Isolasie van Rusland kan tot ‘erger oortredings’ lei – Pandor

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerkende regering, gee terugvoer oor Suid-Afrika se besluit om buite stemming te bly oor ‘n VN-resolusie oor Rusland. (Foto: Maroela Media)

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerkende regering, het Vrydag haar kommer uitgespreek oor pogings deur die internasionale gemeenskap om Rusland weens die oorlog in Oekraïne verder te isoleer.

Pandor het terugvoer gegee nadat Suid-Afrika Donderdag weer eens buite stemming gebly het in ʼn resolusie van die Verenigde Nasies oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne – hierdie keer ʼn resolusie om Rusland uit die VN se Menseregteraad te skors.

Die resolusie is met 93 stemme ten gunste van die skorsing en 24 daarteen aanvaar. Altesame 58 lande het buite stemming gebly.

Dit is die derde resolusie by die VN oor Oekraïne waar Suid-Afrika buite stemming bly.

Pandor sê Suid-Afrika is diep bekommerd oor die konflik en veral die verslegtende humanitêre situasie in Oekraïne. Die land het opnuut gevra vir ʼn staking van vyandigheid. “As Suid-Afrika benadruk ons weer dat dialoog, mediasie en diplomasie die enigste manier is om konflik te beëindig,” sê Pandor.

Volgens haar is daar nou ook verskeie ander lande wat toenemend dié standpunt inneem.

Pandor sê die gebruik van die Algemene Vergadering van die VN is nie besig om die situasie te help nie, maar verbreed eerder die vlak van haat en konflik. “Ons bevorder ʼn vreedsame oplossing en ons het gevra vir opregte dialoog en onderhandelings.”

Die minister sê sy is bekommerd oor die besluit om Rusland uit die menseregteraad te skop.

““Ek dink wanneer ʼn land wat deel is van sulke konflik en vyandigheid uitgeskuif word na die rand van internasionale liggame, word die vlak en geleentheid vir ʼn verhoogde gebrek aan aanspreeklikheid net al hoe meer vaag.

“Ons is baie bekommerd dat hoe meer gemarginaliseerd jy word, hoe erger word die oortredings,” sê Pandor.

Suid-Afrika se topdiplomaat sê daar kan ook nie toegelaat word dat die VN op ʼn partydige manier gebruik word nie en dat dit “gelykheid vir almal” moet voorstaan. Sy kan “ook nie verstaan waarom die sekretaris-generaal onsigbaar in hierdie groot internasionale krisis is nie”.

Pandor het verder na die VN gekap en sê dit lyk of daar ʼn wanbalans is in die manier waarop die instelling gebruik word. “Daar behoort konsekwentheid te wees oor alle lande wat internasionale reg skend.”

Die minister het onder meer verwys na Israelse aanvalle op Palestina en sê die wêreld het versuim om op soortgelyke manier te reageer. “Ons sien nie Palestyne as anders as Oekraïners nie; die wêreld tree op asof Palestynse lewens minder werd is as Oekraïense lewens.”

Sy sê die skending van internasionale reg moet met onder meer sanksies en disinvestering beveg word – maar dat dit alle oortreders moet geld, en nie net sommige nie.

“Ons benadruk dat die internasionale gemeenskap daarop moet konsentreer om ʼn volhoubare oplossing te vind. Dit word nie bereik deur een party te isoleer of op sy knieë te dwing nie.

“Ons doen ʼn oproep vir die beëindiging van die oorlog en vir die begin van werklike onderhandelings.”

Op dieselfde bladsy as president

Pandor het in antwoord op ʼn vraag oor of sy en pres. Cyril Ramaphosa uit verskillende monde praat oor die situasie in Rusland, gesê sy en die president werk nou saam. Hulle het ook beraadslaag oor die standpunt wat Suid-Afrika tydens gister se resolusie sou inneem en was in ooreenstemming daaroor.

“Dit kan dalk goed lyk om ja te stem [vir die resolusie], maar bevorder dit sake? Help dit? Ons kan baie gewild wees en stem soos mense dink ons moet, maar ons motivering is om vrede te bewerkstellig en deel van daardie ooreenkoms sluit Rusland in. Ons dink nie wat nou gedoen word help om ʼn ooreenkoms vir vrede te bereik nie.

“Jy kan nie VN-instrumente as oorlogsmiddele gebruik nie, dit is daar om vrede en sekuriteit wêreldwyd te bewerkstellig en daarom bly ons buite stemming.”

Pandor sê ook sy het “nog nooit soveel oproepe van ministers van buitelandse sake gehad” soos wat sy sedert Februarie ontvang het nie. Sy sê Suid-Afrika beraadslaag wyd voor enige besluit geneem word, terwyl kenners, ambassadeurs en haar eweknieë in ander lande se menings ook gevra word.

Ramaphosa is egter deurlopend op die hoogte van sake.

SA gesinne in Oekraïne

André Groenewald, Suid-Afrika se ambassadeur in Oekraïne, sê die situasie in verskeie dele van Oekraïne is nog baie gevaarlik. Daar is tans nog vyf families van tot tien lede elk in Oekraïne met wie die ambassade in verbinding is.

Al vyf families is veilig en verkies om in die land te bly. Groenewald sê hulle het die Suid-Afrikaners aangeraai om verskeie planne gereed te hê, sou dit nodig word vir hulle om die land te verlaat. “Dinge verander deurlopend,” sê die ambassadeur.

Daar is onder meer ʼn familie in Kherson, ʼn stad in die suide van Oekraïne wat nou onder Russiese beheer is. “Hulle is aan die Russiese kant van sake, maar hulle is veilig.

“Dit is absoluut uit vrye wil dat hulle steeds daar is, maar hulle weet hulle kan op ons staatmaak vir hulp,” sê Groenewald.

Altesame 52 Suid-Afrikaanse studente wat in Oekraïne studeer het, het reeds die land verlaat. Daar word sedertdien planne beraam om hulle by ander instellings te laat inskakel, sodat hulle hul studies kan voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Althes ·

Met alle respek me. Pandor. Die VN is nie die probleem nie, maar Vladimir Putin. Hy weier om die oorlog teen Oekraine te eindig .
Ek stel voor dat u (wat ek glo baie meer sukses sal behaal na u kritikiek op VN) self vir Putin gaan oorreed om die oorlog te eindig.

Dries ·

Ek dink dit sal beter vir haar wees om eerstehandse ondervinding in Bucha en Mariupol te gaan opdoen

Mrs H ·

Interesant dat die uwe minister van ons so slim praat – maar met dieselfde probleme in SA weet sy blykbaar niks, en weet presies wat al die ander lande se leiers moet doen?! Sort eers die gemors op jou eie voorstoep uit voor jy ander lande wat beter vaar vertel skattie minister….

Dries ·

N SA familie wat aan die russe se kant is ????
Glo enigiemand hierdie ambassadeur. Hy is ook maar net n kader van die ANC

Henri ·

Interessant laat sy nou die Israel en Palestina krisis by die Oekraïne en Rusland oorlof betrek. In albei insidente ondersteun Suid Afrika se diplomatieke korps die aggressor.

Dries ·

Aan die russe se kant terwyl die lyke van Ukrainse burgers om hom rondlê. Bietjie dik vir n daalder

Riaan ·

Snaaks dit het die ANC nooit gepla toe die wêreld Suid-Afrika geisoleer het nie. Inteendeel hulle het aangedring dat dit verskerp moet word. Klomp twee gesigte

Johan D ·

Die ooreenkomste is nogal daar om te sien, gaan vir die sagte teikens om maksimum vrees te probeer inboesem!

Jaco ·

So dis reg as Rusland oorlog maak om ‘n etnies-Russiese minderheid in die Oekraïne te beskerm. ‘n Palestynse staat is ook reg. Hong Kong en Macao se selfregering wat China (groot pel van die ANC) hulle gee is ook reg. Maar ‘n eie staat vir Afrikaners of afskeiding van/onafhanklikheid vir die Wes-Kaap is verkeerd en vol rassisme en apartheid. Hoe dan nou? Dubbele standaarde?

JohanR ·

Oe my gooiste. Die een en NDZ moes al lankal in ‘n outehuis gewees het. Probeer nou om SA se muishond status verdedig!

Henry ·

Israel is nie die aggressor nie. Hulle verdedig hulself.
Daarom moet hulle al daai vuurpyle afskiet wat na hulle gestuur word en waar dit vandaankom gaan uitwis.
Nie in oekranie nie. Rusland gaan net in en maak dood babas vroue ens. Hulle het geen rede gehad nie. Hulle wil oekrain onder hulle beheer kry.
Mag Puten tot sy sinne kom.

capie ·

Dan moet sy maar gaan kyk hoe dit lyk as mense wat met die trein probeer vlug dood en in hul eie bloed tussen hul bagasie op die stasie van Kramatorsk lê na vanoggens se missiel die stasie getref het.

Christiaan Johannes ·

Die VN kan sekerlik ook teen die ANC regering optree omdat misdaad hoogty vier in hierdie land en daar meer mense in hierdie land vermoor word as in ‘n oorlog. Hier is ‘n oorlog wat teen ons boere gevoer word. En hierso bly die regering ook buite stemming deur nie aksie te neem nie. Good will become evil and evil will become good.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Agbare minister, wat ñ rein en edel gedagte, mits Rusland wat die aggressor is in die feeverhaal bereid was om te luister en op te lieg, beskuldigend en ontkennend optree!

Dries ·

MM julle sal regtig hierdie gesiggies by die kommentare moet verander. Ek is seker daarvan dat baie mense nie verstaan dat die tweede gesiggie beteken dat jy nie saamstem nie. Die op en af duimpies is baie beter

MT ·

Vriend Dries, ek dink jy moet bloot aanvaar dat baie mense nie met jou menings gaan saamstem nie, of dit nou met ‘n gesig of ‘n duim aangedui word.

En dis ook goed so.

domheks ·

Auntie Naledi – het jy ook oogklappe aan, soos meeste kaders. Sien en hoor net wat julle wil sien en hoor. Putin sal baie goed met kaders klaarkom – lieg so hy glo homself!

Suzette ·

Dialoog, mediasie en diplomasie???? Julle pas dit nie eens in ons land toe nie, nou wil julle vir ander voorskryf – “practice what you preach”…

Marthinus W ·

Vir eens stem ek saam met Pandor. Deur Rusland te verstoot maak jy onderhandelings moeiliker. Die besluit moes eers geneem gewees NADAT die Boetsja-tragedie ondersoek is. Indien Rusland dan skuldig sou blyk, dan moet hulle gestraf word. Jy kannie iemand straf sonder enige geldige rede nie; dit maak n bespotting van volwassenes se denke en die internasionale reg. Ons moet ophou om soos kinders te dink, met ons emosies, en eerder rasioneel daarna te kyk, ongeag hoe steurend die situasie ook was.

Net ter vergelyking: in Gasa is skole, hospitale, kerke, kleuterskole, universiteite, deur die Israelis vernietig. Hulle word agesny van watertoevoer [wat n basiese mensereg is]. Wat was die eerste ding wat Russiese sappeurs in die Krim gedoen het? Hulle het die watertoevoer wat deur Zelenski afgesny is, herstel.

Manie ·

Vol brawade komende van kleinsus terwyl sy sien hoe ouboeta besig is om pak te vat.

Dup ·

Kommunisme het oral misluk en talle lande is daardeur vernietig.Steeds is SA en Rusland boesemvriende….Klink amper soos ñ Dumb & Dumber verhaal….soort soek soort.

jeff ·

Gee nie om die VN want hulle reuse hypocrites is. Intussen, Syria, Iraq, en Saudi Arabia al in die Menseregteraad bly. Hoe nou?

Prikkie ·

“Die minister sê sy is bekommerd oor die besluit om Rusland uit die menseregteraad te skop.” Tree Rusland op soos ‘n land wat enigsins omgee vir menseregte minister Pandor?

annie ·

Ons kan nie eens tweespalt in swart woongebiede oplos nie, maar ons wil internasionale kwessies bemiddel. Dis Zelensky se grootheidswaan wat aangespreek moet word. Hy wil Putin tot ‘n val probeer bring vir die uitbreiding van sy koninkryk. Nie andersom nie. Rusland se mineraalbronne, olie en gas is die groot skat wat almal begeer maar nie verwoord word nie. Dis ‘n tragiese siek speletjie.

Alex ·

Haal die balk uit jou oë uit voor jy die splinter van n ander land wil verwyder. Hier is dit maar dieselfde. Bevorder ongelykheid en dan wil hulle die wereld vertel wat die VM verkeerd doen….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.