Katlego Maboe terug op die kassie

Katlego Maboe. (Foto: verskaf)

Die akteur en aanbieder Katlego Maboe sal Maandag 8 Augustus na The Expresso Morning Show se bank terugkeer om weer die leisels as aanbieder op te tel.

Aantygings van huishoudelike geweld teen hom het Maboe in 2020 gedwing om vir eers die aanbiederspos te ontruim. Verskeie OUTsurance-advertensies waarin hy verskyn het, is ook gestaak.

Ná ’n uitgerekte regsproses is Maboe in Januarie vanjaar vrygespreek van die klagte teen hom.

Hy sal met sy terugkeer na die gewilde kletsprogram ’n ernstige gesprek met Graeme Richards oor die afgelope twee jaar se gebeure en persoonlike groei voer.

“Dit is werklik moeilik om te verwoord wat ek tans voel – om terug te keer na die plek wat ek ’n dekade lank huis genoem het,” het Maboe vertel.

“Ek is gevul met soveel dankbaarheid vir almal wat my deur hierdie reis ondersteun en bemoedig het. Ek sien uit daarna om weer die geleentheid te kry om ’n ongelooflike span by te staan in die skep van ’n inspirerende program.”

Hoewel die terugkeer senutergend vir Maboe is, is hy kinderlik opgewonde daaroor.

“Ek hoop dat mense op die ou einde trots sal wees.”

Patience Stevens, die uitvoerende hoof van Cardova TV wat die program vervaardig, is opgewonde om Maboe opnuut te verwelkom.

“Gesinsgeweld is ’n ernstige probleem in ons samelewing en Cardova TV as onderneming is veral gekant daarteen. Ons is verlig dat die regsproses sy gang gegaan het en dat Katlego homself teen die beweringe kon verdedig. Hy het ’n seldsame talent en ons is gelukkig om hom terug te kan verwelkom.”

  • The Expresso Morning Show word elke weeksdag tussen 06:00 en 09:00 op S3 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.