Kinderbeskerming in diepe water ná moontlike begrotingskortings

(Argieffoto: pixabay)

Die toekoms was nog nooit donkerder nie, en dit is van toepassing op die kwesbaarstes in ons land: kinders, vroue, gestremde en ouer persone.

Dit is die reaksie van Henda van der Merwe, direkteur van die Christelik Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, ʼn kinder- en gesinsorganisasie in Pretoria, op die nuus vroeër vandeesmaand dat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling hul begroting met meer as R50 miljoen wil besnoei. Die geld sou aanvanklik gebruik word om dwelmmisbruik in die provinsie te bekamp en mense met gestremdhede te help.

Van der Merwe voer ook aan dat die departement se kommerwekkende begroting direk teenstrydig is met ʼn hele paar wette asook die Suid-Afrikaanse Grondwet.

“Ons waarsku al jare – dekades – dat nie-regerings organisasies (NRO) se taak groter word, maar die beskikbare middele kleiner.

“Die onlangse skokkende aankondiging van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Midrand waarin hul nuwe beleidsrigting aangekondig is, tesame met ʼn aansienlike inkorting van befondsing, het getoon dat die situasie meer as kommerwekkend is, dit is skreiend onaanvaarbaar.”

Van der Merwe sê nog ʼn tameletjie van die jongste plan is dat die departement van maatskaplike ontwikkeling met die departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewing in Gauteng wil saamsmelt.

Sy meen die samesmelting met ʼn ander departement beteken dat broodnodige geld weggeneem word van kinders, persone met gestremdhede, ouer mense en armes.

“Daar is ʼn duidelike wegbeweeg van maatskaplike dienste af na gemeenskapsontwikkeling, wat beteken dat die kwesbare groepe wat deur ons bedien word, eenkant toe geskuif word, en aan hul lot oorgelaat sal word wanneer die geld heeltemal opdroog.”

Hierdie aankondigings het talle welsynsorganisasies steeds woedend te midde van Mbali Hlophe, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, se versekering dat haar departement steeds verbind bly om NRO’s te ondersteun en nie enige begrotings sal besnoei nie.

Van der Merwe het steeds talle vrae oor die departement se aankondigings. “Wat het geword van die kritiese verantwoordelikheid van die staat ten opsigte van persone wat hulself nie kan help nie, en dus aangewese is op die menigte NRO’s wat van befondsing afhanklik is om hul werk te kan doen?

“Die impak van hierdie kortings – die CMR Gauteng-Oos en hul kantore staar ʼn 61% korting in die gesig – beteken dat waar ons in die laaste jaar 28 676 persone met professionele maatskaplikewerkdienste kon bystaan, ons nou minder as 10 000 sal kan bystaan.

“As ʼn kinderbeskermingsorganisasie wil ons beklemtoon dat persone meer as ooit nie ʼn heenkome gaan hê nie. Kinders wat gemolesteer word, mishandel word, verwaarloos word, honger gaan slaap … wie gaan vir hulle instaan?

“Dis staat het eenvoudig nie die kapasiteit om voorkomings- en statutêre dienste te lewer nie, en dít terwyl die betrokke organisasies reeds vir soveel dekades bewys het hulle lewer dienste van hoogstaande gehalte, word hulle eenvoudig eenkant toe geskuif.”

Volgens Van der Merwe het die CMR ʼn ondertekende kontrakte met die departement wat tot in 2024 geldig is, maar die departement het nou ʼn enorme korting vir 2023 se begroting aangekondig.

“Wat van die bestaande kontrakte? Kan en gaan die regering voort om so onwettig optree? Hoe kon hierdie proses geskied sonder dat daar deeglike konsultasie met NRO’s gedoen is?”

Sy glo die departement behoort ondersteuning te verleen, maar wat nou gebeur is ʼn sentralisering van magte, wat ʼn vergryp is.

“Dit voel of die departement al meer en meer magte vir hulself toe-eien, maar verloën in werklikheid hul eie mandaat”.

CMR Gauteng-Oos het in 1932 as die “armsorgraad” ontstaan om tydens die groot droogte en die griepepidemie armoede te bekamp. Die Gauteng-Oos-tak het 13 satellietkantore regoor Pretoria en hanteer jaarliks amper 30 000 gevalle. Die organisasie is geregistreer as ʼn organisasie sonder winsbejag (NPO 035-918), ʼn geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie, asook ʼn publieke weldaadsorganisasie. Die organisasie het ook 55 personeellede op wie die enorme besnoeiing ʼn impak gaan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

melaney ·

Mens wonder waar gaan dit alles eindig. Daar is al klaar baie instansies wat geen finansieële hulp vanaf die staat ontvang nie. Hulle hulp kom uit jan publiek se sak. Maar daardie geld is nou ook besig om skaars te word. Ons kan nie meer byhou nie.

Hendrik ·

Sodanige besluite word geneem vanwee die geen waarde tov die menselewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.