Inwoners sien rooi oor ‘riooldam’ langs R31

Die water langs die R31-pad tussen Kimberley en Barkely-Wes (Foto: DA)

Die mengsel van drink- en rioolwater in die Platfontein-omgewing, sowat 15 km buite Kimberley in die Noord-Kaap, hou nie net ʼn gesondheidsgevaar in nie; die stank is ook vir die inwoners ondraaglik.

Die Khoisan-gemeenskap in Platfontein probeer al ʼn dekade lank om die regering so ver te kry om aandag te gee aan dié riool-watermengsel, maar tevergeefs.

Die water is afkomstig van lekkende pype in die omgewing en veroorsaak dat water langs die R31-pad tussen Kimberley en Barkly-Wes opdam. Die water syfer in die grond in en beland in die drinkwater, beweer inwoners.

“Ons mense raak siek van die kraanwater. Ons het geen ander water om te drink nie. Ons higiëne neem af, want ons moet in vuil water was,” sê Wentzel Katjara, gemeenskapsleier in Platfontein.

Wentzel Katjara, gemeenskapsleier in Platfontein (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Hy sê die gemeenskap het al menigmaal aan die munisipaliteit en die departemente van water en sanitasie se deure gaan klop oor dié “mensgemaakte riooldam” in Platfontein, maar elke keer het hul klagtes en hulpkrete op dowe ore geval.

“Ek het al met ʼn koeldrankbottel vol van ons kraanwater na die munisipaliteit toe geloop en vir hulle gewys die water is nie drinkbaar nie. Hulle sou dan net hul skouers optrek.”

Platfontein is al sedert 2003 die tuiste van meer as 10 000 Khoisan. Die gemeenskap bestaan uit twee Khoisan-stamme, die !Xun en die Khwe.

Die R31-pad loop verby Platfontein. Hoewel die watermassa vir motoriste as ʼn doodnormale pan of meer kan voorkom, sal die stank jou tref sodra jy die motor se venster afdraai.

Die water langs die R31-pad tussen Kimberley en Barkely-Wes (Foto: DA)

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens Thoko Riet, woordvoerder van die munisipaliteit, het die watermassa oor die jare ontwikkel weens munisipale pypleidings, insluitend riool- en drinkwaterpype, wat lek.

ʼn Mengsel van drink- en rioolwater dam gevolglik in die veld op en spoel ook oor na die Platfontein-pan en ander mere. Dit is in hierdie stadium nog nie vasgestel wat die E. colivlakke in die water is wat na die varswatermere toe spoel nie.

Volgens Riet het die probleem in Maart vanjaar vererger weens die afgelope somerseisoen se bogemiddelde reënval. Die watermassa het nou al op drie ander plekke langs die roete opgedam.

Verlede jaar het watermassa onder deur die pad tot aan die ander kant opgedam, waar selfs oorhoofse kragpale in water gestaan het. Twee voertuie, onder meer ʼn vragmotor, het ook verlede jaar in die rioolwater beland.

In die veld tussen die Platfontein-gemeenskap se huise, lê die mengsel van riool- en drinkwater opgedam in die veld. “Kinders speel in die water en besef nie dit is vuil water waarin hulle speel nie,” sê Katjara mismoedig.

In die veld is daar ʼn duidelike borrelgeluid en Katjara wys na ʼn gebarste pyp tussen die veldgras.

“Dit is hoe ons drinkwater gemors word. Ek weet nie hoe die regering hier in die Noord-Kaap regeer nie.”

Probleme en oplossings

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die Sol Plaatje-munisipaliteit wil nou in samewerking met die departemente van water en sanitasie die besoedelde watermassa langs die R31-pad na die Vaalrivier wegpomp.

Delmaine Christians, DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sê die munisipaliteit en departement kan links en regs planne maak om van die watermassa weg te lei, maar dit gee steeds nie aandag aan die onderliggende probleem nie.

“Langtermynoplossings soos om die pyplekkasies eens en vir altyd te herstel, rioolstorting te stop en instandhouding te verbeter, staan die munisipaliteit te doen,” sê Christians.

“Verdere langtermynoplossings sluit in die vervanging van die waterpypleidings, die opgradering van rioolpompe en die verbetering van sekuriteit om vandalisme by pompstasies te bekamp.”

Riet sê die groot rede waarom water opdam, is weens ʼn soutpan in die omgewing wat alle waterafloop daar versamel, met geen uitlaat- of afvoerpunte vir die water nie.

“Die watervlak word slegs natuurlik verlaag deur verdamping en insypeling in die watertafel (grondwater). Met bogemiddelde reënval, waterlekkasies en rioolstorting is die verdampingstempo baie stadiger as die tempo waarteen die water in die grond syfer. Dit is waarom die pad oorspoel het,” sê Riet.

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Ander maak ook stem dik

Ander organisasies en partye het ook oor die jare al hul stem oor dié “riooldam” dik gemaak.

AfriForum het in 2016 ʼn klag teen die munisipale bestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit gelê in verband met die probleem.

Die VF Plus het in Julie vanjaar ʼn oorsigbesoek by die Homevale-rioolsuiweringsaanleg en Goggapomp-rioolstasie afgelê. Rioolstelsels van verskeie munisipale gebiede kom by dié stasie bymekaar.

“By die Homevale-rioolsuiweringsaanleg is bevind dat slegs die helfte van die aanleg se infrastruktuur werkend is,” sê Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit.

“Tydens die besoek aan die Goggapomp-rioolstasie het die VF Plus-raadslede ook agtergekom daar is min water in die pompstasie. Die rede hiervoor is klaarblyklik dat van die rioolpype wat na hierdie stasie toe loop, verstop is of lek.”

Christians het twee weke gelede parlementêre vrae aan die departement van samewerkende regering (Cogta) gerig waarin sy vra vir ʼn akkurate en deeglike uiteensetting van die rioolprobleem, tesame met die munisipaliteit se voorgestelde plan van aksie om aandag te gee aan die pyplekkasies. Sy eis ook dat die departement die E. Coli-vlakke van die mere moet bepaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theo ·

Ons het kinders in Kimberley. My skoonseun wys vir my al drie jaar gelede dien riooldam. Ek skryf aan die plaaslike koerant en Elise Tempelhoff om berigte / artikels oor die ramp te skryf. Geen belangstelling. Apatie. Dis iets wat êrens ver weg van ander belangriker dinge gebeur. Die munisipaliteit doen niks. Kan nie omgee nie. Die burgerlike bevolking: apaties. Iemand anders moet iets daaraan doen. Nou skrik mense wakker. Wat het hulle wat van hierdie probleem bewus was die afgelope paar jaar gedoen? Niks. Die hoofpad tussen Kimbly en Barklywes moes eers oorspoel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.