Jonger boere wil vinniger padgee – navorsing

plant_plaas_landery_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto bloot ter illustrasie: pixabay.com

Jonger boere wat tans tussen 30 en 45 jaar oud is, is meer waarskynlike kandidate om binne die volgende tien jaar uit dié bedryf te tree.

Só het dr. Kandas Cloete, senior-analis by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), bevind in haar ondersoek na produsente se planne om die sektor te verlaat.

In haar tesis vir ʼn PhD in landbou-ekonomie, wat sy onlangs van die Universiteit Stellenbosch behaal het, het Cloete ook die grootste faktore wat dié besluit beïnvloed nagevors en gekyk wat hierdie uitreeplanne vir plaasuitbreiding en nuwe toetreders beteken.

Uit die navorsing blyk dit dat sowat 20% (ʼn vyfde) van die land se produsente beplan om die mark binne die volgende dekade te verlaat. Diegene wat die mark behoort te verlaat weens ouderdom of armoede en dit nié doen nie, blyk egter ʼn groter kwessie te wees.

Die navorsing het verder aan die lig gebring dat faktore soos finansiële probleme, ’n gebrek aan betroubare arbeid, onsekerheid aangaande die grondhervormingsbeleid en kommer oor landelike veiligheid die besluit om uit te tree dryf.

Bly of gly – dis die vraag

“Ons almal ken iemand, of iemand wat iemand ken, wat in die afgelope paar jaar uit die landbou getree het,” sê Cloete, wat self op ’n plaas buite Laingsburg grootgeword het.

“Die vraag waarom produsente uit die boerdery tree en hulle grond verkoop, is ’n onderwerp wat histories in datatabelle en vanuit ’n beleidsperspektief gedek is. My belangstelling was om vooruit te skat of hierdie patroon gaan voortduur, en wat die dryfkragte agter die besluit is om uit te tree of aan te bly.

“Grondvraag en -aanbod bly ’n komplekse en veelsydige verskynsel, maar dit kan in kleiner dele opgebreek word deur gestruktureerde ontledingsmetodes te gebruik soos in hierdie navorsing.”

Ten einde faktore te identifiseer wat produsente se bereidwilligheid om hul grond te verkoop dryf, het Cloete die terugvoer van 450 deelnemers aan ’n opname oor grondgebruikspatrone ondersoek.

Sy het in haar navorsing vier afsonderlike groepe van respondente geïdentifiseer: die “ambisieuses”, die “volhouers”, die “uittreders” en die “aanblyers”.

Een uit vyf produsente wil uittree

Een uit elke vyf van die produsente wat aan Cloete se studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle beplan om binne die volgende tien jaar uit boerdery te tree.

Cloete het bevind dat produsente wat tans tussen 30 en 45 jaar oud is, meer waarskynlike kandidate is om uit die boerdery te tree as dié wat tussen 45 en 65 jaar oud is.

Sy beskryf die gemiddelde boer wat waarskynlik sal uittree as ’n “derde-generasie, 54-jaar oue individu met 26 jaar ondervinding en ’n kollegediploma of universiteitsgraad”.

“Hierdie produsent betaal tipies nog aan langtermynlenings af, terwyl hy ook produksielenings en ander tipes skuldkapitaal gebruik.

“Gegewe die finansieel-beperkende posisie waarin hy homself bevind — tesame met ’n gebrek aan sakevertroue — is sy finansiële strategie om sy plaaswerksaamhede in te krimp eerder as uit te brei. Gevolglik bly dit ’n uitdaging om verskeie lenings te bestuur terwyl hy ook vir aftrede moet beplan.”

Hoewel die besluit om in die landbousektor aan te bly of daaruit te tree dikwels ’n persoonlike een is wat deur die unieke omstandighede gedryf word, het Cloete tog gemeenskaplike temas in die vier verskillende groepe gevind.

Resultate wys dat uittreebesluite deur beleggingskoste, finansiële beperkings en die produsent se ouderdom beïnvloed word.

Ander beslissende faktore sluit in aftrede sonder opvolging, finansiële probleme, ’n gebrek aan betroubare arbeid, onsekerheid aangaande die grondhervormingsbeleid en kommer oor landelike veiligheid.

Terwyl geen verband tussen omset en uittreeplanne vasgestel kon word nie, sou ’n groter omset (van meer as R10 miljoen per jaar) beslis ’n rol kon speel in die besluit om aan te bly.

Cloete sê produsente se besluite om aan te hou boer word ook deur sakevertroue en produksielenings beïnvloed.

“Dit is gewoonlik ’n kombinasie van verskillende faktore wat die besluit om uit die boerdery te tree en die grond te verkoop bepaal.”

‘Grondmark funksioneer goed’

Cloete sê daar is genoeg grond in die mark beskikbaar as gevolg van sekere produsente se uittreeplanne. Dít kan ander wat óf tot die sektor wil toetree óf hulle huidige werksaamhede wil uitbrei, akkommodeer.

“Die resultate wys dat die Suid-Afrikaanse grondmark inderdaad goed funksioneer.

“Dit word bewys deur produsente se voorneme om uit die boerdery te tree. Daarom is grondaanbod — in die algemene sin — nie ’n beperkende faktor in transformasie in die landbousektor nie.”

Nogtans word die grondmark in ’n mate beperk deur produsente wat nié wil uittree nie, wat voornemende boere verhinder om tot die sektor toe te tree.

“Dikwels skep een persoon se besluit om uit te tree ’n geleentheid vir ’n ander persoon. Produsente wat besig is om uittreeplanne te maak, is ook besig om uitbreiding deur ander produsente en toegang vir nuwe toetreders moontlik te maak.”

Faktore wat produsente verhinder om uit te tree sluit volgens Cloete finansiële kwesbaarheid, versonke koste en transaksiekoste in. Pagsoek, grondeienaarskap en die persepsie dat grondmarkpryse sal groei, word ook as bydraende faktore beskryf.

Cloete sê wat wel kommerwekkend is, is die aantal produsente wat beplan om voort te gaan met hul werksaamhede ten spyte daarvan dat hulle deur bestaande finansiële verpligtinge beperk word en die feit dat hulle nie beplan om in die toekoms te belê nie.

“Terwyl dit lyk asof daar gesamentlik ’n groot aptyt is om die bul by die horings te pak, word sommige produsente genoodsaak om uitdagings na die beste van hul vermoë te hanteer. Baie produsente sal egter uiteindelik aftree en hul plase verkoop omdat geen ander lewensvatbare oplossing beskikbaar is nie.

“Nogtans beïnvloed finansiële kwesbaarheid, as gevolg van die risiko’s verwant aan boerdery, produsente se finansiële posisie en laat dit dikwels ouer produsente onvoorbereid vir aftrede.”

Daarom meen Cloete die verlies van 20% van Suid-Afrikaanse produsente is dalk nie die grootste kwessie nie, maar eerder die feit dat diegene wat behoort uit te tree, dit nie kan of wil doen nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

AW ·

Elke mens moet vir homself/haarself besluit !!
Sterkte, aan die wat dan SA verlaat.

anniekiewiet ·

Ongelukkig is ‘n besluit wat in baie gevalle deur omstandighede op jou afgedwing word deur al die redes hierbo genoem, nie altyd jou harts begeerte nie.

Di ·

Dink daar is BAIE van ons wat hierdie land wil verlaat maar ongelukkig nie die finansies het om dit te doen nie. Daar is ongelukkig geen toekoms vir ons blankes meer in die land met ons korrupte, kommunistiese en rassistiese Regering nie. Ons is nou weer terug in APARTHEID net op ‘n baie erger vlak.

Althes ·

Dis ñ baie mooi land. Ons hoort hier. Ek laat my nie verjaag uit my land of my werk nie

Althes ·

SA se jonger boere is in groot aanvraag oorsee. SA se boere het streke in Afrika suksesvol bewerk met gewasse en vee.
Dis net die regering en sekere politieke partye wat nie die volle waarde erken van ons boere nie. Hul ook boonop nie bystaan in droogte en peste nie.
Dis ñ skande.

Realis Thailand ·

Daar is baie geleenthede oorsee ,selfs sonder veel finansies.
Boere wie hier in Thailand kom boer kan hulle skatryk boer as hulle reg boer
Ek ondervind dit hier as ek na die buitelandse boere hier kyk en hier is geen misdaad en rassisme nie.

Di ·

Hierdie korrupte regering gaan die gevolge dra wanneer daar nie meer kos is nie – Glo my hulle eie mense gaan die meeste daaronder ly. Kyk maar na Zimbabwe – ons is amper daar

christo ·

Met al die onsekerheid in die landbousektor maak dit sin vir jong boere om elders in Afrika oor te begin. Niemand wil alles verloor indien die plase onteien word nie. Natuurlik sal die bestes vir die ANC politici gaan. Hoe anders?
Voedselsekerheid is ook daarmee heen, net soos in Zimbabwe. Solank die ANC en sy trawante se pense vol is, maak die res van die land se inwoners nie saak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.