Klag van mensehandel nou teen ‘babasmous’

Sonia Leithgöb (Foto: Skermskoot uit AfriForum-video)

Altesaam 39 aanklagte van mensehandel is by die klagstaat teen die vermeende babasmous Letitia van den Berg gevoeg.

Sonia Leithgöb het in Mei verlede jaar klagte teen Van den Berg gelê nadat sy na bewering as ʼn private maatskaplike werker ʼn wanvoorstelling aan Leithgöb en haar man gemaak het rakende die aanneming van ʼn baba.

Sy is aanvanklik slegs van bedrog en diefstal aangekla.

Leithgöb het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in November verlede jaar genader omdat sy bekommerd was oor ʼn gebrek aan kommunikasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die saak.

Met die hulp van die eenheid het dit daartoe gelei dat die polisie nog tientalle slagoffers van die beweerde bedrogspul geïdentifiseer het. Die aanklagte van mensehandel het daarna gevolg.

Van den Berg het na bewering dienste as ʼn aannemings- maatskaplike werker voorgehou, en voornemende aanneemouers wat nie in staat is om kinders te hê nie, vir verskeie dienste in die proses om ʼn kind aan te neem, geld gevra.

Daar word beweer dat die beskuldigde dit gedoen het terwyl daar in werklikheid geen kind was om aan te neem of ʼn kind aan die hoopvolle ouers aangebied is nie, ten spyte daarvan dat die biologiese moeder nie toestemming vir aanneming gegee het nie.

Dié oortredings het glo in 2014 plaasgevind.

In Mei verlede jaar het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, die ondersoekbeampte in ʼn brief geadviseer oor die ernstige aard van die beweerde oortredings.

“Ons is bekommerd dat meer babas verkoop is onder soortgelyke omstandighede soos wat die klaer moes verduur. Die algemeenheid van sulke optrede wek wel ernstige oorweging dat die verdagte se beweerde gedrag vergelyk kan word met en binne die bestek van mensehandel kan val,” het Nel geskryf.

“Verder lyk dit of die verdagte met haar slinkse manipulasie voortgaan weens die kwesbaarheid van kinderlose mense. Beslissende ondersoek en optrede deur die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is noodsaaklik om, wat blyk te wees, ʼn gewoontebedrieër of handelaar van babas te hanteer.”

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê Van den Berg het die kwesbaarheid van mans en vroue wat graag ma en pa genoem wil word uitgebuit.

“Daar word beweer dat die voornemende ouers foto’s gewys is van ʼn kind wat hulle gehoop en bid het hulle eendag sal aanneem. Intussen is dieselfde kind aan ʼn ander egpaar belowe, aan wie dieselfde foto’s gewys is en wat uiteindelik daardie kind aangeneem het,” sê Bateman.

Bateman sê daar word beweer dat Van den Berg in minstens een geval aan ʼn egpaar gesê het dat die biologiese ma en kind tydens die bevalling gesterf het.

“Voornemende ouers sou babakamers voorberei en klere vir hul aanneemkinders koop, net om deur Van den Berg in die steek gelaat te word met leuens en verdere misleiding. Hierdie ongelooflike wreedheid het Van den Berg honderde duisende rande aan fooie besorg.”

Die privaatvervolgingseenheid bedank die polisie en die NVG dat hulle hierdie saak die aandag gegee het wat dit verdien.

“Die eenheid sal voortgaan om dit te monitor om te verseker dat geregtigheid geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.