Interdik teen inwoners oor Graafwater-skool

Die bestaande skool is omskep in ‘n skool vir leerders met spesifieke behoeftes. (Argieffoto: Unsplash)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ʼn hofbevel teen ʼn sogenaamde gemeenskapsleier van Graafwater gekry nadat ontevredenheid oor die sluiting van ʼn skool nou in die teistering van en dreigemente teen personeel van die skool ontaard het.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die provinsie, het verlede jaar aangekondig die Hoërskool Graafwater gaan omskep word in ʼn skool vir vaardighede omdat daar in hierdie stadium geen sulke of ander spesiale skole in die Graafwater-gebied is nie. Bestaande leerders van die skool sal elders plek aangebied word.

Die onderwysdepartement sê Adams het sedertdien hierdie plasing verwyder. (Skermgreep: Facebook)

Schäfer sê ʼn groep mense gee reeds maande lank hul ontevredenheid met die besluit te kenne. Dit het nou vererger tot teistering van die personeel by die nuwe Graafwater Spesiale Skool, soos dit voortaan bekend staan. Die skool moet vanoggend vir leerders open.

Die dreigemente het verlede week so erg toegeneem dat die departement sê hy het geen ander keuse gehad as om die hooggeregshof te nader om die personeel en leerders te beskerm nie.

Die hof het die afgelope naweek ʼn bevel teen Franklin Adams, een van die leiers van die groep, nog sewe ander respondente, asook almal wat onregmatig by die skool betoog het of beoog om dit te doen, toegestaan. Die hofbevel verbied hulle om binne 100 m van die Graafwater Spesiale Skool te kom, asook om personeel of leerders van die skool op enige manier te bedreig, bedrywighede te ontwrig of leerders en personeel by die skool wat van die leerdervoerstelsel gebruik maak, in die gevaar te stel.

Adams het sedertdien ook foto’s van vuurwapens en dreigemente wat hy aanlyn geplaas het ná ʼn vergadering tussen die partye se regsverteenwoordigers verwyder.

“Die besluit [oor die skool] is geneem nadat die voorgeskrewe regsprosesse in die beste belang van leerders gevolg is. Om onskuldige mense, ook kinders, te dreig en te intimideer om jou eie doelwitte te bereik – wat dit ook al mag wees – is onaanvaarbaar en sal nie geduld word nie,” het Schäfer gesê.

Sy sê die departement werk saam met die polisie om te verseker skole heropen veilig en dat diegene wat onderrig ontwrig en leerders se regte op hierdie manier skend, aan die pen sal ry.

Schäfer sê die groot geografiese gebied aan die Weskus beteken leerders wat hoë vlakke van steun benodig, moet oor naweke dikwels groot afstande reis wanneer koshuise sluit.

Sy sê die leerders kry soms nie eens ʼn plek in ʼn skool vir spesiale behoeftes nie – die naaste skole is tussen 128 km en 138 km ver – omdat die skole reeds die maksimum innameperk van leerders bereik het en nie die getal aansoeke jaarliks kan hanteer nie. Dit beteken honderde leerders wat nie in hoofstroomskole kan aanpas nie, het geen heenkome nie.

Schäfer sê dit is uiters belangrik dat geleenthede ook vir dié kinders geskep word. Om dié rede is besluit om die hoërskool in ʼn vaardigheidskool te omskep, terwyl bestaande leerders elders ingeneem gaan word.

Vervoer daarheen word aan hulle verskaf, maar talle inwoners was steeds die josie in oor die besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eclectus ·

Gaan daar ‘n SAPD ondersoek wees of Adams enige van hierdie wapens besit, en indien wel, of dit wettige wapens is? Enige iemand wat die slagspreuk “A luta continua” (korrekte spelling) gebruik, sal heel waarskynlik ‘n AK of twee iewers hê.

Lucy100 ·

Ons mensdom is baie selfsugtig. Dankie dat hulle mense met spesiale behoeftes ook ‘n kans gee om iets te bereik. Ek hoop die wat daarteen is om die skool te omskep se oë gaan oop en ek bid dat die Here hulle harte sal versag.

Sandra ·

Ek het ‘n dogter in :n vaardigheidskool. Ek Kan nie aan julle beskryf wat dit aan haar “self esteem” gedoen het nie. Sy Blom nou. In die Weskaap weet ek net van 3 skole, so hierdie ekstra 1 gaan’ n wesentlike verskil aan die behoefte maak. Onthou hulle leerdergetalle is ook veel minder as akademiese skole.

Leana ·

Meeste mense weet nie eers daar bestaan ‘n dorp soos Graafwater nie . Die dorp is in die middel van niks en nerens.

Leana ·

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie teen die dorp nie, inteendeel ek is baie lief vir die dorp en sy mense, maar ek verstaan ook hoekom die mense teen die hele skool storie daar is. Ek praat ook nie wat hulle doen goed nie, maar dit maak net nie sin hoekom hulle die “spesiale behoefte skool” daar wil begin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.