Ivermektien: AfriForum se regspan oorweeg regstappe

(Argieffoto ter illustrasie: Ted S. Warren/AP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om moontlike regstappe te oorweeg weens die verbod op die gebruik van ivermektien wat ontwikkel is vir menslike gebruik as behandeling teen Covid-19.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) het die gebruik van dié medisyne as Covid-19-entstof verbied en benadruk dat studies wat oor die gebruik van die middel vir die behandeling van Covid-19 gedoen is, in hierdie stadium steeds beperk is.

Volgens die beheerraad is ivermektien nie in Suid-Afrika geregistreer vir gebruik deur mense nie, hoewel die raad soms toelaat dat dit as ongeregistreerde produk vir die behandeling van individuele pasiënte gebruik mag word.

Die middel word in sommige lande reeds gebruik vir die behandeling van Covid-19-pasiënte, maar die kliniese verantwoordelikheid vir die veiligheid en doeltreffendheid berus dan net by die dokter wat dit voorskryf, sê Sahpra.

Hoewel ivermektien al vir baie jare in verskeie lande vir menslike gebruik beskikbaar is, is dit tans in Suid-Afrika net as veemedikasie beskikbaar. Die middel word gebruik vir die behandeling en beheer van parasiete in diere, asook vir die behandeling van tropiese siektes wat nie algemeen in Suid-Afrika voorkom nie. Dit word soms ook voorgeskryf vir die behandeling van skurfte of kopluise.

Barend Uys, AfriForum se hoof van navorsing, sê AfriForum dring daarop aan dat ondersoeke oor studies wat reeds oor die wêreld gedoen is oor die gebruik van ivermektien so spoedig moontlik gedoen moet word om te bevestig of dié middel doeltreffend gebruik kan word vir die voorkoming en behandeling van die virus.

“Sodoende kan dié middel wat algemeen beskikbaar en bekostigbaar is, moontlik veilig voorgeskryf word om Covid-19 te behandel. ’n Groot verskeidenheid studies in verskeie lande toon dat ivermektien moontlik doeltreffend kan wees om Covid-19 te behandel,” sê Uys.

Uys meen dit is irrasioneel om die gebruik van ’n entstof, wat binne maande ontwikkel is, goed te keur en terselfdertyd die gebruik van ’n middel wat bewys is as veilig en al vir vier dekades gebruik word, te verbied.

“Die goedkeuring van ivermektien in tabletvorm wat ontwikkel is vir menslike gebruik, is die enigste manier om die gevaar van oordosering wat tans bestaan met die gebruik van vloeibare veemedisyne teen te werk. Dit is onder die huidige omstandighede uiters onverantwoordelik van die owerheid om die invoer en gebruik van ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, summier te verbied.”

AfriForum meen dit gaan maande neem vir entstowwe om algemeen beskikbaar te wees en intussen sterf mense en werk gesondheidswerkers onder onhoudbare druk.

“Indien ’n veilige middel beskikbaar is wat moontlik die intensiteit van die pandemie kan beperk en kan help met die verligting van simptome en lyding en sterftes kan verminder, kan dit as ’n brug gebruik word tot entstowwe beskikbaar is.”

Soos vroeër berig was daar die afgelope maand toenemende oproepe op Suid-Afrika se regulatoriese owerhede om die gebruik van ivermektien vir die behandeling van Covid-19 te oorweeg.

Die organisasie Ivermectin South Africa (IVSA) het in ʼn prokureursbrief aan Sahpra gesê dit is duidelik uit data dat die gebruik van die middel veilig is vir menslike gebruik en min newe-effekte het. Die drukgroep het Sahpra 14 dae gegee om op sy skrywe te reageer en sê hy kan hom daarna in die openbare belang na die hof wend.

TLU SA het in Desember gesê die regering moet self alternatiewe maatreëls begin navors – soos onder meer die toets van ivermektien teen die virus.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het die regering gekritiseer oor sy apatiese houding teenoor die gebruik daarvan. Volgens hom is die bewese sukses van die middel teen die virus al wyd gepubliseer.

Volgens Theo de Jager, direksievoorsitter van die landbounetwerk vir familieboere, Saai, gebruik boere ivermektien al jare lank as veemiddel en het dit algemeen in hul medisynekaste beskikbaar.

“Uit kletsgroepe en internetportale is dit duidelik dat boere tans die grootste deel van die gebruikersgemeenskap van ivermektien uitmaak, sowel voorkomend as noodgeneesmiddel,” sê De Jager.

“Saai het ’n direkte belang daarby om landbougesinne en hul werkers te beskerm en die versoek om prosedures, dosisse en regulasies vir die menslike gebruik van ivermektien goed te keur, is terselfdertyd billik en dringend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ou bees ·

Dis nou net hoe ons regering n ding benader sonder insig en wysheid

Willem ·

Sien daar is nie iets te make vir die regering nie. Sakke kan nie gevul word nie

Charles ·

Jammer maar dit val nie in by die wereldwye narratief van entstof nie.

Oomniklaassevriend ·

Ivermektien wat al vir vier dekades gebruik word lyk vir my na ‘n veiliger keuse as ‘n entstof wat binne ‘n rekordtyd ontwikkel is met nuwe omstrede tegnologie.

Hendrik ·

Die minister van gesondheid is die “beheer/custodian” en moet pa staan dat die middel nog nie getoets is in Suid Afrika en dan beskikbaar is nie. ‘N tydjie gelede is ‘n Pakistaanse burger in hegtenis geneem om hy hierdie medisyne in sy besit gehad het.
Ek glo dit is tyd dat ons as burgers die “bevel/beheer/custodian” voor die hof sleep omdat hulle nie doen waarvoor hulle aangestel is nie.

Sonia ·

En dan is daar nog mense wat Afriforum in twyfel trek of selfs sleg maak! Afriforum, julle doen baie puik en noodsaaklike werk, ons familie is trots om lede te wees en ook dankbaar vir julle. Mag julle sukses behaal teen die korrupte regering ook in hierdie saak.

Johan ·

Ons moet so gou moontlik van die diktatorskap ontslae raak. Die “krisis” , wat net deur hul regulasies geskep is, is nou oor.

Astrain ·

Dit gaan hier gladnie oor die belang van die burgers van SA nie, dit gaan oor beheer. Skep vrees en chaos, dan beheer jy die massas, as jy die massas beheer, besit jy mag, as jy mag in hand het, besit jy die geld…

Dirk Mostert ·

Ons regering en ander regerings sal dit nie toelaat nie, want hulle word aan die neus gelei deur die WGO, wat gefinansier en beheer word deur Bill Gates en China. B.G. sal nie kompetisie duld vir Bill Gates & Kie farmaseutiese maatskappye, wat reeds al die pad bank toe lag nie. Soos die WGO die (suksesvolle) gebruik van kinien teengestaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.