Joernalis vlug glo na Lesotho ná polisie hom aanrand

Paul Nthoba (Skermgreep uit televisie-onderhoud)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) is baie bekommerd dat ʼn gemeenskapsmediajoernalis, Paul Nthoba, gedwing is om uit die land te vlug en toevlug in Lesotho te gaan soek.

Mahlatse Mahlase, voorsitter vir Sanef, het gesê Nthoba is op 15 Mei 2020 deur beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangerand toe hy ondersoek ingestel het oor die sigbaarheid van polisiebeamptes wat moet seker maak dat burgers aan die Covid-19-afsonderingsriglyne voldoen. “Hy is fisies aangerand in die informele nedersetting, Meqheleng, naby die Lesotho-grens,” het Mahlase verduidelik.

“Ná die voorval is Nthoba na die Ficksburg-polisiestasie om ʼn saak aanhangig te maak, maar in plaas van hulp, het hy verdere mishandeling beleef.”

Terwyl hy by die polisiestasie was, het dieselfde beamptes, wat hom na bewering aangerand het, opgedaag en wou hom verhoed om ʼn saak aanhangig te maak. “Hulle het volgehou dat hy aangekla moet word vir oortreding van die Rampbestuurwet. Ons verstaan Nthoba is verder in die stasie aangerand.”

Nthoba het aan Sanef gesê hy het besluit om die grens na Lesotho oor te steek om toevlug te soek by die Verenigde Nasies se kantoor, omdat hy vir sy lewe gevrees het.

“Ná die aanranding het hy amptelike polisievoertuie in sy straat opgemerk en nog ʼn voertuig wat ʼn paar meter van sy huis af geparkeer was, sonder enige verduideliking. Sy familie was uiters besorg en hy het besluit om te vlug.”

Hy het die Verenigde Nasies se kantoor in Lesotho en die Lesotho-regering gekontak en hulle het saam gewerk om hom te beskerm. “Hy is in kwarantyn geplaas weens die koronavirus-beperkings.”

Volgens Mahlase is die betrokke polisiebeamptes steeds aan diens.

“Nthoba het bevestig dat die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), hom Maandag besoek het. Hy was besig om ʼn gedetailleerde verklaring vir Opod saam te stel toe hy die SAPD-beamptes opgemerk het. Hy het die SAPD versoek dat hulle sy veiligheid kan verseker.”

Mahlase het gesê Sanef versoek ook die polisie om die versekering te gee dat Nthoba veilig kan terugkeer huis toe. “Dit is onaanvaarbaar dat ʼn Suid-Afrikaanse burger die mense moet vrees wat veronderstel is om hom te beskerm. Ons wil ook weet watter stappe die polisie gaan doen teen die betrokke beamptes.”

Sanef het ook kontak gemaak met die minister van polisie het formeel ʼn skrywe aan hom gerig. “Hy het ons gerus gestel dat hy die saak sal met die nasionale en provinsiale polisiekommissarisse sal bespreek om seker te maak dit word dringend hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Ja Cele kry jou mense onder beheer . Jy kan nie eens n paar van jou eie intoom hou nie . Hoe kan jy nog n land se mense in toom hou.

Catantho ·

Bly liewer in Lesotho vir nou. Ek sou nie ‘n woord glo wat die SAP beloof nie. En as die betrokke polisiemanne gedissiplineer gaan word, sal hulle maatjies jou lewe verder versuur. Dink jy gaan moet trek….

koos10 ·

As die SAPS mense aanrand wat op straat loop of ‘n dop maak, hoe sal jy dan nou dink gaan hulle doen as jy ongemaklike vrae vra?
Maar ek het respek vir jou en jou kollegas, wat tenspyte van die gevaar, voort gaan om die vrae te vra.
Net baie jammer dat die antwoorde nooit so bekend word soos die vrae wat gevra word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.