Klag gelê oor dreigemente van EFF-staking

Julius Malema. Argieffoto: @EFFSouthAfrica/Twitter

TLU SA het Vrydag ʼn strafregtelike klag teen die leier van die EFF, Julius Malema, en die party in terme van die Wet op Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite (Wet 33 van 2004) aanhangig gemaak.

Die klag hou verband met die EFF se dreigemente aan klein ondernemings en fabrieke om op 20 Maart vir die beplande landwye staking te sluit, anders loop hulle die risiko om geplunder te word.

“Die EFF se dreigemente is niks anders as ʼn voorneme van terreur en dus hoogverraad nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

TLU SA het verder ʼn skrywe aan die regering gerig om uit te klaar hoe die staat beoog om die situasie te stabiliseer en die lewe en besittings van diegene wat nie aan die EFF se protesaksies deelneem nie, teen sabotasie te beskerm.

“Sou die regering nie voldoende optree om die veiligheid van mense, eiendom en die ekonomie tydens hierdie aksie te beskerm nie, is dit eenvoudig ʼn grondwetlike pligsversuim.

“Na ons mening moes die regering rééds ingegryp en die EFF en Malema tot orde geroep het. Dit is onaanvaarbaar dat Malema en sy partylede enigsins toegelaat kan word om steeds in die parlement te sit terwyl hul hulself openlik skuldig maak aan terreurdade.”

Van Zyl sê dit is die EFF se grondwetlike reg om protes aan te teken, mits sodanige aksie geen ander persoon, bates of die ekonomiese proses enigsins bedreig nie. “Maar in hierdie geval is daar egter blatante dreigemente teen diegene wat bereid is om verantwoordelik op te tree en op die dag te gaan werk.”

Die regering sal by gebrek aan optrede om dit te verhoed – terwyl hulle deeglik bewus was van die bedreiging – aanspreeklik gehou word vir alle skade berokken, meen Van Zyl.

“TLU SA-lede sal wel voortgaan met hul werksaamhede om sodoende ʼn bydrae te maak om die land se inwoners te voed. Dit is ons verantwoordelikheid wat ons deur al die jare getrou nakom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Dankie TLUSA vir jul leiding.
EFF Chief-in-Command het eensydiglik besluit dat Suid-Afrika se naam verander moet word na “Azania”.
Die lakmoestoets geld op 20 Maart 2023 om te bepaal wat presies in die ruggraat steek van president Ramaphosa, die ANC-leierskap, die SAPD, alle politieke partye, alle besighede, godsdiensgroepe, en alle burgers wat streef vir geregtigheid. Het hierdie groepe die ruggraat van ‘n muis om op te staan teen enige misdade wat die EFF op 20 Maart gaan pleeg? SA-demokrasie balanseer op ‘n mespunt.

annie ·

Die ANC is seker uiters trots op sy voormalige Jeugliga. Het Malema al ooit een dag gewerk… As moeilikheidmaak tot ‘n beroep verklaar word, is hy bobaas.

Shakespeare ·

Die ergste van alles is dat die EFF duidelik gerugsteun word deur die ANC.

Theuns ·

ANC se swak leiertjie sal NOOIT teen sy vriendjie iets sê of doen nie. Hy word seker in die bed gehelp as 78 jarige ! . Oumense hoort in die ouetehuis nie in die parlement nie! Ramaposa is ‘n grap en clown.. die rooi hemde regeer RSA .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.