Kaapse LUR vir onderwys bedank

Debbie Schäfer het as Kaapse LUR bedank. (Foto: Facebook / Premier Alan Winde)

Die Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, het Woensdag uit haar pos bedank.

Luidens ’n verklaring het Schäfer, wat die afgelope agt jaar in dié pos gedien het, ʼn werkgeleentheid in die regsektor in die Verenigde Koninkryk aanvaar. Sy sal die departement amptelik op 15 Mei verlaat.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sê veranderinge aan die provinsiale kabinet sal Vrydag ná “deeglike oorweging” aangekondig word.

Schäfer is die afgelope 20 jaar al in die politiek, waartydens sy in al drie sfere van die regering gedien het. “Ek glo ek het ʼn waardevolle bydrae in elk van dié sfere gelewer.”

Oor haar tydperk as LUR vir onderwys glo Schäfer dat sy dié departement beter agterlaat as toe dit destyds aan haar toevertrou is.

“Ek is trots op dít wat ons saam bereik het.”

Schäfer sê sy is nou gereed om uit die openbare oog te tree en is opgewonde om by vriende en familielede in die VK aan te sluit.

Hoewel sy haar rol as LUR prysgee, beplan Schäfer nie om uit die DA te bedank nie.

“Ek bly toegewyd aan die DA en beplan nie om my lidmaatskap te beëindig nie. Ek bly ook steeds van mening dat die DA die enigste hoop is om Suid-Afrika van die koers waarop die land tans is te red, en die enigste party wat die enorme potensiaal wat ons [Suid-Afrika] het, kan besef.”

Sy het die voormalige Kaapse premier Helen Zille bedank dat sy haar met die verantwoordelikheid as LUR toevertrou het, asook premier Alan Winde vir sy leierskap en ondersteuning.

“’n Nuwe LUR vir onderwys sal die geleentheid hê om op die goeie werk van ons span voort te bou, en verandering te bewerkstellig met sy of haar eie benadering en idees.”

‘Haar resultate spreek van self’

Winde het Schäfer vir haar uitstekende diens bedank – veral aan die leerders van die Wes-Kaapse provinsie.

“Enigiemand wat Debbie ken, weet dat sy ’n sterk en volhardende leier is wat elke dag hard veg om ’n goed bestuurde, gehalte-gefokusde onderwysstelsel in die Wes-Kaap te verseker.

“Haar resultate spreek van self. Die Wes-Kaap het die hoogste baccalaureus-slaagsyfer in die land, en ons het ons hoogste retensiekoers nóg bereik,” het Winde Donderdag in ʼn verklaring oor Schäfer se bedanking gesê.

Hy het Schäfer ook geprys vir haar betrokkenheid by die stigting van die eerste skole-evalueringsowerheid in die land.

“Hierdie entiteit verskaf ’n belangrike, onafhanklike toesigfunksie oor die gehalte van onderwys by ons skole om te verseker dat ons altyd na die beste streef.

“Sy is toegewyd aan die ondersteuning van arm skole, met 61% van skole in die Wes-Kaap wat nou geen-fooi-skole is. Dit sluit die bykomende bystand aan kwintiel 4- en 5-skole in om geen-fooi-skole te word.”

Volgens Winde het Schäfer ook volhard in haar proaktiewe optrede om toegang tot gehalte-onderrig tydens die Covid-19-pandemie te verseker. Dít sluit die voeding van behoeftige leerders gedurende die inperkingstyd in.

“Onder haar leierskap het ons aansienlik in e-leer belê en innovasie omarm om te verseker dat ons onderwysstelsel saam met die tyd beweeg. En ten spyte van begrotingsbeperkings het ons voortgegaan om baie nuwe skole en klaskamers te bou om aan die behoeftes van ons groeiende bevolking te voldoen.”

Winde sê die Wes-Kaapse regering sal Schäfer se skerp aandag aan detail en haar onwrikbare toewyding aan hul gedeelde waardes mis.

“Ek is vol vertroue dat sy ʼn groot sukses van haar nuwe geleentheid sal maak.”

Winde het nie aangedui wie Schäfer moontlik gaan opvolg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Bly vir haar – So baie verlaat hierdie Sodom en Gomorra. Dink nie daar is nog ‘n land soos SA wat so ten gronde gegaan het nie. Verval in ‘n absolute kriminele hool en word regeer word deur die mees onbevoegde en korrupte spul

Samuel ·

Dankie aan Debbie Schäfer vir haar toegewydheid aan die onderwys. Alle voorspoed vir die pad vorentoe.

JohanR ·

Sy was ‘n baie goeie LUR. Hoop wie haar vervang is net soe goed. Dankie tog Lesufi het in Gauteng gebly en nie in die Kaap, of ons sou hom miskien gekry het op ‘n stadium!

Nici ·

Eks dankbaar dat sy vertrek. Ek hoop dat iemand met Christelike waardes haar sal vervang. Sy was op die verkeerde pad mbt tot o.a. haar steun om gender dysphoria as ‘n goeie aanvaarbare alternatief te sien eerder as ‘n kondisie wat behandeling nodig het.

Jaco ·

Ek hoop sy kan in die VK se politiek betrokke raak en dan agiteer dat die VK politieke asiel gee aan onderdrukte wit mense en kleurlinge van SA. Die 2 stelle reëls in SA en die slegte behandeling raak al hoe erger. Dreigemente van radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding gaan ook later veel meer as net dreigemente word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.