Kaapse kraanwater wat na grond proe ‘steeds veilig’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Stad Kaapstad het inwoners Donderdag daarvan verseker dat kraanwater wat “soos grond” proe, steeds veilig is om te drink.

Dít nadat ’n verandering aan die reuk en smaak van die kraanwater deur inwoners in die sentrale en suidelike gebiede van die Moederstad bespeur is.

Die metro sê nou die verandering in die smaak van die kraanwater word toegeskryf aan geosmin in die rou watervoorsiening vanaf die Theewaterskloofdam.

Dit beïnvloed tans die smaak en reuk van die water wat vanaf die Faure- en Blackheath-watersuiweringsaanlegte aan verskeie gebiede oor die hele Kaapstad verskaf word. Die metro wil egter inwoners gerusstel dat dié water steeds aan SANS241-standaarde voldoen.

“Dit moet beklemtoon word dat geosmin geen bedreiging vir menslike gesondheid inhou nie. Dit is ’n natuurlike organiese verbinding en is verantwoordelik vir die aardse smaak van beet en die geur wat in die lug voorkom wanneer dit ná ’n droë tydperk reën,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid.

Badroodien wys verder daarop dat die verbinding veral gedurende tydperke van warm weer in water voorkom en dat selfs klein konsentrasies van ’n paar dele per triljoen deur die mens geproe kan word.

Die munisipaliteit sê hy behandel tans die water met ’n verpoeierde geaktiveerde koolstof om die effek van die geosmin te verminder. Dit kan egter ’n rukkie neem vir die smaak en reuk van die kraanwater om te normaliseer.

Die situasie word monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DieKriek ·

Water kan nie proe nie; dit het nie n tong nie. Proe is n werkwoord.

SlinkseKoljander ·

Ja en ons glo elke woord wat hulle vir ons se, gaan koop maar jou water eerder by PnP

Deon ·

Dit is juis die probleem, waarom moet mense 2 keer vir dieselfde ding betaal?

Pietertjie ·

Solank dit nie te veel na riool proe of ruik nie. Soos die strandmere en riviere in die omgewing…

Lee101 ·

Haha DieKriek was duidelik nie skool toe nie. Almal kan lees dat gese word dat die water proe vir mense soos grond. Die water word nie as n mens beskryf nie hoor. Gaan gerus en lees weer.

Deon ·

Badroodin, wys ons hoe jy van daardie water drink wat uit n kraan uit kom, by n persoon van die publiek wat n probleem met sy water het… Is die doel die koolstof nie om “gif en onsuiwerhede” uit te trek nie? In die laaste paragraaf herken julle die water is nie normaal nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.