Ingonyama-trust se geldsake ‘nie deursigtig’

Die trust besit ongeveer 2,8 miljoen hektaar se gemeenskapsgrond, waarop meer as vyf miljoen mense woon. (Foto: Ingonyama-trust jaarverslag 2015/16)

Die Navorsingsentrum vir Grond en Verantwoordbaarheid (LARC) by die Universiteit van Kaapstad het kommer uitgespreek dat die Ingonyama Trust se finansiële state nie aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (WOFB) voldoen nie.

Die trust besit ongeveer 2,8 miljoen hektaar se gemeenskapsgrond, waarop meer as vyf miljoen mense woon. Dit is in 1994 onder die Wet op die Ingonyama Trust gestig, met die sittende Zoeloe-koning wat as die enigste trustee gedien het.

LARC het in ʼn onlangse verslag die Ingonyama-raad versoek om groter deursigtigheid rakende die trust se finansiële state te verskaf.

Die raad vir die Ingonyama Trust is in 1997 aangestel om die sake van die trust te administreer en sy finansies te bestuur.

Luidens die verslag werk die trust en die raadslede sedert 2016 as “afsonderlike regsentiteite”. Die raad dien wel finansiële state in, maar nie die trust nie.

Die trust se finansiële state word sedert die 2019-’20-boekjaar nie meer deur die raad in ooreenstemming met die WOFB voorberei nie; die ouditeur-generaal het blykbaar hierdie reëling goedgekeur.

Volgens die verslag “word inligting oor trustinkomste en die verspreiding van fondse aan die begunstigdes van die trust vaag gerapporteer, met geen melding oor hoe uitkerings, indien enige, gebruik word nie.”

“Versuim om aan die WOFB te voldoen, beteken dat die trust se finansies nie behoorlik deursigtig is nie en ook nie aan sy primêre belanghebbendes verantwoordbaar is nie,” lui die verslag.

Janet Bellamy, wat die verslag saamgestel het, het by die bekendstelling van die verslag gesê die raad moet aangemoedig word om met vrymoedigheid op te tree en te verseker dat die manier waarop hierdie trust funksioneer oop en deursigtig is. “Dit moet geadministreer word vir die materiële welsyn en sosiale welstand van die begunstigdes.”

Die begunstigdes van die trust is die stamme en gemeenskappe wat op Ingonyama-grond woon.

In Junie 2021 het die trust se begunstigdes ʼn saak in Pietermaritzburg se hooggeregshof gewen, wat die trust gelas het om geld terug te betaal wat hy ontvang het deur hulle te dwing om huurooreenkomste te onderteken. Hierdie uitspraak is in die Hoogste Hof van Appèl bekragtig.

Die Regshulpbronsentrum (LRC), wat die begunstigdes verteenwoordig het, het gesê dat “die omskakeling van bestaande grondregte in huurkontrakte hul verblyfsekerheid heeltemal ondermyn”.

“Die groep bestaan uit enkel ma’s, fabriekswerkers, pensioenarisse, boere en pa’s wat probeer om vir hul gesinne te voorsien,” het die LRC gesê.

LARC wil hê die trust moet as ʼn openbare instelling op die WOFB-skedule gelys word. Slegs raadslede is tans gelys.

“Ten einde die monitering van die trust se prestasie in die ondersteuning van trustbegunstigdes moontlik te maak, is dit noodsaaklik dat die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling na die uitbetalings van begunstigdes kyk, en die parlement kyk na die gebrek aan deursigtigheid in prestasieverslagdoening.”

Volgens die verslag moet die parlement prestasieteikens ondersoek en monitor.

Die verslag doen ook ʼn beroep op die ouditeur-generaal (OG) om ʼn forensiese oudit van die trust se finansiële state te magtig. In November 2021 het die portefeuljekomitee ook hiervoor gevra.

LARC het gesê dat Ingonyama Holdings, ʼn privaat maatskappy wat in 2019 gestig is, verplig moet word om finansiële state aan die parlement voor te lê.

Siyamdumisa Vilakazi, finansiële hoof van die raad vir die Ingonyama Trust, het LARC bedank by die bekendstelling van die verslag.

“Dit is een ekonomiese eenheid. Dit is een entiteit. Daar behoort nie afsonderlike vlakke van aanspreeklikheid te wees nie,” sê Vilakazi.

In reaksie op GroundUp se navrae het die OG gelas dat die raad vir die Ingonyama Trust sy finansiële state in ooreenstemming met die WOFB indien. Die Ingonyama Trust, wat nie in die PFMA gelys is nie, word verplig om sy finansiële state in te dien in ooreenstemming met die Wysigingswet op die KwaZulu Ingonyama Trust. Die OG het bevestig dat die raad vir die Ingonyama Trust en die Ingonyama Trust afsonderlik geouditeer word.

“Die OG het ʼn beperking van omvang tydens die oudit van die Ingonyama Trust se finansiële state vir 2022-’23 uitgereik omdat die entiteit nie geouditeerde finansiële state vir sy filiaal, Ingonyama Holdings, ingedien het nie. Die bevindinge van die ouditwerk wat gedoen is, word in die betrokke ouditverslag gerapporteer,” sê die OG.

Volgens die Ingonyama Trust het hulle tyd nodig om die verslag te bestudeer voordat enige verdere kommentaar gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Mens kan maar net weet hier is nog ‘n verneukery aan die gang!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis 28 000 vierkante km. Groter as baie Europese lande. Ook Israel. Die koning kan afstig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.