Immigrasiebeampte vas wat glo omkoopgeld eis

(Argieffoto)

Talle aanklagte staar ʼn immigrasiebeampte by die departement van binnelandse sake se kantoor in Postmasburg in die Noord-Kaap in die gesig omdat hy glo omkoopgeld van onwettige immigrante geëis het.

Die Valke het Thapelo Mogashoa (36) Woensdag in hegtenis geneem. Hy word daarvan beskuldig dat hy onder meer omkoopgeld by immigrante geëis het nadat hulle aangekeer is, in ruil vir hul vrylating voordat hulle gedeporteer sou word.

Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, sê ʼn buitelander – die klaer – is in Junie 2019 saam met ander onwettige immigrante in hegtenis geneem weens beweerde probleme met hul verblyfdokumente.

Die klaer is later vrygelaat nadat daar vasgestel is dat hy wel wettig in die land is.

Die ander onwettige immigrante het in aanhouding gebly hangende ʼn uitspraak van die landdroshof op Postmasburg. Die buitelanders is eindelik met R600 beboet en sou, nadat hulle die boete betaal het, gedeporteer word tensy hulle hul dokumente in orde kry.

Mogashoa het na bewering van die geleentheid gebruik gemaak om R7 500 van twee immigrante te eis in ruil vir hul vrylating voordat hulle gedeporteer sou word.

“Hy het glo ook ʼn werkgewer van die klaer genader, hom daarvan beskuldig dat hy geld aan die werker skuld en gedreig om hom in hegtenis te neem. Die werkgewer het die bewerings ontken waarna die verdagte R3 000 by hom geëis het om sy voertuig te herstel,” sê Mnisi.

Die saak is by die Valke aangemeld en Mogashoa is gister in hegtenis geneem. Mogashoa het intussen reeds vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn waar hy op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Die saak is uitgestel tot 5 Maart vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Hy eis R7500.00 + R3000.00 maar borg is slegsR1000.00
Misdaad floreer in SA

Michelle ·

Junie 2019. Saak kom nou eers voor??? Watter verskoning is daar vir hierdie onbeholpenheid?

Casper ·

Ja ou Sakkie,”that is hou the cookie crumbles”.Na 37 jaar as immigrasiebeampte het ek met pension afgetrek.Maklik was dit nie.Versoekinge het op my pad gekom maar my gewete is na al die jare skoon.Ek was selfs op ‘n “hitlist” van die mafia wat geld maak uit hierdie mense uit.My ondersoeke het een van die skuim na my kantoor gelok.Nodeloos om te sê ek was nooit weer bedreig nie.Hierdie immigrante betaal tot R 50.000 vir ‘n visum net om uit te vind dit is vervals.Daar is immigrasiebeamptes wat groot geld maak veral by toegangspoorte en vlugtelingkantore en net ‘n druppel in ‘n emmer word gevang.

Tanniepetoors ·

Is die beskuldigde en die landdros hier ook weer op voornaamterme? R1000 borg? Sluit hom toe en gooi die sleutel weg

Suzette ·

Ag en wat gaan van die beampte word – sekerlik niks in hierdie land nie. Korrupsie is mos aan die orde van die dag….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.