Jong seun verdwyn in see by Noetzie-strand

Noetzie-strand in Knysna (Foto: Verskaf)

ʼn Jong seun van Knysna het Maandag in die see verdwyn ná hy vermoedelik saam met maats in die see by Noetzie-strand geswem het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die NSRI Knysna Stasie 12-diensbemanning ongeveer 13:40 ontbied ná hulle verskeie oproepe van ʼn verdrinking by die Noetzie-strand ontvang het.

“NSRI-bemanningslede, die polisie en ER24-ambulansdienste het op die noodoproep gereageer. Die NSRI het ook twee reddingstuie – die JayTee IV én die Katharine – uitgestuur om met die soektog na die jong seun te help.”

Met hul aankoms op die toneel het ʼn soektog na die seun, vermoedelik 8 jaar oud, begin.

Volgens Lambinon blyk dit dat die kind saam met vriende geswem het toe ʼn volwassene op die strand voorgestel het dat hulle teruggaan strand toe.

“Daar word berig dat die kind in daardie stadium moontlik in ʼn trekstroom vasgevang was. ʼn Volwasse omstander het glo probeer om die kind te red voordat hy onder die water verdwyn het.”

Lambinon sê ʼn inwoner, Duran de Villiers, het kort daarna sy privaat helikopter vrywillig beskikbaar gestel om met die soektog te help.

“Ondanks ʼn uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog is daar egter geen teken van die seun gevind nie.

“Die polisie, asook hul waterpolisiëring- en duikdienste gaan voort met die soektog.

“Ons gedagtes is by die familie en vriende van die vermiste kind in hierdie moeilike tyd,” sê Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Sjoe dis tragies – was al daar, pragtige strand. Hoop van harte hulle vind hierdie kind

Sê maar net ·

Dis baie hartseer. Sterkte aan die familie….
Dit wil voorkom asof die see deesdae meer onvoorspelbare en skielike trekstrome het. Mense moet maar versigtig wees en ten alle tye hul kinders binne grypafstand hou. Die see word kwaai en onvoorspelbaar, wêreldwyd…..

Karoo ·

Baie dankie NSRI – wat sou ons sonder julle onbaatsigtige diens gedoen het. Mense, ondersteun asb hierdie NGO, almal wat lief is vir die see, of iemand verloor het wat lief was vir die see. Hulle is altyd eerste daar, en laaste om huistoe te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.