Kgetlengrivier-munisipaliteit soek sy waterwerke terug

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) staan ʼn dringende hofaansoek van die Kgetlengrivier-munisipaliteit teen om die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens terug te neem.

Die aansoek is verlede week in die hooggeregshof in Mahikeng aanhangig gemaak en Woensdag tot 11 Mei uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig (KBI) wat inwoners uit Koster, Derby en Swartruggens insluit, het op 30 Maart die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster én Swartruggens aan Pionier Dienstemaatskappy oorhandig.

Dit volg nadat die inwoners sowat ʼn week tevore weer die water- en rioolwerke teruggeneem het nadat dit vir ʼn kort tydperk deur die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit bestuur is.

Die munisipaliteit en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) het egter versuim om soos ooreengekom die uitstaande geld vir die bestuur van die werke sedert Desember verlede jaar te betaal. Die inwoners het beheer oor die werke teruggeneem ingevolge die betalingsooreenkoms wat weens wanbetaling verval het.

Carel van Heerden, KBI-verteenwoordiger, sê die hof het die saak uitgestel sodat die aansoek op dieselfde dag aangehoor kan word as die aansoek om minagting wat deur die KBI en AfriForum ingestel word.

Volgens Van Heerden was die onlangse oorhandiging van die werke aan die munisipaliteit se diensverskaffer katastrofies. Dit het binne ʼn week só agteruitgegaan dat die terugkeer tot die benarde situasie wat tot die hofaansoek gelei het, onvermydelik sou wees.

Hy sê inwoners het geen ander keuse gehad as om die water- en rioolaanleg terug te neem nie.

“Die munisipaliteit skarrel nou verbete rond om die bestuur van die werke terug te neem. Ons hou voet by stuk dat die werke nie aan die munisipaliteit teruggegee kan word as geen geskikte diensverskaffer aangestel is om die volhoubare funksionering van die water- en rioolwerke te verseker nie,” sê Johan Kruger, direkteur van Pionier Dienstemaatskappy.

Die KBI het Pionier vroeër aangestel om die dienslewering te bestuur en te behartig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel het die KBI met die opstel van die hofstukke gehelp en ondersteun die KBI met die regsproses.

Kruger sê daar word intussen hard gewerk aan kort-, medium- én langtermynoplossings om te verseker dat die aanlegte behoorlik en tot voordeel van die gemeenskap bestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genis ·

Mooi so stuit die skurke… wil geld he, maar doen niks vir dit nie…. Geen bestuurs vernuf nie, wil net betaling ontvang…

B-Man ·

Sal Pionier dalk nie ook sake by SABS kan in beheer neem nie?

Johan ·

Daar is n swerm privaat toets labs, ondersteun hulle gerus…die SABS…eish…. Terloops, dit is presies hoe meeste lande werk, die UK het die BSI wat slegs standaarde onderhou (soos ons TCs by SANS), toetswerk word hoofsaaklik deur UKAS (SANAS) goedgekeurde labs gedoen, onafhanklik van die BSI. Ek werk by so SANAS goedgekeurde Lab. ons lewer puik diens met toetswerk wat jy kan vertrou.

Aai ·

Nou dat alles weer werk deur bloed en sweet wil hulle weer oorvat kry vir julle roer hulle.

Kokerboom ·

Die toekoms is dat die gemeenskappe oral SELF beheer neem. Trek die streep in die sand en roei die parasiete uit!

Lourens CFG ·

Stem saam, dan kry mens meer “diens” uit jou geld uit.

Pieter J ·

Hulle wil in beheer van die geld wees. Dienslewering is net ń bysaak. Hierdie klomp goed het geen skaamte nie.

Pieter ·

Julle ANC narre kannie eers kar best nie wat nog van die riool werke.

Elize ·

Hulle gaan seker van die Kubaanse ingenieurs soontoe stuur. Hoekom nie net erken hulle wil nie werk nie.

anko ·

Is mos makliker om belastingbetalers te melk om vir die kuba ingenieurs te betaal as wat hulle die werklose ingenieurs hier sal aanstel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.