Kinders gered ná tragiese gyselaarsdrama

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Twee dogtertjies, drie en sewe jaar oud, is ongedeerd gevind ná hul pa hulle en hul ma gyselaar gehou het.

Sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê die polisie is Maandagaand omstreeks 18:00 na ʼn huis in Mandela Park ontbied ná berigte van ʼn gyselaarsdrama ontvang is.

“ʼn 57-jarige man het homself, sy 43-jarige vrou en hul twee dogtertjies in die huis toegesluit. Die polisie se gyselaaronderhandelingspan is ook na die toneel ontplooi saam met die taktiese reaksie-eenheid.”

Die gyselaarsdrama het deurnag tot Dinsdagoggend omstreeks 07:30 voortgeduur toe die polisie twee geweerskote gehoor het.

“Lede van die spesiale taakmag het die huis betree en die twee dogtertjies gered. In ʼn tweede vertrek het hulle die man en vrou in ʼn plas bloed aangetref.”

Paramedici is ontbied en die man en vrou het aan hul beserings beswyk. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die Phuthaditjhaba-polisie ondersoek ʼn saak van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die omstandighede wat tot die voorval gelei het, word ondersoek.

Die name van die oorledenes word nog nie bekendgemaak nie, omdat die familie nog nie in kennis gestel is nie en hulle nog nie formeel uitgeken is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Goeiste…. dit is ‘n baie hartsverskeurende storie. Hoe verskriklik vir die Polisie wat buite magteloos moes staan toe die 2 skoote afgaan. Ek kan myself indink dat die Ma vreeslik moes gepleit het vir haar lewe en die van die kindertjies. Gewoonlik werk dit anders uit. Sterkte aan die familie en vriende wat agter bly en die pad vorentoe moet neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.