Joernalis Moses Moyo ter ruste gelê

Moses Moyo (Foto via ANA)

Moses Moyo, bekende joernalis en uitgewer, is Saterdag in Johannesburg ter ruste gelê.

Moyo, wat in Zimbabwe gebore is, is op 25 Oktober in die ouderdom van 40 by sy huis in Johannesburg oorlede ná ʼn kort siekbed.

Leiers van verskillende godsdiensgroepe, politieke organisasies, medejoernaliste, veral van #ZimJournalistsSA, ʼn burgerlike organisasie saam met wie Moyo gewerk het om misdaad op die strate van Johannesburg te bekamp, het die begrafnis by Wespark-begraafplaas bygewoon.

Nuusfotograaf Dianah Chiyangwa, een van Moyo se vriende, het gesê Moyo het homself daarop toegespits om voornemende skrywers en fotograwe onder sy vlerk te neem. “Hy wou graag sien dat ander joernaliste, veral jong joernaliste, verbeter. Hy het vir enigiemand wat graag sy of haar werk wou publiseer, ʼn platform gegee deur sy koerant, die Inner-City Gazette,” het sy gesê. “Sy begrafnis is ʼn teken van die impak wat hy op jonk en oud gehad het en van verskillende mense uit verskillende agtergronde. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat hy my gebied het om ook ʼn bydrae te maak tot die Inner-City Gazette.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Moyo vroeër vandeesweek beskryf as “ʼn bate en vennoot” van die stad. “Hy was goed vir Suid-Afrika. Ek onthou hoe ek hom ontmoet het toe ek besig was met my veldtog om burgemeester te word. Ons het vir een of ander rede ʼn goeie vriendskapsband gebou.”

Mashaba het gesê Moyo het gereeld saam met hom gegaan wanneer hy die haglike toestande van die stad ondersoek het. “Hy het altyd gesê, ‘burgemeester, ons moet iets hieraan doen’. As ʼn stad is ons daartoe verbind om hierdie stad in ʼn konstruksieperseel te verander, om waardigheid vir ons mense te gee. Maar ek weet nie hoe ek dit gaan doen sonder die hulp van hierdie jong man nie. Moses was nie net ʼn verslaggewer nie, hy was ʼn nie-amptelike vennoot.”

Moyo het ook nou saam met die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes en ander organisasies, wat die belange van Israel verteenwoordig, gewerk.

Sy koerant het omvattend berig oor haglike omstandighede van mense wat in die stad woon, veral in die middestad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.