Klopjag op groot versekeraars uitgevoer

Die betrokke maatskappye, onder meer Discovery, Old Mutual en Momentum, het vermoedelik die Wet op Mededinging oortree. (Foto: Facebook / Momentum)

Die Mededingingskommissie het Donderdag klopjagte by agt groot versekeringsmaatskappy in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap uitgevoer.

Die kommissie sê in ʼn verklaring hulle het gronde om te vermoed dat die betrokke versekeringsmaatskappye artikel 4(1)(b)(i) van die Mededingingswet oortree het. Dit sluit in om deur samespanning pryse en handelsvoorwaardes vas te stel met betrekking tot aftreeannuïteite en premies vir risikoverwante produkte soos lewensversekeringdekking vir mediese toestande, ongeskiktheid en begrafnisbystandvoordele.

Die agt versekeraars ter sprake is BrightRock Life Limited, Discovery, FMI (afdeling van Bidvest Life Limited), Hollard, Momentum, Old Mutual Insure, Professional Provident Society en die South African National Life Assurance Company (Sanlam).

“Volgens die inligting tot die kommissie se beskikking deel die maatskappye wat ondersoek word, inligting oor premiekoerse vir risikoverwante produkte en fooie vir beleggingsprodukte, wat dit moontlik maak om die pryse van hul bestaande en nuwe versekeringsprodukte aan te pas,” het Sipho Ngwema, hoof van kommunikasie by die kommissie, Donderdag gesê.

“Die soek-en‑beslagleggingsoperasies word gedoen as deel van ’n voortgesette ondersoek wat in Januarie verlede jaar deur die kommissaris [Tembinkosi Bonakele] geïnisieer is.”

Luidens die verklaring is die klopjagte by vyf persele in Gauteng, twee in die Wes-Kaap en een in KwaZulu-Natal uitgevoer. Die kommissie het vroeër gesê hulle sal beslag lê op onder meer dokumente en elektroniese data wat saam met ander inligting ontleed sal word om te bepaal of hierdie versekeraars wel die wet oortree het.

Die betrokke maatskappye wat ondersoek word, werk in die langtermynversekeringsmark. Hulle bied onder meer belegging- en risikoverwante versekeringsprodukte aan.

Kliënte van hierdie maatskappye sluit in individue en korporatiewe polishouers wat dekking soos aftreefondse en groeplewenskemas namens hul werknemers koop.  Ingevolge artikel 48 van die wet is die kommissie gemagtig om persele te betree, deursoek en beslag te lê op enige dokumente wat met die betrokke ondersoek verband hou.

Die kommissie het lasbriewe vir Donderdag se klopjagte deur die hooggeregshowe in Pretoria, Durban en die Wes-Kaap verkry.  Die kommissie sê die klopjagte word uitgevoer met inagneming van die regte van al die geraakte persone.

“Die klopjagte is deel van die roetineproses om bewyse in te samel en ons versoek alle betrokkenes om die ondersoek toe te laat om sy gang te gaan. Die kommissie sal op ’n gepaste stadium die uitslag van die ondersoek bekendmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet 6 ·

Hulle kan gerus alle versekerings maatskapye en mediese fondse ondrsoek.

Kobus ·

Wat van die groot kettingwinkels? Ons as vrbruiker word uitgebuit en al die verhogings is die oorlog in Rusland se skuld.

Di ·

Stem! Ek persoonlik dink dat ons geagte korrupte REGERING agter al hierdie verhogings sit met al die belastings wat hulle orals hef en verhoog.

Waarnemer ·

Ja neh.Ondersoek sommer Checkers en PicknPay en Shoprite en Woolworths ook.

Elize ·

Pluk hulle maanhaartjies uit want is ook lelik ingedoen deur Momentum

VaalDonkie ·

Ek sou meer simpatiek gewees het as hulle my nie wou forseer om die COVID inenting te vat nie.

Cherokee ·

Ou Mutual is op ‘n ander vlak as al die ander. Ek sal verbaas wees as hulle ook skuldig is, want vir Ou Mutual is dit nie nodig nie. Maar anders gesien, die afgelope twee dekades se vervlakking van standaarde, het die lokale Ou Mutual ook beïnvloed.

Filistyn ·

Ag siestog. Pleks konsentreer hulle liewer op regte misdaad.

Oosieoos ·

Alles gaan net om geld. Gee niks om omtrent hul kliënte nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.