Jongste verdagtes in burgemeester se moord in hof

Moses Maluleke, burgemeester van die Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit in Limpopo. (Foto: Facebook/Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit)

Altesaam vier mense is al met die moord op Moses Maluleke, burgemeester van die Collins Chabane-munisipaliteit in Limpopo, en die gepoogde moord op sy seun verbind.

Die twee verdagtes, wat Vrydag in hegtenis geneem is vir hul beweerde betrokkenheid by die saak, het Maandag in die Malamulele-landdroshof verskyn.

Die jongste inhegtenisnemings kom weke nadat twee ander verdagtes in verband met Maluleke se moord in hegtenis geneem is.

Avhatakali Isaac Mudau en Wisani Baloyi staan nou tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die mans se saak is tot 25 Augustus uitgestel sodat Baloyi ʼn regsverteenwoordiger kan kry.

“Albei beskuldigde sal in aanhouding bly tot dan.”

Daar is na bewering in Julie vanjaar by Maluleke en sy 18-jarige seun se woning ingebreek en albei is glo geskiet nadat hulle nie gehoor gegee het aan die vermeende inbrekers se eise nie.

Maluleke is op die toneel dood verklaar terwyl sy seun na ʼn nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem is.

Shumani Nemadodzi en Avhatakali Mulaudzi, die ander twee verdagtes in die saak, het reeds by verskeie geleenthede in die hof verskyn. Die twee het egter hul borgtogaansoeke laat vaar en hul saak is tot 19 September uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.