Jong man verdrink by Strand

(Argieffoto: Pixabay.com)

ʼn 20-jarige man van Delft het Dinsdag by Strand in die Wes-Kaap verdrink nadat hy en sy tienerbroer in die see in die moeilikheid beland het.

Die man se jonger broer (17) kon betyds uit die see gered word. Hul name is nie bekend nie.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai het omstreeks 14:00 op die betrokke dag inligting ontvang dat twee mense probleme in die water ervaar.

Kringtelevisiekameras het reddingswerkers in die rigting van die twee mans gewys. Hulle was in die middel van die gebied waar die golwe breek.

DIe NSRI, nooddienswerkers van die Stad Kaapstad, private ambulansdienste en paramedici, ʼn reddingshelikopter en lede van die polisie se duikeenheid is onder dié wat na die toneel ontbied is.

“Lewensredders van die Stad Kaapstad het die see ingevaar en die 17-jarige seun uit die water gered. Hy is op die toneel deur paramedici behandel,” het die NSRI gesê.

“Sy ouer broer was vermis.”

Die NSRI se reddingsboot, Zelda, is die see in om na die vermiste man te soek.

“Die man se liggaam is gedurende die soektog onder die water op die seebodem aangetref. ʼn NSRI-reddingswemmer het die man uitgeduik en op die reddingsboot gelaai.

“Hy is na die Strand-lewensreddingsklub geneem waar paramedici probeer het om hom by te bring. Die man is egter dood verklaar.”

Die man se liggaam is ná die voorval deur die provinsiale patalogiese diens oorgeneem. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

Standaard praktyt as iemand dood is agv onnatuurlike oorsake

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.