Kinnear-moord: Ondersoek geëis oor moontlike polisiebetrokkenheid

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) om ondersoek in te stel oor moontlike polisiebetrokkenheid by die moord op lt.kol. Charl Kinnear.

Dit volg ná berigte dat Kinnear op die randjie was om ʼn “vuurwapens aan bendes”-sindikaat oop te vlek by die polisie se Sentrale Vuurwapenregister (SVR).

“As mens dié berigte kan glo, sou Kinnear waarskynlik grootskaalse korrupsie binne die SVR oopgevlek het,” sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie. “Die DA glo Opod het ʼn belangrike rol te speel om die verrotting binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens te onthul wat moontlik tot Kinnear se afgryslike moord gelei het. Opod kan nie bloot net met arms gevou sit en toelaat dat mense, wat moontlik hierdie daad beplan het, steeds in die SAPD werksaam is nie.”

Whitfield het gesê korrupsie in die polisie is een van die grootste bedreigings vir nasionale sekuriteit en dié polisiebeamptes moet ontbloot en vervolg word.

“Eerbare polisiebeamptes, soos Kinnear, wat korrupsie wil uitroei, moet beskerm word, sodat diegene met misdadige doelwitte en verbintenisse met die kriminele onderwêreld, uit die stelsel verwyder kan word.”

Whitfield sê die SAPD is al jare lank gehul in verskeie skandale van wangedrag, menseregteskendings, seksuele geweld en korrupsie. “Dit het alles tot luide publieke protes gelei en ʼn algemene gebrek aan vertroue in die polisie. Opod het ʼn verpligting om sy oorsig van die SAPD uit te oefen en seker te maak dat die polisie se integriteit en openbare vertroue in die polisie herstel word.”

Kinnear, ’n lid van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid en een van die land se topspeurders, is op 18 September koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en deur paramedici op die toneel dood verklaar. Kinnear het meer as 30 jaar se ervaring as polisiebeampte gehad en het oor die jare verskeie hoëprofielsake ondersoek wat figure uit die bende-onderwêreld soos Nafiz Modack, Colin “Donkie” Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé ingesluit het.

Klik hier om alle berigte oor Charl Kinnear te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frikkels ·

Dis net eenvoudig ondenkbaar waartoe hierdie ongeletterde skelm kaders nog alles in staat kan wees!

Herpiet ·

Ag seblief Opod is soos die MRK, almal korrupte spul en handjies gevou. Selfs die valke is polities gedrewe..
Sterkte aan die enkele eerbare polisie en speurders daar buite. Loer gereeld oor julle skouers..
Ons Lewe in ‘n bende paradys.

Pieter ·

Sal dit kan aanneem as die waarheid.

By die Departement van Water en Sanitasie werk dit ook so. Indien jy ‘n waterbesoedelaar vasvat kan jy maar teenkanting, diskriminasie en intimidasie van jou kollegas en senior bestuur verwag. Jy trap op tone en krap in iemand se sak. Politieke inmenging is daar altyd. Dus indien die Departement sê hulle gaan die Vaalrivier skoonmaak is dit net lippetaal en die vang van klein visse.

Casper ·

Waar daar ‘n rokie trek brand daar ‘n vuurtjie lui die spreekwoord.Ek her iewers gelees hy was besig met ‘n ondersoek na die doen en late van twee brigadiere.Die verdagte se pa is ‘n afgetrede polisieman maar ek glo nie hy was betrokke nie.Ek het reeds voorheen bespiegel dat dit ‘n sluipmoord was,nou moet die ondersoekspan uitvind wie het wie gehuur.

marius ·

En hoed se prioriteit is om in die strate rond te loop en drankwinkel eienaars te dreig . Daar is geen groter hoop narre saam in die heelal nie .

Sarel ·

Voorafgebeure het reeds daarop gedui
Polisieoffisier ontvsng Doodsdreigdmente maar word nie beskerm nie. Cele verduidelik

Hendrik ·

Waar wil jy nou n beter ‘werk’ kry as in die polisie se hub van georganiseerde misdaad. Almal weet dat misdadigers die polisie infiltreer en dan ‘wettig’ hul misdrywe voortsit.

Casper ·

Let.Kolonel Kinnear en sy gesin was onder polisie beskerming.Hoekom is dit gestaak en wie het die opdrag gegee dat die beskerming opgeskort moet word aangesien sy lewe werklik bedreig was.Toe word hy toevallig net na die opskorting vermoor.Die offisier wat die opskortingsbevel gegee het miet verduidelik want Kinnear se bloed is op sy hande.Dit will vir my voorkom of hierdie moord van binne die polisie beplan was want dinge het vir iemand warm geword.

pompies ·

En hoed se ons moet vuurwapens inhandig omdat lisensies verval het. Daardie wapens gaan direk na die bendes en moordenaars toe om ons met ons eie wapens te moor. hulle het n baie mooi plan gemaak om verniet wapens in die hande te kry, dit is ook n form van korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.