Kleuter beseer toe leeu deur heining gryp

Een van die Weltevrede-leeuplaas se leeuwyfies wat ‘n kleuter beetgekry het. (Foto: Margaritha Hulscher)

ʼn Kleutermeisie ontvang hospitaalbehandeling nadat ʼn leeu by die Weltevrede-leeuplaas tussen Sasolburg en Heilbron haar gister deur ʼn draad beetgekry het.

Die kleuter en haar ouers was deel van ʼn begeleide toer toe die voorval plaasgevind het.

“Dit was terrible. ʼn Helse skok. Die kind was vol bloed. Al die ander kinders het begin huil,” het Claudia Hulscher, wat saam met haar ma, Margaritha, en dogtertjie Zeva (5) op dieselfde toer was, aan Maroela Media gesê.

Hulscher het gesê ʼn toergids het die groep by ʼn kamp met ʼn leeuwelpie ingeneem, toe die gids die besoekers gewaarsku het dat daar ‘n leeu in die kamp agter hulle is. “Nie tien sekondes later nie het die leeu opgespring,” het Hulscher gesê.

Die leeu het die man glo deur die heining beetgekry en die leeuwyfie het sy dogtertjie, glo omtrent drie jaar oud, aan die kop gegryp.

“Die leeu wou nie die kind se kop laat gaan nie. Die arme ma het ingespring, die leeu met die vuis geslaan en geskreeu ‘los my kind’,” het Hulscher gesê.

Hulscher het vertel nog een van die besoekers het gehelp om die leeu te verwilder.

“Dit was ʼn ongeluk. ʼn Mens skrik so groot dat jy half stomgeslaan is. Die skok tref jou ná die tyd. Jy vergeet nie wat jy sien nie,” het sy gesê.

Charlene van Wyk, bestuurder van die leeuplaas, het gesê hulle betreur die voorval.

Sy het gesê daar is oral op die perseel waarskuwingsborde wat besoekers maan dat die diere wild is, wat mense vra om versigtig te wees en watter reëls om op die plaas te volg. Toergidse wat besoekers op begeleide staptogte deur die kampe neem, waarsku besoekers ook deurlopend om versigtig te wees en veiligheidsmaatreëls te gehoorsaam. Besoekers word onder meer gemaan om minstens ʼn meter weg van die kampheinings te staan en nie te hardloop of te skree nie.

Dit is die tweede keer die afgelope week dat ʼn besoeker aan die plaas beseer word nadat ʼn leeu hulle beetgekry het. Woensdag is ʼn man beseer toe hy voor ʼn heining gebuk het sodat iemand ʼn foto van hom voor die leeukamp kan neem.

Volgens Van Wyk het die persoon verskeie krapmerke opgedoen en is hy self na ʼn dokter toe om behandeling te ontvang.

Oor gister se voorval het Van Wyk het gesê hulle wens die kind spoedige beterskap toe en sal haar gesin sover moontlik bystaan. Volgens haar is die kind steeds in die hospitaal, waar sy onder meer vir tekens van infeksie dopgehou word.

“Ons bid vir die klein meisietjie,” het Van Wyk aan Maroela Media gesê.

Die plaas het nege leeus, waaronder twee jong welpies.

  • RED: Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Swak veiligheid en verkeerde heiningmateriaal – siviele eise!

M'Lady ·

Hierdie leeu plase is n absolute onding. Moet dit asseblief nie besoek nie. Die uiteinde vir hierdie leeus is “canned hunting.”

Nienie ·

Ek stem saam. Leeus hoort nie op plase nie. Dis n walglike bedryf.

Penellope Jones ·

100% korrek. Hierdie leeus hoort in die wilde natuur, nie in ‘n kampie waar mense hulle kan bekyk nie.
Dis totaal onnatuurlik vir hulle om in sulke kampies geparadeer word vir die mensdom…..

HARTSEER ·

Bitter jammer vir die kleintjie hoop sy word gou gesond. Moenie die diere en plase die skuld altyd gee nie. Ons as mens wil nie hoor nie. Wil altyd daai ekstra tree nader gee of daai WOW gevoel kry of kyk hoever kan ons die dier treiter. Kon net alle reëls en regulasies na dan sal sulke ongelukke nie gebeur nie.

Sandy ·

Stem 100% saam. Dit is omdat mens altyd die beste foto wil he, dat mens nie besef dat jy te naby is nie. Die pa moes gedink het dat dit gevaarlik is om naby te staan en nogals met jou rug na hulle te staan. Ek het net respek vir wilde diere en tree daarvolgens op. Liewer bangjan as dooie jan se ek altyd. Hoe dit ookal sy, ek wens die klein dogtertjie voorspoed en ‘n volkome herstel toe.

Dina de Jager ·

Die voorval van Woensdag was my seun en kleinseun …dit was nie lekker nie ons is natuurliefhebbers .en gereelde besoekers aan die Pilanesberge en Kruger Wildtuin…het ook nie met die storie na die media gehardloop nie Kwaad vir die Leeu glad nie hy is n predator. KOMMERWEKKEND is die feit dat hy met gemak altwee sy pote deur die heining kon druk……toe hy opspring my seun het nie gesit nie hy is n goeie 2meter lank..maar die meeste is hy het sy kop deur daai draad gedruk…en vandag is ons dankbaar vir die uitkoms

humor ·

Die standaard van die heining getuig iets van vinnig geld maak.

Onnodig ·

Daar is veronderstel om n dubbele draad te wees indien besoekers toegelaat word. Die een aan die binnekant van die kamp moet elektisiteit he en die een aan besoekerskant nie. m a w n runway tussen die heinings.

humor ·

Daar moet n deeglike versperring wees wat verhoed dat mense nie te na aan die heining kom nie. Om mense gedurig op te pas en te waarsku se tog mos duidelik daar is n tekort aan veiligheid. Doen weg met hierdie onding om diere in gevangeskap te hou.

Alida ·

Mense leer nie. Bly weg of gaan kyk leeus in die Kruger in n natuurlike omgewing. Geen simpatie.

Frik Müller ·

Die persoon wat verlede Woensdag gegryp is, is vriende van ons. Hy het ook `n kind op die heup gehad en die leeu het vir die kind gegaan maar die pa kondie kind betyds weggooi. Pa het lelike merke op rug en nek. Die leeuplaas is absoluut onverantwoordelik en pataties om nie verdere veiligheidsmaatreëls te getref het na Woensdag se voorval nie. Kennisgewings is bloot nie voldoende nie. Hierdie voorvalle behoort in diepte ondersoek te word.

Cherokee ·

Julle is nou almal soos ‘n ma wat nie haar kind oppas nie en as die kind sy arm in ‘n vervoerband steek word die bestuur beskuldig. Die toergids waarsku almal baie duidelik, maar julle praat agter mekaar aan.

cassie ·

EK ken die persoon wat woensdag aangeval is moet daar nie twee heinings wees volgens wet nie personeel het ook nie werklik gehelp nie

Ellisras ·

Kan iemand asb die heining wet vir ons aanhaal. Almal is nou kenners van leeus en heining.

Cherokee ·

Moet nie bewys dat julle opsweepbaar is nie. Julle mag van mekaar verskil.

Meisie ·

Alle simpatie vir ouers en hulle dogtertjie. Maar regtig mense as julle voel julle veiligheid is regtig in so gedrang om leeuplaas te besoek hkm dan gaan. Mense wat die leeuplaas besoek moet mos nou regtig vir hulle self kan dink, dis nie n speel maat en mens vat mos nie kanse nie. Dis werklik sleg om die leeuplaas so sleg te maak en te se, en dit weens mense nie wil hoor en wil lees en wil luister nie!!!!!!!!!

Frik Müller ·

Die leeuplaas adverteer oral dat jy moet kom om die leeus te sien, daarom is dit hulle eerste verantwoordelikheid om te sorg dat mense en kinders wat die plaas besoek nie in gevaar is nie.

Lizelda ·

Ek wou altyd op n olifant se rug gery het, dis dan so n prag dier? Tot ek meer naglees het oor die wreedheid wat met dit gepaard gaan om daardie olifante mak te kry. Ek weet die leeus is dalk nie mak nie maar is dit werklik nodig dat sulke plekke bestaan vir die mensdom se genot en plesier? Wilde diere hoort in die natuur nie in parke en dieretuine nie.

Cherokee ·

Wilde diere behoort in die natuur en nie in parke nie, sê jy. Ek sal so graag met jou wou saamstem Lizelda, maar as jy selfs parke uitsluit as behuising vir wilde diere, maar net die natuur as reg beskou, waar op aarde sal daar nog wilde diere wees? Waar is nog wildernisse waar wilde diere regeer sonder om aan iemand te behoort? Min daarvan is oor want die mens neem alles oor. Durban is ‘n tipiese voorbeeld, ons bou waar die ape woon, dryf hulle uit, en as die ape oor di heinings klim en vrugte pluk, word hulle as indringers beskou. Dìt terwyl òns ingedring het. Wat jy sê is uiters debatteerbaar, want dit mag wees dat leeuboerdery die voortbestaan van leeus verseker.

Nikki ·

Ek is bitter jammer vir die kind wat met haar gebeur het. Ek moet se dat ons was self al daar en dat dit was baie aangenaam en baie veilig ten alle tye. Ons het my dogter se troue ook daar gehad en alles was perfek. Die veiligheid daar is fantasties. Mense moet luister na wat hulle se dan sal sulke goed nie gebeur nie.

WonderingWillows ·

Die dogtertjie is familie van my en die hele storie is nie gedeel nie. Moenie als glo wat julle lees nie. Sy is steeds in die hospitaal met ń gekraakde skedel. Sy is onder streng observasie.

Frik Müller ·

So jammer om dit te hoor. Sterkte en gebede vir hulle. Dit is net so erg dat mense so gevoelloos kan wees om byvoorbeeld te sê dat hulle nie simpatie het nie.

Tienie ·

Wanneer gaan die mensdom leer en verstaan dat wilde diere uiters gevaarlik is.

Ek is sprakeloos

J ·

Enige wilde dier is onvoorspelbaar. Moennie enige wilde oderskat nie. Instink om te jag en dood te byt.

AndrewL ·

Dit is ‘n tragedie wat gebeur het, maar ‘n leeu bly ‘n roofdier, en kinders moet beter beskerm word deur ouers.

Amadea ·

AndrewL. Dit is verseker ‘n tragedie en ‘n frats. Ek is die dogtertjie se juffrou en ek weet vir ‘n feit dat haar ouers geensins onverantwoordelik was, reëls gebreek het of soos sommige uiters onsensitiewe oningeligtr kommentaar beweer:”die coolste foto” wou geneem het nie. Hierdie gesin het ook agting en respek vir wilde diere en glo my, hulle beskerm hulle dogtertjie met hulle lewens en is fantastiese ouers. As jy in hulle skoene sou staan vannaand, vra jouself af hoe jy jou kind teen ‘n frats aanval van ‘n leeu sou beskerm en red. Kom ons los onnodige kritiek en lukraake kommentaar en kom ons vertrou eerder almal saam dat God haar en hulle gesin in Sy hande dra, die regte feite het en dat Sy genade genoeg is vir hulle en vir ons!

Heksie ·

Wilde diere sal altyd ‘n wilde instink hê, wanneer gaan die mensdom dit leer?
Ek is jammer dat die dogtertjie seergekry het, maar dit is nie die leeu se skuld nie!

MW ·

Dieretuin klink maar die beter opsie vir kinders, die diere word tenminste op ‘n veilige afstand gehou

Piesang ·

Onvoldoende heining tussen die diere en die mense. Indien die heining lyk soos op die foto, nog erger! Ek hoop die slagoffers stel ‘n helse eis in teen die plaas! Hulle is seker tans vinnig besig om ‘n veilige heining op te sit…

Attie. ·

Solank as wat mense die leeuplase besoek, solank soos mense leeus wil skiet, solank sal daar groot geld gemaak word uit leeus. God het vir die mens vee gegee om in hokke te sit, nie wilde diere nie. Leeus allermins. Mense, bly weg van die geldmakers, hulle soek net jou geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.