Jong SA’ner in Ierland sing ‘dat die kranse antwoord gee’

Niamh Smith (Foto: Verskaf)

Toe die 12-jarige Niamh Beatrix Smith se gesin vier jaar gelede van Suid-Afrika na Ierland verhuis het, het sy in musiek ʼn veilige hawe in dié nuwe en vreemde omgewing gevind.

Hoewel Niamh [uitgespreek Neave] van kindsbeen af sing, het sy sedert die emigrasie eers werklik met haar sangtalent begin woeker.

“Sy het musiek haar lig gemaak toe sy in die vreemde land van voor af die stukke in haar lewe moes optel,” vertel haar ma, Alda.

Wanneer Niamh Afrikaanse liedjies sing, voel sy nie té ver van haar geliefde geboorteland nie – ʼn land waarheen sy graag eendag sal wil terugkeer.

“Dit wys dat musiek en taal nie landsgrense ken nie.”

Niamh het onlangs ʼn opname van die treffer “Klein tambotieboom” van die alternatiewe groep Die Heuwels Fantasties gemaak en haar weergawe is binne net ʼn week meer as 5 000 keer op YouTube gekyk.

Alda sê Niamh wou ʼn Afrikaanse liedjie sing en opneem en “Klein tambotieboom” het haar aan haar grootwordjare in Suid-Afrika laat dink.

“Ek het vir haar ‘Klein tambotieboom’ gespeel en sy het dadelik daarvan gehou.”

‘Singend gebore’

Niamh Smith (Foto: Verskaf)

Volgens Alda is Niamh “singend gebore”.

“Sy het as baba vreeslik gehuil en wou net nie tot bedaring kom nie. Haar oudste broer, Jesse (15), was ʼn ou stil babatjie en ek het heel verskrik gevoel met hierdie klein dogtertjie wat so ʼn keel kon opsit.”

Toe Niamh begin praat, het sy byna meer gesing as gepraat.

“As ons in die motor gery het, het sy agterin haar motorstoeltjie Amanda Strydom gesing dat die kranse antwoord gee. “Sara Stoepsit”. “Sy brand kerse”. Die hele lot. Sy het ook altyd al singend pop gespeel of stories gesing.”

Omdat Niamh ʼn skaam dogtertjie was, het sy nooit daaraan gedink om voor mense te sing nie. Toe sy omtrent agt jaar oud was, het haar vriendin se ma haar gehoor sing terwyl die meisies karaoke by hul huis gesing het. Dié ma het aanbeveel dat Alda vir Niamh laat sanglesse neem.

Alda het haar dogter vir lesse by Gerrida Dickanson, ʼn sangafrigter in Kaapstad, ingeskryf. En sy neem vandag steeds lesse by Dickanson – al is dit deesdae oor Zoom.

Sy kry ook ondersteuning van een van die voorste internasionale sangafrigters, Julie Miles, en die Ierse sangeres-liedjieskrywer Janet Grogan.

Sy hou van soul-musiek en liedjies wat stories vertel. Niamh sing boonop in verskillende tale: Engels, Afrikaans en selfs Iers. Sy sien op na Adele, Elvis Presley, Eva Cassidy en Judy Garland as sangers.

Droom groot

Niamh Smith (Foto: Verskaf)

Niamh was nog altyd ʼn dromer en het haar sangdroom ook van jongs af begin nastreef. In Ierland het sy aan kompetisies begin deelneem.

Sy het Suid-Afrikaanse kleure vir die uitvoerende kunste verwerf, is bekroon as beste junior algehele sanger by die Talent Africa Championships, het Ierland verteenwoordig in die Oscar Hammerstein International Musical Theatre se solo-eindstryd en is gekies vir die kinderkoor in die Irish Women and Harmony’s Christmas Single.

Sy het ook op die TV-reeks Donncha’s Two Talented verskyn en in die 2020 Late Late Toy Show, ʼn jaarlikse spesiale uitgawe van die Ierse kletsprogram The Late Late Show.

Sy is ook uit duisende kinders gekies vir die uitdunne van ʼn gesogte musiekprogram in Ierland wat later vanjaar plaasvind en wil aan die The Voice Kids-kompetisie deelneem.

Die opkomende ster het ook ʼn geldinsamelingsveldtog genaamd “Shine from within” van stapel gestuur om geld vir die Make-a-Wish-Foundation in Ierland in te samel. Make-a-Wish is ʼn kinderliefdadigheidsorganisasie wat kinders met lewensbedreigende mediese toestande help om spesiale drome te bewaarheid.

Niamh hoop om met haar veldtog €1 000 (byna R20 000) vir die stigting in te samel. Sy skep bewusmaking van die veldtog deur middel van haar liedjies en optredes.

“Ek is baie bly om dit waarvoor ek lief is, te gebruik; om ʼn lig te laat skyn op die dinge wat vir my belangrik is: familie, gemeenskap, musiek en om kinders te help wat hoop nodig het,” skryf Niamh op Instagram.

In sy boodskap aan Niamh sê Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels Fantasties, dat hulle (die groeplede) uitsien om dié jongeling te ontmoet wanneer hulle Dublin in Augustus vir ’n optrede besoek. Hy het haar ook vir die insamelingsinisiatief geprys.

Niamh wil graag eendag met kinders met spesiale behoeftes werk, maar haar musiek bly immer belangrik.

“Miskien vind sy nog ʼn manier om die twee te kombineer, maar ons voel dis goed dat sy ʼn balans handhaaf. Sy is nog baie jonk en daar moet nog baie water in die see loop,” sê haar ma.

(Foto: Verskaf)

Niamh stel ook belang in stem-spel, videoproduksie en fotografie.

“Sy hou ook van diere. Sy wil graag ʼn Birmaanse berghond hê – soos pres. Michael Higgins van Ierland, maar ons huis is reeds vol met twee honde en ʼn kat. Hier is ook baie ander diere op die plaas waar ons woon – van perde en bokke tot krimpvarkies, uile, jakkalse en ratels.”

Lewensveranderde besluit

Die Smith-gesin (Foto: Verskaf)

Die Smith-gesin, Alda en haar man, Johann, en hul drie kinders, Niamh, Jesse (15) en Néo (10), het in Kaapstad gewoon voordat hulle vier jaar gelede na Ierland geëmigreer het. Hulle woon tans net buite die plattelandse dorp, Roundwood, County Wicklow, op ʼn plaas.

Die egpaar het jare gelede, voor hul troue het, vir twee jaar in Ierland gewoon en gewerk (en dit is waar Niamh se Ierse naam vandaan kom).

“Toe ons die besluit geneem het om te trek, was Ierland ons eerste keuse. Dit was nie ʼn maklike besluit nie – ek dink ek en Niamh verlang die meeste. Die grootste dryfkrag was maar geleenthede – vir ons en die kinders.”

Volgens Alda was die verhuising na Ierland allermins maklik en ʼn groot aanpassing.

“Dit was veral moeilik vir Niamh, wat in ʼn meisieskool was en op die ouderdom van nege jaar weer moes maats maak. Maar musiek bring mense saam en dit is ook dan deur musiek wat Niamh haar voete hier in Ierland gevind het, want musiek is ʼn baie groot deel van die Ierse kultuur.”

Vir nou is Ierland die gesin se tuiste.

“Die kinders is gevestig in hul skole en ek en Johann geniet albei ons werk. Maar ons sluit nie ʼn toekoms tussen die twee lande uit nie en ek weet Niamh sal graag eendag permanent na Suid Afrika wil terugkeer.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lizl ·

Sing, sussie, sing! Wat n pragtige stem! Ek weet sommer ons gaan nog baie van jou hoor.

Miss J ·

Mooiste berig , pragtige kind en mooiste stem. En die keuse van liedjie is roerend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.