Jhb-metro moet begroting ‘wysig’

Johannesburg, metro, stadsraad, water, begroting

Inwoners van Blairgowrie, Johannesburg, het in  Maart vanjaar betoog oor grootskaalse watertekorte in die Goudstad. (Foto: WIKUS DE WET / AFP)

Die begroting van die Johannesburgse metroraad is onbekostigbaar, onaanvaarbaar en onwettig.

Dit is die mening van die drukgroep JoburgCAN ná die Johannesburg-metro sy konsepbegroting vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van 2024-’25 bekend gemaak het.

Die groep het verder ʼn dringende beroep op die stadsraad gedoen om sy begroting te hersien. As ʼn inisiatief van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het JoburgCAN reeds ʼn formele voorlegging by die stadsraad ingedien.

“Onrealistiese begrotings, ʼn oorbetaalde burgemeester, onverklaarbare bykomende poste, duur, nuwe voorafbetaalde elektrisiteitsuitgawes en onvoldoende besteding aan noodsaaklike infrastruktuur dra by tot ʼn mislukte begroting,” sê die organisasie in ʼn verklaring.

Die groep meen ook die begroting is onwettig omdat dit nie voldoen aan die behoeftes van ʼn stad waar dienste reeds in duie stort nie.

“Die stabilisering van die water- en elektrisiteitsnetwerke behoort die GOP se hoofdoelwit te wees. Dit sal ʼn stabiliserende uitwerking hê op die res van die beplande doelwitte,” sê Julia Fish, bestuurder van JoburgCAN.

Dit is egter nie wat die organisasie in die begroting waarneem nie.

Volgens Fish is daar onverklaarbare toenames in personeelgetalle en munisipale raadslede. Sy het ook die onnodige besteding op private veiligheid vir die topamptenare uitgewys.

Fish benadruk ook dat die stadsraad sukkel met invorderings en slegs ʼn 85%-invorderingskoers handhaaf. Verder onderbestee die stadsraad sy nasionale toelaag met ongeveer 45%.

“Die feit dat R700 miljoen se toelae nie spandeer is nie, is groot rede tot kommer.”

Enorme waterverliese is ook ʼn bykomende las vir die stadsraad. In die 2022-’23-boekjaar het Joburg Water sowat R8,5 miljard se waterverkope aangemeld, terwyl die verliese R2,9 miljard beloop het. Volgens dié instelling word sowat R64 miljard benodig om die watertoevoernetwerk te herstel. Die rioolnetwerk het ʼn agterstand wat R24 miljard om dit reg te ruk.

“JoburgCAN verwerp die begroting as onbekostigbaar, onaanvaarbaar en onwettig.”

Die organisasie sê hy het hom egter vasgeloop in burokratiese rompslomp ná sy voorleggings. Volgens Fish is die groep in kennis gestel van die ontoeganklikheid en ontoereikenheid van die metro se openbare vergaderings. Dit tesame met dokumente wat verlê word of verlore raak, maak die tydperk van 21 dae vir openbare deelname gans te kort.

Die groep het reeds op 19 April uitstel gevra vir die indien van sy eie voorlegging, maar het tot op hede nog geen antwoord hierop ontvang nie.

“Ons het ten spyte hiervan ʼn gedetailleerde voorlegging ingedien met die inligting tot ons beskikking in die beperkte tyd wat toegeken was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alta Alleman ·

In ons dorpie in die Oos Kaap kry ons net 1 keer elke 2 weke water. Dis so swak jy wag n uur om n 20 liter emmer vol te maak.

Martie ·

Wat ek nie verstaan nie is waarom is daar watertekorte in Johannesburg en Pretoria. Is dit stukkende infrastruktuur, ‘n tekort aan elektriese tyd om die water te pomp of wat. Watertekort kan hulle nie hê nie want wat word van die Vaaldam en Hartebeespoortdam se water? Hoekom moet hulle water van die Lesotho hoogland skema kry? Ek is seker nou dom maar ek verstaan dit net nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.