Klein partye se stertvere gepluk in parlementêre vergadering

Argieffoto

Klein partye met vier of minder setels se stertvere is behoorlik gepluk op die eerste vergadering van die nuut saamgestelde parlement se programkomitee.

Onder voorsitterskap van die nuutverkose speaker, Thandi Modise, het sake aansienlik vlotter verloop as onder haar voorganger.

Met die begin van enige nuwe parlementêre sessie van vyf jaar is dit fassinerend om die wisselwerking tussen die nuwe rolspelers dop te hou, en die eerste vergadering van die programkomitee was hierin geen uitsondering nie.

Opmerklik was die groter aantal afgevaardigdes van die EFF (wat met 19 LP’s gegroei het) en die kleiner hoeveelheid afgevaardigdes van die ANC (wat met 19 setels gedaal het). Ook opmerklik was die gedrag van die nuwe en die kleiner partye in die parlement.

Wat die nuwe partye betref, was daar ’n verskeidenheid maniere om die nuwe uitdagings te pak. Die kontras was die sterkste waarneembaar tussen Al-Jamaah se manier en Good se manier, toe die spreektyd waarop die kleiner partye geregtig sal wees in parlementêre debatte ter sprake gekom het.

Die Good-LP Shaun August het die kat versigtig uit die boom gekyk, niks gesê nie en ander die bakleiwerk laat doen. Daarteenoor het Al -Jamaah (’n fundamentalistiese Moslemparty met net een setel) se leier, Ganief Hendricks, die ANC uitgeskel toe besluit is die klein partye (met minder as vyf setels) kry elkeen net drie minute spreektyd eerder as die vier minute waarvoor hulle gevra het.

Die parlementêre amptenare het vinnig aan Hendricks uitgewys dat sy party, as hulle spreektyd moes kry op grond van die hoeveelheid stemme wat hulle in die verkiesing getrek het, presies elf sekondes spreektyd per debat sou kry, so die drie minute is reeds ’n vergunning.

“Welkom in die regte wêreld!”, het ANC-LP’s vir Hendricks getart, maar nog was dit het einde niet. Die speaker, Thandi Modise, het ’n moederlike woord van vermaning aan Hendricks gerig dat konfrontasie nie altyd die beste manier is om die parlement te benader nie, terwyl die EFF se adjunkhoofsweep, mev. Hlengiwe Mkhaliphi, vir die kleiner partye gesê het die manier om meer spreektyd te kry is om beter te vaar in die verkiesing, soos die EFF gedoen het – maar dit verg harde werk.

Die ACDP se hoofsweep, Steve Swart, het probeer om meer spreektyd vir sy party te kry terwyl die UDM-LP Nqabayomzi Kwankwa probeer het om ’n ekstra sweep-posisie vir sy party te beding – ’n posisie wat hom sal toeval, met die gepaardgaande verhoging in vergoeding.

Sowel Swart as Kwankwa se pogings was egter onsuksesvol op ’n dag dat die kleiner partye op die harde manier geleer is dat grootte saak maak in die politiek.

Die uiteinde van die saak is dat die ANC 217 minute van die 454 minute vir die staatsrede-debat kry, die DA 81 minute, die EFF 42 minute, die IVP 12 minute, die VF Plus nege minute, die kleiner partye drie minute elk en die afgevaardigdes van die Nasionale Raad van Provinsies die oorblywende uur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Donderstorm ·

Die van jou party het net hierdie hoeveelheid tyd en daardie party net soveel tyd omte oraat is snert almal is verkies deur n demokratiese stem so dis moet alnal eweveel tyd he om hul se te se.

Andreas ·

Dis nie eens amper demokrasie nie, dis pleinweg hare kloof. Ek kon dit sterker gestel het.

Niks nuut nie ·

Weereens ‘n miskenning van minderhede…tipies Afrika ‘demokrasie’. Die hoofman kry mos die vrouens, die beeste en die bier. En die res sit met die uitskot.

Spartugus ·

Meerdeheids outokratiese “poof” besoedel die water meer as minderheids demokrasie, en so kry meer as wat nodig maagpyn.

CD ·

Jammer, maar dit is ongelukkig die feit van demokrasie. Die meerderheid regeer. Die meerderheid het die grootste en langste stem om te praat, want hulle doen dit namens die meerderheid stemgeregtigdes. Hoe kan jy dink dat ‘n verteenwoordiger wat bv. 10 000 mense verteenwoordig, dieselfde tyd moet hê as iemand wat 1 000 000 verteenwoordig? Dis nie lekker om deel van die minderheid te wees nie, maar aanvaar maar die feite vir wat dit is en word groot. As jou party die meerderheid gehad het sou jy wou hê hul moet die meeste kan sê.

jaco ·

die ACDP kan die tyd wat hulle nie in mag praat nie, eerder gebruik om te kyk na wat die Bybel oor geldgierigheid sê: “Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n nald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te kom”
Hulle LP’s, nes AL die ander van ander politieke partye, kry R1.3 ,miljoen per jaar, n reusagtige petroltoelae, n luukse motor, n vet onthaaltoelae en hulle kan verniet vlieg. Hulle is ALMAL daar NET vir die geld en die lekker lewe.
net die petroltoelae alleen beteken dat hulle nie die impak van gedurige verhogings van die petrolprys voel nie
Net die onthaaltoelae beteken hulle hoef nooit te voel hoe dit is wanneer kospryse gedurig styg nie.

Jannie van Niekerk ·

Aangesien die speaker nou soveel mag het, moet sy ook beslis dat indien daar LP’s is wat die parlement se tyd mors met “hooligan” gedrag soos wat die rooirok brigade dit in die verlede gedoen het, moet daardie tyd wat gemors word pro-rata van daardie parlementslede se salaris verhaal word. Dit moet ook geld wanneer hulle deur die parlementere polisie verwyder word vir onaanvare gedrag. As hulle nie teenwoordig is nie, is hulle mos nie by die werk nie. As ek nie werk nie, verdien ek nie salaris nie. Dit moet ook vir die parlementslede geld. Terloops die pragtige Afrikaanse woord vir “hooligans” is straatboewe. (Al het hulle ‘n universiteitsgraad, Dr Max du Preez!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.