Inwoners wil Bloem weer laat blom

’n Gemeenskapsprojek beoog om weer honderde roosbome in Bloemfontein se strate en parke te vestig (Foto: Verskaf)

Waar rose eens op ’n tyd as rooi, pienk en geel sieraad langs Bloemfontein se strate gepronk het, floreer die onkruid nou, maar Bloemfonteiners smag daarna om weer as inwoners van die “Rosestad” bekend te staan.

Daarom het AfriForum se Langenhovenpark-tak in samewerking met plaaslike ondernemings die “Roosboomprojek” begin, waar hulle Du Plessislaan in Langenhovenpark gaan opknap. Hulle beoog om die laan skoon te maak en rose te plant.

Greenside Kwekery in Langenhovenpark het besluit om roosbome teen ’n spesiale prys van R150 stuk ten bate van die projek te verkoop.

Volgens Anton Botha, voorsitter van die AfriForum-tak, versoek hulle hul lede om ’n boom of bome by Greenside te koop. Die roosbome word daar by die kwekery gehou en een keer per week gaan haal die tak se tuinbouspan die bome om dit dan in die tuinbeddings in Du Plessislaan te plant.

Ondernemings sal ook bemarkingsmateriaal in die tuine kan vertoon.

“Ons spook reeds die afgelope drie weke met voorbereiding van die tuinbeddings en die verskil is al duidelik sigbaar,” sê Botha.

Die tuine word voorberei (Foto: Verskaf)

AfriForum se Langenhovenpark-tak sal verantwoordelik wees vir die instandhouding van die laan. Die tak beoog ook om die speelparkie op die hoek van AG Visser- en Du Plessislaan te onderhou en die padoppervlak in stand te hou.

Buks Janse van Rensburg, algemene bestuurder van Greenside Kwekery, sê Botha is al jare lank ’n kliënt van Greenside. Hy het die kwekery van die projek vertel en dié het toe besluit om in te spring en te help.

Die kwekery het reeds sowat 600 roosbome van die Ludwig Rose-blommewinkel in Bloemfontein bestel, wat hulle hoop om gou te verkoop.

“Greenside help al vir ’n wyle om die gras op die sypaadjies van Langenhovenpark te sny en slaggate reg te maak. Ons wil graag deel wees van hierdie projek om te help om ons omgewing te verfraai,” vertel Janse van Rensburg.

AfriForum se Langenhovenpark-tak sal verantwoordelik wees vir die instandhouding van Du Plessislaan (Foto: Verskaf)

“Ons is positief dat Langenhovenpark eersdaags die mooiste gebied in Bloemfontein sal wees.”

Botha sê die tak beoog om die projek later wyer te laat strek as slegs Langenhovenpark.

“Ons wil nou eers Du Plessislaan takel voordat ons ons aandag na ander dele van die stad verskuif. Ons sal nog tuinspanne daarvoor moet aanstel, maar nou kyk ons eers wat die vatbaarheid en blootstelling van die projek is.

“Rome is nie in een dag gebou nie, en dít is nog net die eerste baksteen wat gelê word.”

Inwoners is positief oor wat die projek kan oplewer.

Cara-lee Joubert, ’n inwoner van Bloemfontein, sê die stad se verval oor die jare is duidelik. Volgens haar doen die munisipaliteit geen moeite om die stad in stand te hou nie.

“Jare gelede het jy deur Bloemfontein gery en die mooi roosbome bewonder. Dit is die stad van rose, maar daar is vandag nie meer ’n enkele roosboom in sig nie. Die sypaadjies is deurtrek met onkruid en die stad is vuil en vervalle,” vertel Joubert aan Maroela Media.

“Ons hoop die stad kan met die roosboomprojek weer reggeruk word om verdere agteruitgang te verhoed.”

Rig enige navrae aan Botha by [email protected] indien jy ’n bydrae vir die projek wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Dit is ‘n skande dat die inwoners wat al die belastings en fooie aan die stadsraad betaal ook nog die stadsraad se werk vir hulle moet doen. Bravo aan al die betrokkennes wat die ondankbare taak aanpak.

Chantel ·

Dis so, maar as ons nie self inspring nie en ‘n verskil maak nie, dan moet ons verlief neem dat dit so lyk.
Ons in Kroonstad is al langer as ‘n jaar besig om dit self te doen.

kaplyn ·

Ek hoop die DA Raadslid wat die Langenhovenpark wyk al die afgelope paar keer verower het lees ook die berig. Onder haar het die Langenhovenpark wyk agteruit gegaan. Jan Spies Rylaan in die wyk is vol slaggate en daar is geen strepe meer op die pad wat twee bane uit en twee bane in die buurt is nie. Dit is `n ongeluk wat wag om te gebeur want die pad dra swaar verkeer en daar is ook baie trokke en busse en natuurlik taxis op die pad. Op party plekke is die onkruid al kop hoogte. Daar is baie gevaarlike slange tussen die onkruid want die vullis word nie verwyder nie en dit is kos vir die rotte!

Toy ·

Kry die munisipaliteit nie skaam nie. So bly iets word gedoen, dit maak mens woedend as mens sien als gaan agteruit, dit is nie hoe mens Bloemfontein ken nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.