Kapsie stroom in teen waterlisensies

(Foto: TLU SA/Facebook)

TLU SA sê meer as 2 000 mense het in die twee dae voordat kommentaar oor die omstrede voorgestelde konsepregulasies vir die toekenning van waterlisensies gesluit het, deur die organisasie se platforms hulle afkeer hieroor geopper. Die organisasie het die kommentaar na die relevante adres gestuur self ook amptelike kommentaar ingedien.

Maroela Media het vroeër berig die departement van waterwese en sanitasie (DWS) het op 19 Mei voorgestelde konsepregulasies vir die toekenning van waterlisensies in die Staatskoerant gepubliseer. Een van die vereistes was dat die lisensies vir landbou en bosbou toegeken moet word aan entiteite wat tussen 25% en 75% swart aandeelhouding het.

“Ons wil elke persoon wat hieroor kommentaar gelewer het, bedank,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die instroom van afkerende kommentaar bevestig dat die departement en regering se kortsigtige planne tot nadeel van voedselvoorsiening sal wees. Ons is dankbaar dat verbruikers die korrekte prosedures gevolg het om inspraak te lewer oor iets wat ons almal sal beïnvloed. Dit is die enigste manier hoe ons gaan bydra om die regering se ideologiese planne te kortwiek.”

In die amptelike kommentaar het TLU SA kommer uitgespreek oor die konsepregulasies en verskeie implikasies van die implementering daarvan uitgewys.

  • Die veranderinge druis in teen ʼn persoon se grondwetlike reg om te besluit waar en hoe hulle besigheid doen.
  • Die gebruik van water is van kardinale belang om voedsel te produseer.
  • Kommersiële boere produseer voedsel vir ongeveer 70% van verstedelikte Suid-Afrikaners.
  • Die dekmantel van werkvoorsiening is ʼn leuen wat net ʼn bitter klein persentasie mense tot ʼn mate kan bevoordeel.
  • Markkragte het altyd die finale sê in die sukses van die ekonomie. ʼn Sterk ekonomie kan slegs volhoubaar bestaan indien ekonomiese beginsels bo ʼn ideologiese aanslag gevolg word.

“TLU SA verwerp die konsepregulasies,” sê Van Zyl. “Dit is duidelik oorhaastig en met ʼn spesifieke ideologie in gedagte saamgestel. Dit hou geen voordeel vir Suid-Afrika in nie.”

Raskwotas vir water: AfriForum dien kommentaar in

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook omvattende kommentaar op die omstrede konsepregulasies oor die watergebruiklisensies ingedien.

Die vernaamste verandering wat hierdie beoogde wysigings aan waterwetgewing in die vooruitsig stel, is die vereiste dat ’n aansoeker vir ’n watergebruikslisensie tot soveel as 75% swart eienaarskap sal benodig.

“AfriForum se grootste bekommernis is verskeie bepalings wat dui op Senzo Mchunu, die minister van water en sanitasie, se voorneme om regulasies uit te vaardig wat teenstrydig is met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000),” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die poging om vereistes wat deur die Nasionale Waterwet vir waterlisensieaansoeke gestel word te omseil en onregmatige vereistes ten opsigte van raskwotas in te voer.

“Hoewel sekere elemente van die hersiene konsepregulasies nodig en prysenswaardig is, soos die doelwit om die waterlisensieaansoekproses te bespoedig, bevat dit egter ’n magdom foute, teenstrydighede en onregmatige bepalings,” voeg De Vaal by. “Dit wissel van eenvoudige spelfoute en foutiewe kruisverwysings, wat ten beste sekere bepalings betekenisloos of verwarrend maak, tot onredelike vereistes soos streng spertye waaraan aansoekers moet voldoen, terwyl stelselstilstand (system downtime) die departement van water en sanitasie toelaat om van spertye af te wyk.”

AfriForum het vroeër reeds ’n versoek aan die minister gerig om die hersiene konsepregulasies terug te trek, maar dit het egter op dowe ore geval.

“Met die indiening van kommentaar vervul AfriForum steeds ’n noodsaaklike rol in die wetgewende proses, omdat elke tekortkoming van die konsepregulasies in besonderhede uitgewys en op rekord geplaas word, wat die minister nou in ag moet neem voordat ’n hersiene weergawe daarvan weer bekend gemaak kan word. Die hoop bly steeds dat die konsepregulasies in geheel geskrap word en dat die minister op ’n skoon bladsy sal begin, juis omdat die huidige konsepregulasies deurspek is van probleme.”

Indien die minister en sy departement sou voortgaan met die omstrede regulasies sal AfriForum verdere remedies tot sy beskikking oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kommentaar ·

Wat is dit met die mense. Wil hulle wragtagwaar alles onder hulle vaandel hê om te vernietig?

Amelia ·

net nog n manier om boere van plase af te kry en vir our people op n silver skik bord te gee

SjN ·

Niks moet mos werk nie, spits jul eerder toe op die riool wat tans drinkbare water besoedel.

Jeanette ·

Ja Amelia dis presies net so, maar my vraag is om wat mee te maak, hulle het nie kennis van boerdery nie ag en binnkort word alles afgebreek, duere word vir vuurmaak hout gebruik ens ens ens

Harley Davidson ·

Hoeveel wette en regulasies oor ras kwota sisteme is daar in hierdie land en hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.