Jong veearts van Villiers verongeluk

Jan Harm Steenekamp (Foto: Jan Harm Steenekamp/Facebook)

Die gemeenskap van Villiers in die Vrystaat is in skok oor Jan Harm Steenekamp (29), ʼn jong veearts van Wilgepoort Veedienste, se dood. Hy was Sondagoggend in ʼn motorongeluk betrokke.

Die ongeluk het net voor 06:00 buite Villiers plaasgevind. Steenekamp was reeds dood toe die ambulansdienste op die toneel aangekom het.

Volgens ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het Steenekamp se wit Landrover volgens inligting op die R26-pad tussen Villiers en Frankfort omgeslaan.

“Die bestuurder van die voertuig het na bewering beheer oor die voertuig verloor, waarna die voertuig omgeslaan het,” bevestig Earle. “By hul aankoms op die toneel het die polisie die omgeslaande voertuig aangetref. ʼn Man, geïdentifiseer as Jan Harm Steenekamp, is in die veld aangetref. Hy is deur die nooddienste dood verklaar.”

Dawie Maree, Steenekamp se jarelange vriend en kollega, sê Steenekamp se dood was ʼn verskriklike skok.

“Hy gaan ʼn groot leemte in ons almal se harte los,” sê Maree.

Steenekamp het in 2019 sy veeartsenykundige studie aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus voltooi.

Hy het in Januarie 2022 as veearts by die Wilgepoort Veedienste aangesluit en in sy kort tyd daar het hy ʼn groot verskil in die Villiers-gemeenskap gemaak.

“Jan Harm word onthou as ʼn talentvolle, deernisvolle veearts. Sy passie vir diereversorging en -welstand was inspirerend. Sy toewyding aan sy werk was duidelik in alles wat hy gedoen het, en sy vriendelike en sagte geaardheid het hom ʼn geliefde lid van die Wilgepoort Veedienste-gemeenskap gemaak,” skryf Biofarm, ʼn veeartsenykundige groothandelaar, op sy Facebook-blad.

“Sy ontydige heengaan is vir ons almal ʼn geweldige verlies. Ons sal sy aansteeklike glimlag, sy onwrikbare optimisme en passie vir die lewe mis.

“Ons sal Jan Harm altyd onthou as ʼn blink voorbeeld van wat dit beteken om ʼn groot veearts te wees, en sy nalatenskap sal voortleef deur die ontelbare lewens wat hy aangeraak het tydens sy tyd by ons.”

Maree vertel Steenekamp het ʼn oneindige liefde vir al sy vriende gehad.

“Hy was altyd bereid om enige tyd van die dag of nag te help waar hy kan. Hy het altyd sy vriende ten volle ondersteun en aangemoedig om die beste weergawe van hulself te wees,” sê Maree.

Steenekamp se vriende onthou hom as iemand wat die lewe met albei hande aangegryp het.

ʼn Roudiens vir Steenekamp word Vrydag om 10:00 in die NG Kerk Hoofstraat op Villiers gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WILLEM ·

Ons verstaan dit nie. Ons het self ‘n seun verloor op jong ouderdom. Sterkte aan die naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.