In gesprek met Kenneth Meshoe: Christene moet ‘reg stem om reg te maak’

Eerw. Kenneth Meshoe. (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Eerw. Kenneth Meshoe, leier van die Afrika Christen Demokratiese Party (ACDP), sê Suid-Afrika is in ’n haglike toestand omdat die land se Christene – ongeveer 80% van die bevolking – tydens vorige verkiesings verkeerd gestem het.

“Christene het hulself onttrek,” sê Meshoe, ’n evangelis en politikus.

“Totdat Christene verantwoordelikheid neem, sal misdaad in Suid-Afrika nié opgelos word nie en sal korrupsie nié tot ’n einde kom nie. Ons het Godvresende mense in die parlement nodig.”

Meshoe sê Christene mag hulself nie verontskuldig van Suid-Afrika se probleme nie, aangesien talle Christene oor die jare vir die ANC gestem het.

“Ons eet die bitter vrug van Christene se slegte besluite,” praat Meshoe vandeesweek reguit, tydens ’n onderhoud met Maroela Media.

“Indien Christene nie vir die ANC gestem het nie, sou die ANC nooit aan bewind gewees het nie. Dit is dus dié Christene wat die fout moet regstel … Dit is belangrik dat Christene stem en rég stem.”

Eerw. Kenneth Meshoe. (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Die ACDP-leier sê Christene kan regmaak deur vir sy party te stem – ’n party met ’n sterk Bybelse grondslag wat staan vir geregtigheid, aldus die ACDP se manifes.

“Ons is gegrond op Bybelse beginsels. Ons beleide word ingelig deur wat die Skrif sê. Die Bybel bied oplossings vir álles. Daar is nie ’n probleem waarvoor die Bybel nie ’n wenk kan gee van hoe om op te los nie,” meen Meshoe.

Die ACDP het tans vier setels in die Nasionale Vergadering en mik om meer na afloop van die komende verkiesing te hê.

Meshoe is egter bekommerd oor die verskeie klein Christelike partye wie se naam óók op 29 Mei op die stembrief gaan verskyn en eindelik nie 50 000 stemme gaan kry om ’n setel in die parlement te bekom nie. “Dit is nie ’n goeie ding nie … Om soveel partye buite die parlement te hê, verdeel net die Christelike stem,” verduidelik hy.

Meshoe sê diegene wat in die komende verkiesing spesifiek vir ’n Christelike party wil stem, moet eerder net vir die ACDP stem “sodat ons ’n sterker stem en meer setels in die parlement het.

“Ons wil deel wees van die regering.”

Die ACDP is een van 11 opposisiepartye wat onafhanklik aan die verkiesing deelneem, maar hulle by die Veelpartyhandves skaar in die hoop om ’n nuwe koalisieregering ná die verkiesing tot stand te bring, sou die ANC nie ’n meerderheid behaal nie.

Op Maroela Media se vraag oor of die ACDP as ’n betroubare koalisievennoot beskou kan word, antwoord Meshoe: “Die ACDP glo in waarheid, deursigtigheid en eerlikheid.

“’n Belofte wat ons maak, is ’n belofte wat ons nakom. Ons is nie leuenaars nie. Ons sal vir niemand lieg net om goedkoop stemme te kry nie.”

Eerw. Kenneth Meshoe (Foto: ACDP/X)

Dít doen ACDP vir Christene  

Meshoe het tydens die onderhoud drie dinge gelys wat die ACDP volgens hom al vir Suid-Afrikaanse Christene gedoen het.

Volgens Meshoe is dit is grootliks te danke aan sy party dat die regering nie vyandig is teenoor die kerk nie. Die ACDP was ná 1994 onder meer betrokke by die opstel van die Grondwet.

Meshoe sê was dit nie vir onder meer die ACDP se insette nie, sou daar geen verwysing na God in die Grondwet wees nie, sou staatseiendom nie vir godsdienstige gebruik aangewend kon word nie en godsdienstige leiers nie ’n regeringsamp kon beklee nie.

“Mogoeng Mogoeng sou dus nooit hoofregter gewees het nie, want hy was ’n godsdienstige leier. Wat die ACDP gedoen het, het baie Christene bevoordeel,” meen Meshoe.

Volgens Meshoe het die ACDP ook Kersfees en Goeie Vrydag as’t ware in 2012 gered toe die kommissie vir die beskerming en bevordering van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe oorweeg het om die regering te versoek om Goeie Vrydag en Kersfees van die nasionale kalender te skrap.

Die kommissie het destyds beweer dat daar met die viering van die twee Christelike vakansiedae teenoor ander godsdienstige denominasies gediskrimineer word.

’n Groep betogers het destyds onder leiding van Meshoe ’n memorandum van verstandhouding aan Naledi Pandor, destydse minister van binnelandse sake, oorhandig waarin hulle aangevoer het dat die verwydering van Christelike vakansiedae diskriminerend teenoor Christene sou wees.

Eerw. Kenneth Meshoe. (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Meshoe herinner dan ook daaraan dat die ACDP tydens die Covid-19-pandemie hul stem dik gemaak het teen verpligte Covid-19-inentings. “Ek het die president in die parlement uitgedaag. Ek het gesê, meneer die president, God wil hê almal moet gered word en tog dwing Hy niemand nie.

“Om gered te word, is ’n keuse. Die entstof moet ook ’n keuse wees. As gevolg daarvan het die regering sy program oor verpligte inentings gestaak,” beweer Meshoe.

Die ACDP het ook die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) en die departement van gesondheid in 2021 die stryd in die hooggeregshof aangesê oor ʼn besluit om die Covid-19-entstof aan kinders tussen 12 en 17 jaar oud beskikbaar te stel.

“En tot vandag toe sal kinders in Suid-Afrika nie gedwing word om ingeënt te word nie,” sê Meshoe.

Meshoe sê Christene kan gerus vir die ACDP stem “want ons is moedig. Ons het die moed om te sê wat ander nie wil nie. Ons toewyding aan Christus is onbetwisbaar.”

Meshoe het ook met Maroela Media gesels oor hoe politiek met geloof versoen kan word en hoe Christene die verkiesing behoort te benader. Kyk hier na die onderhoud:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Wêreldse respek vir jou Kenneth. Laat ons dan begin om die miljoene Antichriste
(ANC/EFF/MK/ BLF) uit te haal met God wat voor ons uitloop.

Jaco ·

Dié man is al 30 jaar lank ‘n parlementslid. Die huidige pakket vir ‘n parlementslid is meer as R1 miljoen per jaar, plus ‘n vet petroltoelae, plus ‘n vet onthaaltoelae plus verniet vlieg, plus ‘n luukse motor. So ek wonder maar net, wat maak hy met die Bybelvers wat sê “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Plak hy dit toe, of sê hy” dis verkeerd vertaal”?

Jan ·

Wat is die Versailles tussen African Christian Democrat en die DA altwee se hulle is democrats.

Martie ·

Daar is hopeloos te veel partye in SA. Jy sal n halwe dag nodig he om die stembrief te lees. Politiek betaal daarom wil almal op die geldwa klim.

Oom Charles ·

Dis jammer dat daar soveel kermderms is wat nooit iets doen om verandering teweegtebring nie

Vir hulle is stemdag net ‘n lekker braaidag in die middel van die week

Iemand van die skeptici hierbo al ooit na parlementêre debate gekyk en gesien hoedat ACDP woordvoerders met mag en mening baklei vir reg en geregtigheid?

Los die slim praatjies net hierdie een keer en gaan stem vir ‘n party met beginsels

Hierdie party se rekord van 30 jaar spreek vir homself

Die ACDP is klein maar getrein en hy wag vir jou ondersteuning

Hendrik ·

Die ACDP moet hom daarvan weerhou om onwetenskaplike uitlatings te maak oor dinge waaroor hy geen kennis het nie. Ek ondersteun ‘n party met Christelike beginsels 100%, maar die ACDP sit sy voet voet te veel in sy mond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.