Kaper doodgeskiet wat drank help roof

Die vermoedelik gesteelde alkohol is sowat R1,7 miljoen werd. (Foto: SAPS)

’n Kaper is die afgelope naweek in ’n heen-en-weer-skietery met die polisie dood nadat beamptes verskeie verdagtes betrap het waar hulle vermoedelik gesteelde alkohol van ’n gekaapte vragmotor afgelaai het.

Die voorval het Saterdagmiddag by ’n sakeperseel in Windvogel in Gqeberha plaasgevind.

Volgens die polisie is die bestuurder van ’n vragmotor Saterdag om 15:15 in Struanweg ontvoer en sy voertuig gekaap toe hy stadiger gery het om oor ’n spoedhobbel te gaan. ’n Grys Volkswagen Polo het hom verbygesteek, voor hom stilgehou en ’n passasier het uitgespring en ’n vuurwapen op die vragmotorbestuurder gerig. Hy is uit die vragmotor gedwing, in die Polo gelaai en ’n ruk later in Motherwell afgelaai.

Ongeveer ’n uur later het die polisie se honde-eenheid in Gqeberha en die polisie in Gelvandale inligting oor die kaping opgevolg en verskeie verdagtes by die perseel in Windvogel aangetref. Hulle was besig om drank van sowat R1,7 miljoen uit die gekaapte vragmotor te laai.

“Toe die verdagtes die polisievoertuie opmerk, het hulle uitmekaargespat en te voet die omliggende bosse ingevlug terwyl hulle op polisiebeamptes losgebrand het. Die polisie het teruggevuur en een verdagte is doodgeskiet,” het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

“Nog 16 verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisiehonde Bentley en Max het die digte bosse deursoek en Max het nog ’n verdagte tussen die riete opgespoor. Die oorlede verdagte, ongeveer 30 jaar oud, se identiteit is onbekend.”

Naidu sê ’n toestel wat selfoonseine versper, selfone en klere wat aan die verdagtes behoort, is op die toeel gevind.

Die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) sal ’n geregtelike doodsondersoek doen, terwyl die polisie op Bethalsdorp ’n saak van die besit van vermoedelik gesteelde goedere ondersoek.

Die polisie in Algoapark ondersoek die kaping.

“Die verdagtes, tussen 16 en 35 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn,” het Naidu gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Amelia ·

En as vragmotor bestuur besluit om nie te stop of stadiger te ry nie en hul bv stamp en een van die is dood is dit manslag self moord maar die kriminele het ook nie genade nie hoop as hy afrdraand by hoppel kry en vw stop weer voor hom hy hom sal help met n stootjie

Jr ·

En so gaan ons aan en aan in hierdie wettelose, opgekneukte land

Lillian ·

Ek sou nie gestop het as ek drywer was nie, al gesien hoe vinnig daai rower en sy makkers sou gee pad het as daai trok op hulle afpyl!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.