Kleuterskooleienaar aangekla van aanranding

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Twee sake van aanranding is teen ʼn kleuterskooleienaar op Bronkhorstspruit, Gauteng, aanhangig gemaak nadat video’s waarin sy kinders aanrand aan die lig gekom het.

Die ma’s van die kinders in die video het die klagte teen Elsa Geyser, eienaar van die Little Royal’s-kleuterskool op Bronkhorstspruit, aanhangig gemaak. Hulle het ook hul kinders reeds uit die skool gehaal.

Die ma’s het op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat en erken dat dit nie die enigste klagte van beweerde aanranding teen Geyser is nie.

“Ek blameer myself dat ek my baba by daardie kleuterskool gelos het en nie vroeër vermoed het dat iets nie pluis is daar nie,” vertel die een ma.

In die video’s, wat Maroela Media onder oë gehad het, slaan Geyser die een kind hard en herhaaldelik met ʼn potlood op die hand. In die video lyk dit asof sy die kind tugtig omdat sy met ʼn oranje kleurpotlood in plaas van ʼn rooi kleurpotlood ingekleur het.

Dit is duidelik hoorbaar in die video hoe Geyser dan vir die kind sê dat sy haar “volgende keer met ʼn liniaal op die vingers gaan slaan”.

In ʼn ander video word twee peuters buite by ʼn klimraam met ʼn houtplank geslaan, omdat hulle glo speelgoed uit die klaskamer gevat het.

Die ma van die vyfjarige meisie in die eerste video, het aan Maroela Media gesê haar kind is sedert verlede jaar in die skool. Haar tweejarige boetie is vanjaar na dieselfde kleuterskool en is ook glo deur Geyser aangerand. Hy kan in die tweede video gesien word.

“My dogter het nooit ʼn woord oor die aanrandings gerep nie. Sy het nou na die tyd vir my vertel dat Geyser die kinders glo gedreig het dat sy hulle nog meer gaan slaan as hulle vir hul ouers vertel dat hulle geslaan word,” vertel die ma.

Die ma sê haar dogter het wel soms gekla dat haar vingers pyn.

“Maar sy het stilgebly as ek haar vra waarom haar vingers pyn. Sy sou dan net sê dat sy dit by die kleuterskool seergemaak het terwyl sy gespeel het.”

Haar seuntjie sukkel glo om in die aande te slaap en was bang om skool toe te gaan.

Die ander seuntjie wat in die tweede video gesien kan word, is net een jaar en vyf maande oud. Sy ma het hom uit die skool gehaal nadat ʼn anonieme bron vir haar die video van die voorval aangestuur het.

“Iets het voor dit al nie reg gevoel nie, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie. As ons in die oggende by die skool gekom het en Geyser was daar, het my baba bang geword en wou dan nie ingaan by die skool nie,” vertel die ma.

Volgens konst. Munyadziwa Ramovha, polisiewoordvoerder, is Geyser Maandag in hegtenis geneem en die volgende dag weer vrygelaat. Sy moet nog in die hof verskyn.

“Die saak word verder ondersoek,” bevestig Ramovha.

Geyser wou nie kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jixy ·

Ek glo in n pakslae op sy tyd, maar dit het limiete. Mens se hande is gemaak om mee te werk, nie om geslaan te word nie. En veral slaan mens geen persoon met n houtplank nie. Ek sou daai skool afgebreek het as ek een van daai mammas was.

GeloofInGodNieMense ·

Met n potlood op d vingers of n plank op d bas is nie slae nie. Dis AANRANDING. Sy kan bitter bly wees dis nie n kind of kleinkinders v my nie.

Harley Davidson ·

Ek het grootgeword met pak slae as ek dit verdien het en ek glo ek is ‘n beter mens vir die rede ,maar om kinders te verneder en te mishandel vir iets soos om met die verkeerde potlood inkleur is onverskoonbaar .

E ·

Rooi en oranje is baie naby mekaar, wie weet dalk is die kind kleurblind? En klein kinders kry nog dinge verkeerd

Kensy ·

Dit behoort wet gewing te wees dat alle dagsorg inrigtings kameras het waarop die ouers kan inteken om te sien wat gaan daar aan!!
Die tegnologie bestaan!
Gebruik dit!

piet ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg. Hopelik is die kleuterskool reeds toegemaak.

Tanniepetoors ·

Ek het groot agting vir mense wat die geduld het om ander se kinders te help opvoed en leer, maar, mishandeling en afdreiging is nie deel van die leerproses nie.

Aanhouer ·

Die ouers wie se kinders mishandel is deur daardie vrou, hehoort haar ook siviel aan te kla. Rook haar!!

Jakes ·

Hierdie tipe van gedrag is waarskynlk net die oortjies van die seekoei by sekere ander kleuterskole. Mense wat nie geskik is om hierdie werk te doen nie maak na willekeur kleuterskole oop om dat dit n lonende besigheid is. Kameras binne en buite die skole moet verpligtend wees sodat ouers ten alle tye kan sien wat daar gebeur.

S ·

“omdat sy met ‘n oranje kleurpotlood in plaas van ‘n rooikleurpotlood ingekleur het”!?!?!?!
Ek hoop die vrou se “skool” (tronk) word toegemaak en sy word NOOIT weer toegelaat om met kinders te werk nie!

GeloofInGodNieMense ·

Arme kinders! Besef die vrou sy werk met die BELANGRIKSTES in God se Koninkryk. Sy kan kinders maak of breek. Hoeveel slegte memories het mens net nie van abusive onnies. Dit bly jou v altyd by.

Wielspore ·

Jare terug in Standard 2 (Gr2) het juffrou die een dag ‘n shatterproof liniaal stukkend op my hande geslaan, so tussen die houe en terwyl sy op my skreeu kon ek nie verstaan waaroor die slae gaan. Na pouse roep sy my weer om verskoning te maak omdat sy my geslaan het, so tussen die trane en ween kon ek nie hoor waaroor sy verskoning gemaak het. Vandag is ek 58 jaar oud en ek weet nou nog nie waaroor ek slae gekry het.

AmY ·

Ek het my Wiskunde huiswerk gedoen op skool, maar was steeds geslaan, want dit was verkeerd gedoen gewees.
Wens ek het by daai geweet dis verkeerd.
Ons is selfs geslaan want ons het oor die lyne ingekleur.
Dis goed dat onderwysers nie vandag meer met hierdie boelie-gedrag wegkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.