Johannesburgse debat uitgestel ná burgemeester siek word

Die Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda. (Foto: Twitter)

’n Debat van die Johannesburgse metroraad moes Woensdag skielik uitgestel word nadat burgemeester Kabelo Gwamanda gedurende die debat siek geword het.

Gwamanda moes boonop Woensdag hoor dat daar ’n mosie van wantroue teen hom ingestel gaan word.

Volgens die metroraad voel Gwamanda sedert Dinsdagoggend al olik. Die burgemeester het dit egter belangrik geag om sy eerste stadsrede Dinsdag te lewer en ’n mediese span het hom eers ná die stadsrede ondersoek.

Die metroraad sê die burgemeester se toestand het egter teen Woensdag tydens die debat versleg waarna sy mediese span hom aangeraai het om hom van die debat te verskoon en hospitaal toe te gaan.

Die presiese besonderhede rakende Gwamanda se siekte is nie in dié stadium duidelik nie. Soos Maroela Media verstaan, is Gwamanda reeds ontslaan.

Die nuus oor burgemeester Gwamanda se swak gesondheid volg nadat ActionSA aangedui het dat hy ’n mosie van wantroue teen Gwamanda gaan indien. Die mosie sal na verwagting later vandeesmaand aangehoor word.

Die party is ongelukkig oor Gwamanda se versuim om besonderhede rakende strafregtelike aantygings teen hom uit te klaar.

Gwamanda word ook daarvan beskuldig dat hy ’n afwesige burgemeester is.

Gwamanda van die Al Jama-ah-party is in Mei vanjaar tot burgemeester verkies nadat die Goudstad byna twee weke lank burgemeesterloos was.

Gwamanda het Thapelo Amad, ook van Al Jama-ah, as burgemeester vervang nadat dié bedank het. Amad het minder as drie maande lank die burgemeesterspos beklee.

Al Jama-ah is ’n klein Moslem-party en beklee slegs drie van die Johannesburgse raad se 270 setels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Danie ·

Net die uiterlike vertel baie.Wat gaan dit kos om n ordenklike bestuurder daar in plek te kry?

Andrew ·

hahahaha. Mosie van wantroue . Wag, Tswhane se burgermeester is volgende

Kokerboom ·

Die politieke woer-woer spelery in sekere metros moet deur President stopgesit word dws as hy wil of kan. Dis ‘n absolute skande dat onbevoegde skaamtelose politieke opportuniste so speel met belastingbetalers se toekoms en geld. Kyk net na tipe karakters wat aangestel word! Die kaders maak ‘n bespotting van demokrasie..hulle verstaan NIE konsep!

Hendrik ·

Hierdie meerderheids Demokrasie werk nie en sal moet verander. Ek dink tog daar gaan een of ander staatsgreep uitgevoer word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hendrik, wrede kartelle beheer die politiek, die staatsdiens, die polisie en weermag. Dit sluit in misdadigers in onwettige sigarette, dwelms, taxis, mynbou, konstruksie, mensehandel, voertuigkapings, vragmotorroof, wapens, wild, vee, om net ‘n paar te noem. Eerlike polisiemanne is slagoffers. Joemat se dood is verdag. Brig Burger weier om voor die LPs te verskyn want hy vrees vir sy lewe. ‘n Staatgreep sal dalk help maar dan is ons soos Afrika. Ons is in moeilik my vriend, groot moeilikheid.

annie ·

Die ANC party het dan seker darem nog ‘n kandidaat oor om die sirkus in die stat te laat voortspeel. As hy nou so siek bly met ‘n reuse entourage van medici wat hom orals vergesel kan hy maklik vir Biden die loef afsteek wat hom tot ‘n hoër klas van politici sal verhef. He kan dalk die baas van die VV of die FBI of die Wêreldbank word of soiets. Miskien kan hy dit nog ver bring en SA tot voorste ekonomie in die wêreld ophef. Gee die man ‘n kans om siek te speel. Hy werk met ‘n plan.

Andries ·

‘n Mediese span en gewone mense moet n ‘n ry sit en wag om een verpleegster te sien.

skurweberg ·

Hierdie man lyk bekommerd en gespanne, oor sy pligstaat en verantwoordelikheid.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hy is meer bekommerd oor die nuwe kar wat hy kan koop. Merc, BeeM, of 4×4? Dit sal my ook bekommer.

Witbaard ·

Waarom is daar n onder-burgemeester? Hy moet mos pa staan as die burgemeester nie kan nie.

otter ·

oooo jinne nog 1…..wat maak hulle met die burgermeesters daar in die gautengeleng….. as dit nie motor ongelukke is nie dan word hulle siek …..

TheSnake ·

Ja wat, gee elke ou ‘n kans. Burgermeester pos is mos baie lonend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.