Kenners help vooraf om Twee Oseane veiliger te maak

Die 2018 Twee Oseane-ultramarathon. Foto: Phando Jikelo/ANA

Kenners wat deelnemers aan die gewilde Old Mutual Twee Oseane-ultramarathon en die halfmarathon vóór die wedloop van wenke voorsien, het navorsing gepubliseer waarin hulle aantoon dié wenke het gehelp om lewensbedreigende noodgevalle met 64% te verminder.

Dié studie, ʼn eerste van sy soort, is gelei deur prof. Martin Schwellnus van die Universiteit van Pretoria se Instituut van Sport, Oefeninggeneeskunde en Leefstyl (SEMLI), die Universiteit van Kaapstad, en prof. Wayne Derman van die Mediese Navorsingsraad se Biostatistiekeenheid van die Universiteit Stellenbosch.

Hulle het vier jaar lank na die mediese voorvalle gekyk wat tydens die Twee Oseane, in die 56 km- én in die 21 km-kategorie, voorgekom het. Daarna het hulle, voordat die marathons begin het, ʼn aanlyn-intervensie met die deelnemers gedoen, weer vir ʼn tydperk van vier jaar, sodat die data met mekaar vergelyk kon word.

Die 2018 Twee Oseane-ultramarathon. Foto: Phando Jikelo/ANA

Uiteindelik kon hulle inligting van meer as 153 000 mense insamel, volgens die studie wat in die vaktydskrif British Journal of Sports Medicine gepubliseer is. Die studie het van ʼn aanlyn- mediese siftingstoets gebruik gemaak. Buiten die lewensbedreigende noodgevalle wat met 64% afgeneem het, deur van die toets gebruik te maak, het ander beserings met 29% afgeneem.

Dr. Jill Borresen, verbonde aan SEMLI, verduidelik die vraelys word aan deelnemers gestuur wanneer hulle inskryf, tussen twee en ses maande voor die wedloop. Die vraelys is verpligtend, omdat die organiseerders dit nodig het vir mediese steun op die dag. Om deel te wees van die studie moet deelnemers toestemming gee, en meer as 80% het dit gedoen.

Mense wat in ʼn hoërisikogroep of ʼn baie hoë risikogroep geval het, het ʼn opvoedkundige intervensie-program ontvang nadat hul antwoorde op die vraelyste bestudeer is.

Die 2018 Twee Oseane-ultramarathon. Foto: Phando Jikelo/ANA

Schwellnus, wat gereeld in die mediese tente by sportgeleenthede werk, het gesê: “Mediese noodgevalle by massa-sportgeleenthede is nie bloot onskadelike gebeurtenisse nie, maar beduidende en ernstige voorvalle wat meer gereeld gebeur as wat dit moet.”

Die risiko vir so iets om te gebeur, insluitende die dood, hou verband met ekstrinsieke faktore, soos omgewingstres, die wedloopafstand en intrinsieke faktore soos ouderdom. Onderliggende toestande soos hartsiekte en diabetes kan ook bydra. Maar so iets kan ook gebeur indien mense oefen.

Borresen het gesê mense word nie afgekeur of geweier om aan die wedloop deel te neem nie. Hulle ontvang net praktiese wenke oor hoe om te oefen, raad oor sekere mediese toestande, en die moontlike risiko’s wanneer hulle oefen en aan kompetisies deelneem. Mense kan ook na hulle dokter verwys word.

Die 2018 Twee Oseane-ultramarathon. Foto: Phando Jikelo/ANA

Volgens die studie en uit vorige navorsing blyk dit dat indien daar sowat 50 000 deelnemers is, daar sowat elke twee tot drie jaar ʼn skielike sterfte sal wees. Daar sal sowat 25 deelnemers elke jaar wees met ernstige komplikasies wat gespesialiseerde behandeling en/of hospitalisasie sal benodig, en sowat ʼn duisend wat mediese behandeling sal moet kry.

Dit is dié syfers wat die kenners nou aansienlik laat afneem het. Die resultate het die internasionale gemeenskap so beïndruk dat organiseerders van fietswedrenne en driekamp dit nou by hulle registrasieproses wil insluit.

Vanjaar se Old Mutual Twee Oseane-wedloop vind op 20 April plaas en die pretdraf op 19 April. Belangstellendes kan nog registreer tot 18 Maart.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.