Inisiasieskool-eienaar swaar gevonnis vir verkragtings

Argieffoto

Argieffoto

Die eienaar van ʼn inisiasieskool in Mpumalanga is Vrydag swaar gevonnis nadat hy skuldig bevind is dat hy 17 meisies by die skool verkrag het.

Kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê Johan Jabulani Mlombo (51) is tot 17 keer lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op 17 aanklagte van verkragting. Hy is tot nog 15 jaar gevonnis vir drie aanklagte van seksuele aanranding. Mlombo se vrou, Sister Mapalese Khoza (43), het ʼn opgeskorte vonnis van 24 maande gekry nadat sy skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en algemene aanranding.

Die hof het gehoor hoe 21 meisies tussen die ouderdomme van nege en 17 in 2012 by die egpaar se inisiasieskool in Masoyi naby Hazyview ingeskryf het. Mlombo het die meisies verkrag en seksueel aangerand.

Volgens bewyse wat aan die hof voorgelê is, was Khoza bewus van die verkragtings en was sy selfs ʼn medepligtige deur die meisies na Mlombo se kamer te stuur. Dit het ook aan die lig gekom dat Khoza van die meisies aangerand het tydens hul inisiasie.

Hlathi het die vonnis verwelkom en het gesê hulle glo die swaar vonnisse sal as afskrikmiddel dien vir ander potensiële misdadigers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.