Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord, huisbraak en diefstal nadat ʼn vermeende rower Sondag tydens ʼn huisroof in Thabong in die Vrystaat met ʼn byl doodgeslaan is.
Die rower (31) is Sondag omstreeks 02:30 glo op heter daad betrap toe die eienaars van die huis, onderskeidelik 29 en 25 jaar oud, van elders by hul huis in die N1-uitbreiding van dié nedersetting aangekom het.
Volgens kapt. Malebo Khosana, woordvoerder van die polisie, het die inbreker die eienaars glo met ʼn panga aangeval waarna ʼn struweling ontstaan het.
Een van die huisbewoners het die inbreker oorrompel en ʼn byl van iewers in die huis in die hande gekry waarna hy die inbreker met die byl oor sy kop gekap het.
Khosana vertel dat die rower reeds aan sy beserings beswyk het toe die polisie en nooddienste na die toneel ontbied is.
Albei inwoners het snywonde in die aanval opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.
Volgens Khosana is dit in dié stadium onduidelik hoe die inbreker toegang tot die huis verkry het.
Hy het gesê 5 kg bevrore hoender en maalvleis is op die toneel gevind. Daar word vermoed dat die rower dié vleis uit die huis probeer steel het voordat hy onkant betrap is.
Die polisie het ook op die panga en byl op die toneel beslag gelê, het Khosana gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
50 Kommentare
So moet dit mos gedoen word.
Hoekom `n saak van moord, meer soos self verdediging. Hy hoort nie daar nie, net soos iemand sonder `n kar lisensie op die pad.
Die knaap het nooit gedink dit kan met hom gebeur nie, swak beplanning . . . !
huiseienaars moet hulleself maar verdedig . hoe dan anders? Dit is nonsens dat inbrekers wat ook voornemende verkragters en dalk moordenaars kan wees so lig daarvan afkom om net in hegtenis geneem te word en die volgende dag weer vrygelaat word? Ongelukkig het die skelms in SA meer regte as die huiseienaars, hulle het ‘n lang regstryd wat voorlê.
Sluit hulle toe, moord is mos moord,