, dit was niemand anders as Genl Constand Viljoen nie!
Die beste van alles was dat hy my soos ‘n gewone mens laat voel het, Hy het uitgevra oor my opleiding en oor my ouers, en het werklik belanggestel. Hy was oppad Voortrekkerhoogte toe, maar het uit sy pad gegaan en my voor my ouers se huis in Wonderboom-Suid gaan aflaai.
Saluut Generaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.