Kêrel in hof ná ma, seuntjie se dood

Freddie Stapelberg

Freddie Stapelberg het Maandag in die Palmridge-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Vir die familie van Nadine Terblanche en haar negejarige seuntjie, Ruandré, wat glo deur hul tuinier vermoor is, was dit Maandag ʼn skrale troos dat ʼn tweede verdagte in hegtenis geneem is.

Nog erger was dat hul geliefde dogter se kêrel in die beskuldigdebank ingeskuif het en daarvan beskuldig word dat hý haar moord beplan het.

Die staat voer aan Freddie Stapelberg (34) het die moord op Terblanche en Ruandré verlede jaar beplan. Hy het Maandag vir die eerste keer in die landdroshof in Palmridge verskyn.

Nadine en Ruandré is op 27 November in hul huis in Randhart, Alberton, vermoor.

Op dieselfde dag is hul tuinwerker, Pardon Danhire (37), in hegtenis geneem en van die moorde aangekla. Hy was glo in die huis toe Stapelberg daar aangekom het.

Nadine Terblanche en haar seun, Ruandré (Foto verskaf deur die familie)

Destyds het lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, bevestig dat Stapelberg met sy aankoms glo deur Danhire met ʼn byl aangeval is.

Stapelberg kon glo toe die aandag van ʼn veiligheidswag trek wat vinnig gereageer en Danhire in hegtenis geneem het. By nadere ondersoek is Terblanche en Ruandré se liggame in die huis aangetref. Ma en seun is op die toneel dood verklaar.

Freddie Stapelberg

Freddie Stapelberg het Maandag in die Palmridge-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Stapelberg, wat sedert Terblanche se dood uitgerekte en emosionele huldeblyke op sosiale media geplaas het, het Maandag op die oog af emosieloos in die hof voorgekom.

Hy was geklee in ʼn langbroek en blou-en-wit T-hemp. Hy het nie rondgekyk na sy eie óf Terblanche se familie wat in die openbare galery gesit het nie. Terblanche se familie kon uitgeken word aan die wit-en-swart T-hemde met haar en Ruandré se foto’s daarop gedruk.

Luidens die klagstaat staan Stapelberg tereg op twee klagte van moord met voorbedagte rade. Hy en Danhire se verhore sal voorlopig saamgevoeg word ná Stapelberg sy borgtogaansoek afgehandel het. Danhire het reeds met sy vorige verskynings in die hof sy aansoek om borgtog laat vaar.

Hy word tans in die Boksburg-gevangenis aangehou. Die staat het Maandag aansoek gedoen dat Stapelberg daarom in Johannesburg aangehou moet word.

Stapelberg sal tot volgende maand daar in aanhouding bly en dan eers aansoek doen om borgtog.

Freddie Stapelberg

Carol Terblanche (in die wit hemp), Nadine se ma buite die hof. (Isabel Venter / Maroela Media)

Buite die hof het Ryno Meyer, die Terblanche-familie se woordvoerder, gesê die familie is oorweldig.

“Ons sal nie vrede hê tot hierdie saak afgehandel is nie,” sê hy.

Carol Terblanche, Nadine se ma, was buite die hof baie emosioneel en is deur familie en vriende omhels.

Pearl Mazibuko van Kathorus Parliament, ʼn drukgroep teen geslagsgeweld, het die polisie geloof vir hul goeie ondersoekwerk.

“Ons het uit die staanspoor geweet iets is nie lekker met die saak nie en ons is bly daar is vordering,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Soveelste moord wat gepleeg of dan beplan word deur ‘n sogenaamde geliefde. As jy nie gelukkig is nie, beweeg aan en los daai persoon. Seker weer een of ander finansiele motief agter die moord. Absoluut skokkend!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Naaste familie is altyd verdagte nommer Een. Vra maar vir inspekteur Stephan Derrick.

ES ·

@Misky of dalk ‘n affair met iemand anders… dis so hartseer en verskriklik.

Nettie ·

Neeeeeee!!!!!!! Maak nie saak wat het wie gedoen nie, moord is NIE die antwoord nie! En veral nie op ‘n onskuldige KIND nie! En boonop is ‘n klein dogtertjie nou sonder ‘n mamma! Wat besiel mense om dit aan kinders te doen?!!

Lettie ·

Was dit nou ‘n sameswering tot moord of was Danhire ‘n getuie? Wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.