Innoverende speurder verbind verkragter aan tientalle sake

(Argieffoto: pixabay)

Twee verkragters is agter tralies danksy ʼn wakker polisiespeurder se innoverende gebruik van forensiese tegnieke en prosesse.

Amos Ngubeni is Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind op 28 aanklagte wat verkragting, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, huisbraak, ernstige aanranding en diefstal insluit. Hy word volgende maand gevonnis.

Die saak teen Ngubeni spruit uit ʼn reeks verkragtingsvoorvalle wat sedert 2011 in Duduza en Tsakane aangemeld is en waar die slagoffers meestal tydens ʼn kaping of huisrooftog verkrag is, het brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng, Vrydag gesê.

Sers. Johnson Motlalepula Nkoana het die ondersoek in 2017 oorgeneem en dadelik begin met ʼn ontleding van die verdagtes se werkswyse tydens die verkragtings. Dit het hom aangespoor om ook van nader na die kapingsvoorvalle te kyk en met die hulp van forensiese ontledings het hy eindelik vir Ngubeni en nog ʼn verkragter, Anton Sithole, met selfs meer verkragtingsvoorvalle in Balfour in Mpumalanga, Thabazimbi in Limpopo en Umkomaas in KwaZulu-Natal verbind.

Sithole het vroeër skuldig gepleit op die aanklagte teen hom en dien sedert Desember verlede jaar 14 lewenslange vonnisse en ʼn bykomende 354 jaar tronkstraf uit vir verskeie aanklagte van verkragting en ander ernstige geweldsmisdaad, het Peters gesê.

“Die hoeveelheid werk en die sielkundige uitdagings van so ʼn ondersoek, wat soms selfs oor provinsies strek, eis ʼn groot tol van enige ondersoeker. Ek wil daarom, namens die bestuur van die polisie, vir sers. Nkoana loof omdat hy hierdie ingewikkelde ondersoek deurgesien het,” het lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, gesê.

“Sy innovering en veelvlakkige aanslag tydens die ondersoek is presies wat bedoel word met die doeltreffende mobilisering van die maksimum hulpbronne.”

Polisiespeurders word deurlopend aangemoedig om misdaad teen vroue, kinders en kwesbare mense te prioritiseer en Mawela sê dié ondersoek benadruk net weereens die polisie se verbintenis tot die prioritisering van ondersoeke na geslagsgebaseerde geweld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dorry ·

Mooi so!! Ons kort meer sulke polisiespeurders en dan ook die ondersteuning vir sulke polisiespeurders.

Moerby1212 ·

Daar is nog eerlike polisie beamptes . En ook wat hulle werk tot die BESTE voltooi. Danki aan die beamptes wat die myl verder gestap het om hierdie saak te laat slaag.

JohanR ·

Kan Sers. Johnson Motlalepula Nkoana president van Suid Afrika word. Lyk my die man het vyf keer meer breins as NDZ en Cyril!

B-Man ·

Hierdie is baie positief, ja. Maar as die Polisie hulle werk regtig goed gedoen het sou daar nie so baie gevalle gewees het nie en kon hierdie uitstekende speurder nog beter aangewend word omdat hy nie sy tyd hoef te mors op reaktiewe polisiewerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.