Inperking: Neem ’n renoster aan en help met bewaring

Een van Insimbi se uitgawes is die befondsing van teenstropingseenhede. (Foto: Verskaf.)

Renosters loop in die afsonderingstydperk ʼn groter risiko om onder stropers deur te loop omdat daar nou soveel minder beweging in reservate is, maar die grootste bedreiging vir private renostereienaars tans is sekerlik die verlies aan inkomste omdat die toerismebedryf in die Covid-19-pandemie heeltemal tot stilstand geruk is.

Maar gelukkig is daar kreatiewe inisiatiewe van private renostereienaars om dié uitdaging te bowe te kom. Een daarvan is Insimbi Legacy Projects se ‘Neem ‘n renoster aan’-projek. Te danke aan dié projek kan jy nou vir jou ‘n renoster aanneem. Daar is Shinkwe, ‘n skugter renosterkoei wat in 2014 ‘n stroping oorleef het en diep in haar versorgers se harte gekruip het; Francesco, ‘n sagmoedige reus wat hom gewoonlik so ‘n bietjie eenkant van die ander renosters hou, maar tog nooit te ver van die res van die trop af wei nie; Babelegi, ‘n wispelturige sesjarige renosterbul wie se hormone hom opkeil en wat graag met die ander renosters skoorsoek. Of dalk wil jy vir Marula, LaVara, Messina, Jack, Raphele of Speranza aanneem en daarmee ‘n bydrae vir renosterbewaring te midde van die landswye inperking maak.

Francesco, Shinkwe en Babelegi is drie van die renosters van Insimbi wat mense kan “aanneem” om die bewaringsprojek te ondersteun. (Foto: Verskaf.)

Sharon Janse van Rensburg, ambassadeur van die Insimbi Legacy-renosterbewaringsprojek in die noorde van Limpopo, sê hulle bekommernisse het toegeneem namate die dae van inperking meer word.

Insimbi is ʼn niewinsgewende organisasie wat renosters bewaar en beskerm, terwyl die projek die gemeenskap wil opvoed oor die bewaring van dié sagte reuse.

“Die koste van voer het aansienlik gestyg en die verlies aan ekotoerisme beteken dat die meeste reservate nou sonder enige bron van inkomste sit. ʼn Gebrek aan finansiële ondersteuning van die regering beteken dat private renostereienaars dalk binnekort gedwing kan word om hulle renosters te verkoop om hulle lewens te red,” sê Sharon. “Daarom stuur ons nou inisiatiewe soos die ‘Neem ‘n renoster aan’-inisiatief van stapel.”

“Die bedekte seën van die situasie waarin ons ons bevind, is dat ons tyd het om te dink aan ander, meer volhoubare projekte vir fondsinsameling wat ons ná die inperkingstyd in werking kan stel,” sê Carmela D’Arrgio, stigter van Insimbi Legacy Projects. “Die Here is goed vir ons; ten spyte van hierdie groot terugslag kon ek tot nou toe elke maand die rekeninge betaal. Ek het groot geloof dat Hy ons sal aanhou seën.”

‘n Avontuurnaweek sonder fieterjasies was tot onlangs nog ‘n groot bron van inkomste vir Insimbi. (Foto: Verskaf.)

Mense kon tot onlangs nog op Carmela se pa se plaas in die noorde van Limpopo ʼn avontuurnaweek teen betaling bespreek waartydens hulle renosters in hul natuurlike habitat kon beleef, en terselfdertyd deelneem aan teenstropermonitering en voet- en voertuigpatrollies, en hul taktiese skietvaardighede kon opskerp. Die program tydens dié avontuurnaweke wat deur Insimbi aangebied word, was prakties en sonder toerisme-foefies of luukshede, om gaste die geleentheid te gee om self te sien watter soort toewyding benodig word om die grys reuse van die veld te bewaar. Die inkomste uit hierdie avontuurnaweke is hoofsaaklik aangewend om teenstropingseenhede, wat van kardinale belang in die bewaring van die renosters is, te finansier.

Maar met die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die verbod op toerismebedrywighede het die inkomste wat Insimbi uit hierdie avontuurnaweke gekry het, heeltemal opgedroog.

“Ons het nog nooit daarin geglo om bakhand by die publiek te staan nie en dit is waarom ons hierdie avontuurnaweke aangebied het. Dit was ʼn manier om mense eerstehandse ervaring te gee oor wat die bewaring van renosters behels.

“Benewens die inkomste wat die avontuurnaweke ingebring het en waarmee ons die koste van teenstropingseenhede en die versorging van die renosters kan dek, dien meer voete op die grond tydens hierdie volmaannaweke as ʼn afskrikmiddel vir stropers,” verduidelik Sharon.

Hoewel die departement van omgewingsake, bosbou en visserye vroeër gesê het daar is ʼn beduidende afname in die gevalle van renosterstropery in die inperkingstyd, meen sy dit beteken nie private renostereienaars en reservate kan nou op hul louere rus nie.

“Die inperking het aanvanklik die beweging van renosterstropersindikate belemmer, maar hulle vind altyd tog weer ʼn manier om die stelsel te omseil. Daar is tans talle reservate wat net die noodsaaklikste hoeveelheid personeel op hul terreine het. Dit beteken stropers kan nie vinnig opgespoor word nie en gestroopte karkasse is dalk nog nie gevind nie.”

Met Insimbi se hoofbron van inkomste wat nou ʼn nekslag toegedien is, kan die bewaringsprojek nie bykomende wildbewaarders aanstel nie. Hulle moet ook nou meer staatmaak op die gebruik van tegnologie soos hommeltuie en kameras om die renosters te beskerm en stropers op te spoor. Sharon sê dit is ʼn veel duurder voorkomingsmaatreëls om te onderhou.

Omdat die inperkingsmaatreëls die projek verhoed om avontuurnaweke aan te bied, en die reservaat ook nie befondsing van die regering ontvang nie, het hulle verskeie digitale geldinsamelingsprojekte van stapel gestuur. Een daarvan is die ‘Neem ‘n renoster aan‘-projek.

Insimbi het avontuurnaweke gebruik om ‘n inkomste te verdien vir hulle renostersbewaringsprojek. Die projek vra die gemeenskap om hulle ook tydens die inperking te ondersteun. (Foto: Verskaf.)

Hoe kan jy die bewaringsprojek ondersteun?

Op die oomblik is finansiële hulp die belangrikste faktor, sê Sharon. “Ons moet ons teenstropingseenhede op die grond kan hou en in ʼn posisie wees waar ons steeds voer vir die renosters kan aankoop.

“Ons besef almal kry nou swaar, maar as mense dit in hul harte kan vind om vir ons ʼn donasie van slegs R100 te gee, kan ons die bewaringsprojek weer finansier. Elke donasie, hoe groot of klein, sal in ʼn trekking geplaas word waar hulle die kans staan om ʼn geskenkpak van ons projek kan wen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae